Toe ek ongeveer tien was, het ek leer broodbak. Met een woord gespel, beslis. Soos fietsry of boomklim of gekskeer. 'n Vaardigheid, met ander woorde. Wat deel van jou samestelling raak en jy nooit afleer nie.
Brooddeeg is waarskynlik die mees gewillige, mees vergewende medium waarmee 'n mens kan werk. Hou dit relatief warm (soos wat dit lekker is vir 'n mens) en moet dit nie ontstel nie. Gee dit tyd om besluite te neem. Investeer daarin. Wees eerlik. Goeie, steengemaalde meel en sout en water. Dalk olie en 'n bietjie suiker. En tyd. Om 'n behoorlike brood te bak, is soos om in die middel van die dag te gaan kyk na 'n goeie fliek. Jy weet jy gaan soos 'n mal ding moet jaag as jy daar uitstap om die verlore tyd in te haal, maar daardie verlore ure is om 'n bisarre rede goed vir jou. Ek noem dit die Graalfaktor.....
Die genoegdoening van hande in die deeg inwerk, knie tot jou kneukels skoon raak en die deeg soos 'n elastiese bal bymekaarkom, het nie 'n gelyke wat jy kan koop nie. Die potensiaal wat in jou kniekom lê na die alchemie van meel en water en daardie intrinsieke waarde van iets wat met die hande gemaak is, en oor eeue nooit verander het nie. En dis maar die begin.
Van hier af werk die towerkrag net sterker en betrek dit al hoe meer sintuie. Gee jy die kniekommetjie die nodige hitte en humiditeit en stilte, beloon hy jou met 'n boeppens van 'n inhoud. Knie die baldadigheid af en gee jou verbeelding vlerke. Rol dit, pan dit in. Sprei dit oop en druk groot gate met jou vingers daarin, wat jy met die lieflikste olie en kruie vul. Vleg dit. Maak dit soet met heuning en droëvrugte. Marsepein. Knie kaas in. Biltong of kaiings. Brandgoed of olywe, of dalk neute. Rondom Paasfees druk jy rooi gekleurde eiers in 'n broodkrans. Smeer dit met eiergeel. Gooi sade oor. Verf dit met melk. Rol dit in semolina. Speel. Knip dit met 'n skêr om soos n koringgerf te lyk.
Dan neem jy die uitgedyde lieflikheid oond toe. Of vuur toe. Of kokende olie in. En wag. Die geur van brood wat bak is mos byna tasbaar. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat gril daarvoor nie. Die Heilige Graal. Dis universeel en eerlik en die simbool van voeding en geborgenheid. Met jou daaglikse brood onder die arm kan jy 'n goeie entjie vorder.
Dan neem jy die uitgedyde lieflikheid oond toe. Of vuur toe. Of kokende olie in. En wag. Die geur van brood wat bak is mos byna tasbaar. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat gril daarvoor nie. Die Heilige Graal. Dis universeel en eerlik en die simbool van voeding en geborgenheid. Met jou daaglikse brood onder die arm kan jy 'n goeie entjie vorder.
Die Westerse wêreld oor word brood vereer as nommer een kos. In Griekeland word 'n troubrood vir jou huwelik gebak - 'n krans vol versierings. Dan hang jy hom teen jou muur op. Daar is brode wat al dekades en dekades teen mense se mure hang. Hoe mooi om brood die simbool van jou huwelik te maak. Ek kon in elk geval nog nooit die sin verstaan van saam sout opeet nie.
Ou brood word in Arabiese lande gerooster en in slaai gebruik om Fattoush te maak. Ons maak broodpoeding of Franse roosterbrood van gister se brood. Die Franse verpulp brood saam met chillies om Rouille te maak. Dis 'n sous wat lieflik saam met mossels proe.
En wie onthou die hartverskeurende episode uit die tekenprent Heidi, toe sy die sagte broodjies uit die rykmanshuis in haar kas gebêre het vir haar blinde oumatjie in die berge, net om agter te kom dat hulle kliphard geword het?
Sondagaande vul die geur van roosterbrood hierdie huis. Met Marmite of Konfyt en Kaas. Daarby 'n beker rooibostee. Onwrikbare tradisie.
Brood. Gekoop of self gebak. Dis kos. Manna. Voorsiening.
Maar
sê my, kan jy braaibroodjies maak?
Ek herken daardie broodjies - nyummies!
ReplyDelete