Wednesday, 22 January 2014

My nooi is in 'n nartjie, my Ouma in kaneel

'n Vriend skink nou die aand vir ons 18-jarige 'n glas Pinot Noir.  Hy vra haar wat sy proe.  Oorstelp ontvang hy haar antwoord:  Dit proe of dit te lank gelê het en stowwerig geraak het.  Goeie antwoord!  En wat ruik sy?  Ou perdesaals en dierelywe.  In die kol!

Soos die meeste van ons wat in hierdie tye 'n halfeeu slaan, begin die oë en die ore 'n bietjie oppak.  Brille en kontaklense is al lankal deel van die geselskap, maar die gehoorapparaatjie begin ook al hoe meer sy opwagting maak tussen ons.  Soms dink ek met 'n kloustrofobiese benoudheid aan Ettiene van Heerden se karakter Mario Salviati wat nie kon sien of hoor nie.  Kan jy jou die duisternis en stilte voorstel?

Ek wonder tot hoe 'n mate 'n mens se sintuie skerper raak soos wat jy ander begin verloor.  My reuksintuig is so akuut dat dit my partykeer kortwiek.  'n Slegte reuk kan so prominent tussen my sintuie uittroon dat ek nie behoorlik kan funksioneer nie.

Maar aan die ander kant maak 'n wakker neus nogal 'n kleurvolle wêreld oop vir 'n sy eienaar.  Ek is al vir jare 'n drawwer. Nie wat jy nou eintlik hardloop sou noem nie, net sommer so 'n skommeldraffie, al groetende die Oggendgebruikers van Sypaadjies.  Mense groet nogal terug.  Ek dink die meeste van ons het tog maar 'n behoefte aan vriendelike kontak, al het ons so vreeslik anoniem en saaklik geraak.

'n Drafroete word mettertyd soos 'n bekende vriendskap.  Jy weet later net waar om te trap om nie deur 'n sekere boomwortel gepootjie te word nie.  Aan watter kant van die straat om te hardloop wanneer dit koud is en en waar wanneer die wind waai.  Aan hitte kan 'n drawwer bitterlik min doen.  Dan byt jy maar vas en stop by die garage vir water.

Oor die jare bekyk ek tuine, huise en verbouings terwyl ek na my voetval luister. Vir 'n 'ruiker' bied die drafroete 'n Smartieboks.  Daar groei 'n sekere boom hier by ons wat soos Elastoplast se pleistergom ruik.  Ek stop altyd wanneer my neus jasmyn bespeur - snuffelend soos 'n hond in die bries staan ek en lekkerkry.  Ontbyte.  Eens op 'n tyd 'n pasteifabriek.  Vars broodreuke by Checkers op die hoek voor die lang bult.  Op die oomblik die Frangipanes.  Soms kom daar vars koekgeure uit 'n huis.  Die klam geur van muwwe blare terwyl die grasse nat van die vorige nag se reën teen my knieë vee.  'n Mens draf maar die stiller strate om die ergste uitlaatgasse vry te spring.

Reuke en geure ontketen soms 'n cadenza van herinneringe by my.  Soos my kinders se reuke toe hulle babatjies was.  Gesmelte plastiek herinner my aan 'n motorongeluk waarop ons afgekom het toe ek nog klein was. Lemon Creams se reuk voer my na die plaas in Namakwaland.  Ruik ek Badedas, is ek opeens oorrompel deur die luukse van die bottel wat ek vir my verjaardag in Standerd 3 gekry het.  Basilie is altyd Somer.  Tamatieranke se geur ook.  En die geur van spanspek - so half benoud en af, maar onmiskenbaar met die belofte van koel, oranje lekkerte.

Ek kom in vir 'n landing.  Terug by wyn.  Sommeliers gebruik 'n reukstel in hulle opleiding.  Dit is 'n versameling flessies met verskillende reuke om jou bewus te maak van geure sodat jy dit kan identifiseer in wyne.  As jy weet hoe 'n vyeblaar ruik, sal jy dit in sekere Sauvignon Blancs kan identifiseer.  Of potloodskerpmaaksels in 'n Cabernet Sauvignon.  Viooltjies in 'n Viognier.  Soveel dae, soveel dinge!





No comments:

Post a Comment