Wednesday, 8 January 2014

Die Dag van die Tamatie

Ek loop nou die dag die mooiste, vlesigste tamaties raak en laai terstond 'n sakkie vol in my trollie. Die Engelse kweek 'n 'Beef Tomato' wat my in so 'n goeie bui sit.  Reusagtig genoeg sodat een skyf feitlik 'n hele toebroodjie kan bedek, met verskeie saadkompartementjies wat herinner aan 'n lugfoto van die Okavangodelta.  Hulle is knoetserig en dun geskild. Onder die regte hande groei een tamatie sommer maklik tot 'n knewel van oor 'n halwe kilo.  Ek het al die voorreg gehad om die tand aan'n dik skyf daarvan, gesmeer met dubbelroom, sout en varsgemaalde swartpeper, te slaan.  Dit was amper 'n maaltyd!

Mens sukkel mos deesdae om lekker groot tamaties met genoeg vleis te kry.  Voel my die ou goedjies wat ons in die supermarkte kry, is taai van skil, suur van smaak en het maar min in die geurafdeling wat hulle kan bevorder.  Dis in elk geval ook sterk agterdogwekkend as 'n mens 'n paar in die yskas vergeet en na die vakansie ontdek dat hulle nog presies dieselfde tekstuur het as twee weke gelede.

Ja ja, 'n Boeremark IS natuurlik die beste plek om te gaan inkopies doen vir die groente- en vrugtemandjie. Maar die tyd en die geleentheid ontbreek soms, of die kop en die inkopielys verpas mekaar tussen die soektog na karsleutels en 'n gepaste rustieke mandjie om saam met die strooihoed Mark toe te dra.  En sal ons nou die hare vleg of los laat bos?  Lang rok of bermudas?  Aggenee.  Hoe op aarde kan 'n mens onthou om tamaties te koop onder sulke stres?

Terug by die mooie tamaties.  Hulle was nog effe groen, maar ek het my voorgeneem om hulle met ysere dissipline te monitor op die kombuis se vensterbank, totdat  hulle die perfekte rooi bereik het.  Die brutale waarheid is dat ek sleep aan 'n lang en ongelukkige geskiedenis van verlepte vrugte en veral tamaties wat vergeet is in die bak op die kombuistoonbank.  Dan lê hulle my daar en aankla met hulle swart kolle, verrimpelde skille, waterige sousies wat onderin die bak distileer en armadas vrugtemuggies wat om die bak wolk.  Op die ou end gaan hulle komposhoop toe saam met die geld wat ek aan hulle spandeer het.  En kom 'n paar maande later as totale wanaangepaste hibriede in my alleswit voortuin op.  Dan voel ek weer van vooraf skuldig as ek die stomme brandsiekstingeltjjies uittrek en weer eens komposhoop toe verban.  Die les is - eet die tamaties groen, of kook hulle saam met stowevleis en 'n avontuurlike speserytjie.  Maar moet onder geen omstandighede toelaat dat hulle hulle eie besluite neem nie.  Hulle gaan jou terroriseer en jou alreeds oorlaaide Suid-Afrikaanse skuldkompleks oor die rant druk.

Ewenwel.  Ek het die tamaties gevang toe hulle net mooi ryp en soet en wonderlik was.  Met groot fanfare beland hulle nou op iedere broodsny en slaai.  Ek voel soos 'n Superheldin.  Ek het die Tamatie gewen met formidabele waarnemingsvermoëns wat ek nie geweet het ek het nie.  Dalk en hopelik is dit 'n teken van een of ander vorm van wasdom wat ek bereik het.  Of (met 'n gelate sug erken), dalk maar net die rustiger pas van die afgelope Feesdae.

Want ek sien daar is alweer 'n handvol geelperskes wat knieserig in die bak lê en lyk of hulle iets onder lede het......



2 comments:

  1. Bravo! Probeer 'n slag 'Red Baron' tamaties, hulle is na aan die wat ek van my kinderdae onthou.

    ReplyDelete