Wednesday, 2 April 2014

Kleinbegin

Hierdie keer kuier ek by ons oudste dogter in haar studentewoonstelletjie op Stellenbosch. Ek slaap op 'n divan saam met 'n rottangkoffietafel, 'n TV wat balanseer op twee polistireenblokke wat seker eens op 'n tyd 'n yskas of iets in die boks vasgepak het. Daar is ook 'n boekrak met handboeke, nog ander boeke ook, en bo-op 'n rooi en wit houer met pleisters, haarrekkies, spaarsleutels, penne en 'n likeurglasie met 'n handelsnaam om sy rand.  My handdoek hang oor die deur en ek moet my tas rondskuif om by die kasdeur te kom.


Haar kombuistafel se mees prominente versiering is 'n reusehand wat tydens Varsity Cup uitgedeel word. Op die kombuisrak is 'n versameling breekgoed van sò 'n verskeidenheid en herkoms en met sòveel plekke se name op hulle, dat ek wonder hoe ek my kind dan grootgemaak het! Tot ek onthou dat ons tuis nou nog heerlik gebruik aan 'n Sanlamteelepel en 'n Spiersambreelpoot wat tydens 'n Intervarsity op geheimsinnige wyse in die kar beland het.... 27 jaar gelede toe ek en my man studente was....

Te heerlik kuier ek. Ongekompliseerd. En geniet dit om te sien hoe my kind fluks soggens op is om vir haar moeder water te kook in die mikrogolfoond (studenteketel het pas die gees gegee), sodat daar koffie kan wees.  Sy was haar klere in die bad en hang dit op 'n klererakkie onder die motor se afdak.  Sy kook vir ons hawermout in 'n glasbeker.  Daar is net een groot lepel, waarmee ek vereer word, terwyl sy die teelepel gebruik. 

Laatmiddag sit ons op kombuisstoele wat sy deur Gumtree gekoop het, skuins, voete vasgeskop, op haar oprit.  Ons drink Oddbins uit proeglasies van die een of ander wynskou.  'n Omgekeerde boks is 'n afdraendtafel met die luukse van 'n eksotiese kasie en broodjie. Ma kuier mos hier, dus is daar bederfkos op die spyskaart. Die mes wat ons gebruik, het duidelik al diens gedoen as skroewedraaier, stroopblikoopmaker en stopverfaanwender.

Ek kook vir ons aandete in haar kombuisie. Ons kan nie albei stoofplate gelyk gebruik nie - die krag skop uit. Die orige halfkoppie Thaikerrie word geesdriftig gevries - wanneer Ma vort is, breek die maer weke mos weer aan.

'n Ander oggend, terwyl sy in die klas is, was ek haar kar vir haar. Emmer vir emmer water tap ek by die kombuiswasbakkie en loop gooi dit oor die kar. Afdrooglap doen sy deel in die wasproses.  In my afgesnyde denimkortbroek hou ek my lyf student terwyl ek sopnat word (of dit van waswater is en of dit maar die normale middeljarige warmgloede se sweet is, maak nie saak nie). Die vrede van met vakansie wees en die voorreg om iets so eenvoudig en sonder eise soos karwas te kan doen, is heerlik.

Daardie aand besluit ons haar hare het 'n knip nodig. Weer eens is die enigste beskikbare skêr die een wat rafels, wortellowwe en papiere knip. Sekerlik 'n elektriese koord of twee ook al gesnipper. 

Die oprit is weer die aangewese plek - hierdie keer vir 'n impromptu haarsalon.  Ons giggel vir die verbygaande koppe wat draai en ons petalje aanskou.  Groen badhanddoek om die skouers, terwyl Ma die nat slierte met die veeldoelige skêr bykom.

Sommer gou lyk sy soos 'n nuwe sikspens. Om die waarheid te sê,  sy lyk so mooi, ons gaan sommer uit vir pizza.  Ons ry met die kêrel se kar - ek soos Mev Matriarg op die agterste sitplek.  Dis 'n tweedeurkarretjie en die meganismes waarmee die sitplekke teruggevou word sodat die Matriarg in inklim,  het een of ander tyd gebreek.  Hulle word nou beweeg met behulp van kabelknopers (cable ties).  By die pizzaplek wil ek uitklim, maar die stiplek haak vas.  Ek sit.  Salig op die middel van die agterste sitplek.  Selfs dit is heerlik.  Darem snaaks hoe 'n mens soms kan ontspan wanneer dinge uit jou hande is en jy niks daaraan kan doen of hoe te doen nie.  Op die ou end klim ek tog maar van pure hongerte uit tussen die voorste sitplekke, bo-oor die bestuursitplek, wurgend verby die stuurwiel.  Ons lag lekker en gaan bestel die goedkoopste wyn op die spyskaart.

Hoe heerlik is min goeters.  Minder om te onderhou en minder wat kan wegraak en vuilraak en opgaar.  Ek meen 'n mens het van tyd tot tyd 'n herkalibreer nodig om te sien met hoe min jy eintlik kan klaarkom en saliggelukkig kan wees.



No comments:

Post a Comment