Saturday, 22 February 2014

Na 'n baie warm nag.....

Die Februariehitte vanjaar meng so met my emosies, hormone en energievlakke dat ek aan niks anders as Salvador Dali se horlosies kan dink nie.  Ek kan nie eers behoorlik praat nie.   Kliënte probeer tevergeefs 'n gesprek aanknoop.   Ek uiter die een non sequitur na die ander.  En hoe maak jy dit reg?  Wat sê jy na jy 'n totaal buiteverbandelike tros woorde verby jou mond laat glip het?  Die gesproke woord is een lewensaspek wat maar net nie tweede kanse gun nie.

Seker die dat ek so veilig voel te midde van die woorde wat uit my pen op 'n papier vloei of op die skerm voor my soos rye miere gestalte kry.

As tiener was ek behep met surrealisme.  Terwyl die algemene helde van die tyd Magnum PI,  MacGyver en Bobby Dewing was (wie onthou die aanstryk-middelblaaie van Huisgenoot?), het ek in Ray Bradbury 'n held gevind.  Sy boek 'The Day it Rained Forever' was een van daai aanskakeloomblikke in my bestaan.

Besluit ek toe om sommer 'n bietjie pret met woorde te hê:

Die vrou op die bed maak tam haar oë oop.  Die nag was onuithoudbaar warm en bedompig, soos al die ander nagte die afgelope week.  Haar nagklere klou aan haar vas.  Haar hare plak in taai slierte teen haar wange en nek.  Haar arms en bene jeuk van die sweetspikkeltjies, bedekkend soos 'n nat kors. 'n Dowwe hoofpyn vou homself om haar skedel.  Soos sy begin fokus in die skemer kamer, besef sy dat dinge nie pluis is nie.

Die kasdeure.  Die KASDEURE! 

Aanvanklik sien sy net die openinge bo die kasdeure waardeur die donker spelonk van die binnekant sigbaar is. Sy lig haarself op haar elmboog.  Die kasdeure hang skeef. Ongelowig staar sy.... Die panele hang....soos drapeersels op die grond.  Asof hulle in gordyne verander het. Kasdeurvoue lê gerol en geplooi op die vloer.

Verdwaas sit sy regop.  Bewus van 'n ploep, ploepgeluid vanuit die vensters se rigting.  Sy draai haar gesig na die vierkant lig agter die gordyne.  Dit lyk asof daar water onder die gordyne uitloop.  Reën dit?  Sy stap venster toe en trek die gordyne stadig oop.  Die glas riffel eienaardig voor haar oë, asof dit beweeg.  'n Vinnige asemteug van skrik.  Ja, werklik, dit is so.  Die glas is besig om soos ys te smelt.  In fyn rivier-aartjies vloei dit oor die vensterbank tot op die vloer.  Sy vryf haar vinger daardeur.  'n Lagie gesmelte glas blink op haar vel.  Buite hang die tuinmuur en -hekkie soos 'n pap wasgoedlyn.

Sy draai om.  Vang haar blik in die spieël. 'n Gil.  Haar hand gryp teen haar bors.  Die refleksie wat na haar staar is 'n mengelmoes van kleure en patrone.  'n Termiese beeld.  Hand op die bors en al.  Hoe lank sy na dié onwerklikheid staan en staar, is onbelangrik.

Sy dwaal in die gang af.  Skilderye hang soos vadoeke aan hulle hake.  Die kat kom uit die kombuis gehardloop. soos elke oggend, om sy kos te gebied (soos 'n kat dit doen).  Die vrou leun lighoofdig teen die gangmuur.  Die kat het ook 'n termiese beeld geword.  Sy gepluimde stert die ene bloue en groene.  Pers oë.

Soos 'n slaapwandelaar reik die vrou na die blik waarin die kat se kos gehou word.  Die blik vervorm soos 'n plastiekbakkie met warm sop in 'n mikrogolf.  Na moeite kry sy die deksel af en voer die kat.

'n Gelatenheid spoel meteens oor haar.  'n Mens kan aan enigiets gewoond raak.

Sy steek haar reënbooghand uit na die ketel vir koffie.  Die ketel se handvatsel trek soos 'n stuk warm kougom in 'n lang lus.

Fluit,  fluit my storie is uit.  Sommer 'n bietjie verbeeldingsgimnastiek/-gomlastiek.  As gevolg van die hitte.

En volgens Dali was die inspirasie vir sy smeltende horlosies nie Einstein se Relatiwiteitsteorie nie, maar 'n Camembert wat in die son vergeet is en begin smelt het.   Nou weet ons almal dit sommer ook.



No comments:

Post a Comment