Tuesday, 17 December 2013

Gee hulle Kreef!

Ek lees 'n artikel oor hoekom arm mense hulle geld op luukshede en statussimbole spandeer.  Die skryfster is 'n Afri-Amerikaner wat vertel hoe haar ma, met 'n enkele deftige uitrusting, gereeld die inwoners van hulle buurt verteenwoordig het wanneer dit maatskaplike sake behels het.  Waar die ander mense ure en selfs dae moes toustaan met hulle ou verweerde kleertjies, het sy voorkeur gekry oor haar bruin pakkie, stewels en pêreloorbelle.

Dis natuurlik 'n mooi storie.  Elders loop kinders met gate in hulle tande en val huise inmekaar, maar daar word geld spandeer op die nuutste handelsmerkklere en -skoene.

Ek kan ook nogal 'n eier lê oor die prys wat in die Naam van Eet betaal word.  En ek bedoel nie die globale sug wat hierdie tyd van die jaar opgaan oor wat vleis en aartappels nou kos nie.  Ek bedoel die uitgawe, beide in geldwaarde en onse arme planeet, op die mees uitspattigste eetgoed.  Nie om honger te stil nie, maar omdat dit daar is/raar is/bisarre is.  Voorbeeld:  'n Steurvis word oopgesny tussen ouderdom 20 en 100 (ja, regtig!) om kaviaar te kry. Dis nie 'n kwessie van eiers oes nie - die visse word doodgemaak. En laat ons maar die hele foie gras-kwessie nie verder holrug ry nie.  Hoeveel van ons diere- en planteryk is al uitgewis en vernietig deur die jare?  Want daar word derduisende betaal vir 'n klein stukkie rariteit.

Uitermatige uitspattigheid op die tafel is niks nuut nie.  Ek het 'n 15de-eeuse resep vir die voorbereiding van swaan.  'n Ortolaan is 'n piepklein voëltjie - onwettig om te jag, te koop of te eet - maar die klandestiene etery van die outjies vind al vir eeue plaas.   En heel barbaars die voorbereiding:  Hulle word in 'n donker hokkie gehou, met baie graankorrels.  Omdat hulle nie agterkom of dit dag of nag is nie, eet hulle die hele tyd en swel op.  Dan word hulle in konjak verdrink. 'n Mens (sic) eet dit tradisioneel onder 'n servet, om die skaamte van die daad weg te steek.  Sies man!

Ons Westerlinge vind die hond-etery van sommige Oosterlinge afstootlik.  Slangeet ook.  Dan kan ek darem ook nie perd-eet bedink nie.  'n Paddaboudjie sal ek wel verorber en as kind het ek sprinkaan gaargemaak en genuttig.

Maar genoeg van die barbarismes!  Alles is relatief.  In Mozambiek eet jy garnale tot jy nie meer kan nie, en ook kasjoeneute.  Want dis volop.  In Thailand koop jy 'n kokosneut wat behendig dop-af gekap is, druk 'n strooitjie in en stap strand-af met die geweldige, eksotiese konka in jou hande.  En so met die stap, loer jy by 'n mark in en koop sommer vier soorte rys, want dis volop.  In Suid-Afrika bak jy beskuit met karringmelk, maar in Europa moet jy ander plan maak.  In Mexiko kan jy 'n dis maak van 6 verskillende soorte chillies. Hoe luuks is DIT nie! Die verskil is net dat dit jou nie 'n hele genus kos nie, want dis volop.

Nog 'n interessante eienskap van dierbre Homo Sapiens is dat ons mos daarvan hou om luuksheid in tye van min te simuleer.  Ek verstaan dit goed. Wie hou nie daarvan om by 'n kosmark uit te stap met sampioene so groot soos pierings en 'n handjievol olyfknewels en een of ander tannie van wie-weet-waar se plaasbotter nie? Dat dit vier keer meer gekos het as Checkers se plestiekbakkie sampioene, word nie genoem nie, maar sal in die daaropvolgende week sy tol wel eis.   Tuis braai jy die swamme en dien hulle op in jou swierigste bakke, met lapservette, en verbeel jou jy sit iewers landelik (terwyl jy die gekraakte sement op jou stoep ignoreer vanaf jou supermarkplastiekstoel).

Gedurende die depressiejare het 'n vindingryke restaurateur in New Orleans oesters, wat volop was en so half alledaags, gebruik om Franse slakke, wat haas onbekombaar was, te vervang.  Hy het 'n allamintige ryk sous van botter en groengoed en bietjie byt prakseer en oor die skulpe gesmeer.  Toe gerooster met broodkrummels.  En toe, nê, speel hy sy troefkaart.  Hy noem dit Oesters Rockefeller.  Na die rykste man van van daardie tyd se Amerika.  Onmiddellike sukses.  Sy kliënte het geëet en geëet.  En vergeet van die sleg van die depressie.  Vir een ete was hulle op gelyke voet met miljoenêrs.

Ek had 'n paar oesters in my vrieskas.  En Sondagmiddag het na 'n goeie geleentheid geklink om ou Rockefeller se naamgenoot te probeer.  Klomp pietersielie met botter, Tabasco, Vermoet in my masjien gebrrr.  Toe oor die oesters gesmeer, mildelik met broodkrummels gegooi en onder die rooster gedruk.  Ons het dit geëet met pikante vurkies uit die 70s wat my ma my gegee het.




No comments:

Post a Comment