Wednesday, 5 February 2014

Die blou berg moet ek oor....o, die blou berg moet ek oor....

Ons vat ons jongste Kaap toe om te gaan studeer.  Die hartseer lê soos 'n klip in my gees. Die onafwendbaarheid van die lewe wat sy gang moet neem.  Ek lek aan 'n eksistensiële krisis soos 'n hond aan 'n seerplek.

Klim ons in die kar. My kind lyk skielik so broos.  En opgewonde.  Langs haar op die agterste sitplek is 'n perdesaal, 'n saksofoon en haar eie bed se twee kussings.  Die waentjie se pens hang van beddegoed, huisraad, voorraad vir elke gebeurtelikheid waaraan die neurotiese ma kon dink:  Vetkolle op klere.  Keelseer.  Ons het 'n bietjie baklei tydens die inpakkery, want sy wou die Santoku inpak.  My kind weet nie hoe om kos te maak sonder 'n behoorlike mes nie.

By Port Alfred kry ek 'n geniale plan.  Ons gaan hierdie bittersoet reis aanpak met die sterkste medikasie aan die mensdom bekend:  sjokolade. Die toer word sonder enige teëstribbeling tot sjokoladebruintjie-proe verklaar.  En nou wil ek ook net sê dat 'sjokoladebruintjie' 'n besimpelde woord is.  Skuus, maar so graag as wat ek hierdie blog suiwer Afrikaans wil hou, gaan 'choc brownie' maar hier moet doen.  Netnou dink iemand straks ons praat van 'n hawermout- en bruinsuikeraffêretjie.

Die eend op my skouer (ek het mos ‘n aaneenlopende gesprek met Breytenbach se swart eend) kwaakfluister dat die tabberts wat ingepak is vir die naweek alreeds op hulle limiete oor my dye span.  Enige verdere onnodigheid per mond mag moontlik behoorlike longfunksie belemmer. 

Ek klap daai eend dat hy op die medisynesak in die waentjie land.  Dis nie nou die tyd vir ligtelike praatjies nie.  Ons moet die grofgeskut ontplooi.

Root 72 in Port Alfred se brownie kom in 'n kardoessakkie.  Dis hemels.  Dis 'n dikketjie, maar nie 'n blok nie.  Daar's min meel in, baie neute en skerwe sjokolade wat as skatte in die blokkie opduik soos ekstra ekstra ekstras.  En omdat dit (lyk my) omtrent net botter, sjokolade, eiers en neute bevat, is dit bros, maar nie koekierig nie.  Dit smelt in die mond. Ons voel algar onmiddellik beter.

Kenton-on-Sea in met onse trek.  Hou in gedagte dat ons 'n dubbelbed en -matras bo-op die waentjie vasgebind het. Afgerond met twee waterski's waarvan ons die stewels in die Kaap wil laat herstel.  Die hele boksemdaais is met 'n ontsettende lang blou en wit nylontou toegeweef.  Crema in Kenton bedien 'n brownie van Lindtsjokolade.  En nie baie ander byvoegsels wat die aandag van hierdie luukse kan aftrek nie.  Die verkoopsdame maak 'n karamelsjoksousie vir ons warm in 'n blink kastrolletjie.  G'n nikse mikrogolf hier nie.  Die blokkie word verpak in 'n polistireenbakkie met die sousie in sy eie bakkie en 'n blobsie créme fraiche.  Ons dra dit kar toe in 'n plastieksakkie wat soos gevriesde lichi lyk en saggies kraak.  Eet met ons vingers.  Die créme fraiche is aanvanklik 'n effense skok, maar dan raak dit nodig.  Die blokkie is ryk.  Baie ryk.  Dis soos diepdigte fondant. En, soos elke opreggeteelde poedingeter weet, bevat fondant 'n ekstra voordeel:  Jy kan dit 'n halfuur later nog van jou tande aflek.  Hierdie brownie is so.

Ons snak na onse asems toe ons die Rooigety in Port Elizabeth sien.  Soos bloed lê die baai langs ons. Dis neerdrukkend.  Ons benodig sjokolade. Ons parkeer ons trek met moeite voor VovoTelo. Hulle bruintjie is meer koekerig, nogal 'n dik blokkie en die neute is 'n bietjie sag.  Maar:  Dit word saamgestuur in 'n boksie met hulle oulike stempel.  En verpakking tel punte in my boekie.  Ek dink hierdie brownie sal in 'n lieflike biscotti omskep kan word.

Die Watsonias blom somber oranje langs die dubbelpad buite PE.  Ons luister na Queen.  Friends will be friends....My kind lê op haar kussings bo-oor haar saal en staar na die kar se dak.  Ek kyk by die venster uit.  Die veld is groen na al die reën wat ‘n ruk terug geval het.  Tyd vliet onverpoosd verby.  Verby.

By Sao Goncalo's duskant Plett koop ons weer ‘n brownie.  Die grootste een tot dusver.  Ek sou dit dalk meer as ‘n sjokoladekoek beskryf.  ‘n Laag roomkaas is in die beslag ingebak en loop soos ‘n rotsneerlaag deur die koek.  Sjokoladeganache rojaal bo-oor gesmeer.  Ons kry hom in ‘n polistireenbakkie.

Ons halt vir die nag by Ouma op Stilbaai.  Nee dankie vir soetgoed saam met die koffie. 

La Bella net buite Riversdal se brownie die volgende oggend kom saam met instruksies:  maak hom ‘n bietjie warm.  Baie billik geprys ook.  Ons druk hom so flussies in ander Ouma en Oupa se oond.  Baie interessante een hierdie:  Daar’s kaneel in en hy is heerlik swaar en klam en tjok en blok vol neute.  Dus voel mens so ‘n bietjie asof jy vrugtekoek eet. 

Die reis duur voort.  Ons lag vir twee plaashonde agterop ‘n bakkie net buite Heidelberg.  Die een blaf die hele tyd en irriteer duidelik die ander een.  Tot laasgenoemde afhaak en die blaffer ‘n byt aan die oor gee.  Oral langs die pad oefen fietsryers.  Dis mos een van die dae die Argus.

Peregrine Plaasstal in die Houwhoekpas se brownie kom weer in ‘n kardoesie en is donker en luuks en lekker bitter.  Ek bespiegel of hulle dalk suikerstroop oorgooi wanneer die pan uit die oond kom.  Hulle toilette is ook baie mooi met vars Krismisrose.

Dan verskyn Valsbaai.  My hart.  My keel.  Dit voel of my hele wese wil omdraai en teruggaan.  Waarheen teruggaan weet ek eintlik nie.  Ons ry saam met die Saterdagverkeer Stellenbosch binne.   ‘n Nuwe lewensfase breek vir ons almal aan.

Ter nagedagte en ter afsluiting:  Ons laaste proe so met die stil en ingedagte terugry vind ons by Tredici, Swellendam.  ‘n Mooie plek.  En ‘n soete, vertroostende, blokkie smelt-in-die-mond.  Soos ons heel eerste brownie in Port Alfred, is hierdie een vol goeie sjokolade, met min meel en baie neute.  En versiersuiker soos sneeu bo-oor gesif.  En daarby in ‘n netjiese wit boksie.  Soos ‘n kleinood.  Goeie hartmedisyne.






En dan net - die wenner van die proe?  Root 72 s'n,  kop en skouers.  En hy kos byna die helfte van die gemiddelde prys van die ander.


No comments:

Post a Comment