Ek geniet vroe'more in die tuin. Die luuksheid van die stilte en die frisheid van elke plomp blaar na die verleppende hitte van die vorige dag verkwik my siel. Laat my telkens besef dat die Here se genade elke dag nuut is.
So bewandel ek my tuintjie nou een oggend en word opeens van my vrede beroof toe ek sien wat my tuinman aangevang het. 'n Ou plestiek mopsteel (nog met sy ophangogie aan) in die grond gedruk om 'n tamatierank te stut. Vasgemaak met 'n stukkie baaltou wat hy ek weet nie waar uitgegrawe het nie. Dit lyk toe vir my verskriklik kommin. Tot ek besef ek hou eintlik daarvan. Die eerlikheid van 'n ding gebruik omdat hy beskikbaar is en nie meer 'n ander doel het nie, staan my toe daardie tyd van die oggend erg aan. Soveel so dat ek die kamera gaan haal.
'n Paar dae later beland ons by 'n restaurant wat 'n seekosaand aanbied. Maar nie die verwagte buffet (of soos sommige mense sê, baffei) nie. Daardie uitpakbesigheid van overdaad (en pienk krapstafies wat soos uitveërs tussen alles ingedruk word) en wat na die eerste twee opskeppe lyk of 'n kar met perde daaroor gery het. O nee. Elke tafel kry sy eie skottel. En een skottel op 'n slag, met net een of twee soorte kos daarin. Mooi skottels. Hulle kon amper leeg ook by die tafel aankom, ons sou hulle nog steeds kon waardeer.
Die eerste pragtige bak was vol mossels, gepak soos 'n koper en swart krisant met flertse oranje. En onderin die bak 'n sawwe sousie met stukkies knoffel, so gestoof dat jy hulle met jou tong teen jou verhemelte kon smeer. Toe kom daar dik snye korserige soetsuurdeegbrood om die sousie mee op te vee. Ons kyk in stilte na mekaar en sê dankie. Eet met ons hande. O, die eenvoud. Geen intellektuele gimnastiek nodig om die en daai uit te ken nie. Net die opregtheid van kos uit die natuur se spens waaraan min gepeuter is. Intussen verknog ons ons aan die ou silwer servetringe, vryf die sagte, deurleefde linneservette teen ons wange en laat toe dat die perlemoenglans van die wyn in die mooi glase in ons oë weerspieël.
Die res van die fees het bestaan uit knarserige, vars garnale en geroosterde vis. Suurlemoenskywe, tuisgemaakte Tartaarsous, dik soos plaasroom. 'n Aartappelgebak met olywe en 'n eenvoudige, growwe slaai. Ons het daar uitgestap met vrede en genoegdoening in ons harte. Niemand se are het onder transvette gekreun nie. Ons gemoedere en ons mae was tevrede, sonder oordoen en ongemak. Ons sintuie was gevoed. Mooi kos, mooi tafel.
My gedagtegang is nou vir 'n rukkie al bedrywig met eenvoud en per implikasie, eerlikheid, versus tierlantyne en groot gaan en oorboord gaan en nie stop voordat elke openinkie gevul is met iets nie. Hetsy kos of klere of watter materiële dinge ookal mense se neusvleuels aan die beweeg sit nie. En moet my nie verkeerd verstaan nie. Die uwe nie een vir vervelig en vaal nie. Sy dooi oor 'n mooi patroon en lyk soms soos 'n paradysvoël van die kleure gedos. En 'n Bollywoodfliek tiek al die boksies vir my.
Ook moet ek ten sterkste (en hier trap ek tone, ek weet) erken dat die eenvoud van 'n Bring-en-Braai my negatief stem. Dit kan mos nie werk nie. Jy bring hoender en ek bring wors en Sus en So bring fillet en skaaptjops. Nou moet die arme gasheer probeer om alles gelyk en op dieselfde kole te probeer gaar en eetbaar (gee my krag) kry. En as daar onmanierlike gaste is, verruil hulle stilletjies hulle vleis met jou hoendersosatie en jy eindig met 'n skoenvel van 'n skaaptjop op jou bord. Kyk, ek verstaan dat daar vuur moet wees. My eie man sal vuur maak, al is dit om die oorskietsop mee op te warm. Maar gee dan liewer vir elkeen 'n dis om te bring en koop maar self al die vleis. Of vra een om wors te bring en twee ander om tjops te bring. Los die Bring-en-Braaistorie vir Kerk-, Klub- en Skoolfunksies. En daar braai jy liefs jou eie tjops. Of is dit nou erg onsensitief van my en boonop onekonomies ook?
Laat ek my dan liewers by my gedagtegang bepaal. Of sommer net sê ek wil in die nuwe jaar eerliker, eenvoudiger en minder gekompliseerd leef. Smaak my jy hoef dan minder verskonings te soek. Minder komplikasies. Handel 'n saak af soos hy opduik en sit hom agter jou. Sien die mooi in dinge en mense. En put daaruit krag en vreugde.
Natuurlik maklik om met vakansie te wees en in 'n nat swembroek te sit met 'n pienk skyf waatlemoen en sulke dinge kwyt te raak. Maar die hoop beskaam nie en probeer gaan ek probeer. Hier's 'n paar van die eenvoudige dinge waarmee ek my kamera die afgelope tyd bemoei het.
No comments:
Post a Comment