Sit ek die sproeier aan hier oor my groengoed, oorweldig die geure. Basilie voor in die koor. Die trrrr van die druppels op die dagwarm blare en die dankbaarheid waarmee hulle netnou weer gaan oppof, stem my rustig. Laat my die sweet en hare van die afgelope dag in perspektief sien. Besef dat more nog 'n dag is en dat die Here se genade elke dag nuut is. En my verbeelding kry so 'n bietjie rondhardlooptyd soos 'n hond wat strand toe gevat word.
Maar helaas. Maak nie saak hoeveel ek my verbeel ek is 'n Vlaamse dame uit 'n vervloë era wat in die tuin loop met 'n kappie en tuisgeweefde lang rok nie - aandete moet op die tafel!
Ek pluk dus 'n armvol spinasie, die groeipunte van verskeie basilieplante (dit help dat hulle nie te gou blom nie en die plant bly nie net 'n dun slingeltjie nie). Ook 'n vuisvol platblaarpietersielie en 'n sprietui of twee. Ek los van die sprietuie om te blom. Hulle maak die pragtigste tossels en dan kan ek ook sê my tuin het 'tekstuur'! Gie gie.
Kombuiswaarts met my gerwe en begin stook aan die hert.
Ek doen maar die moeite om die blare goed te was. 'n Mens hoor darem alte dikwels van goeters wat kom eiers lê in jou brein. Persoonlik dink ek dis al die polistireen en plestiek waarin ons groengoed verpak word.
Vanaand wil ek fyn wees, dus sny ek die stele van die spinasie uit die blare. Dan stapel ek die spinasie in 'n kastrol en balanseer die delsel bo-op. Lyk bietjie soos van ons regeringsdames by 'n boomplantdag of een of ander gerfspitgeleentheid. Met 'n verspotte keppie wat bo-op 'n pruik vashou vir dood en lewe.
O ja. Kastrol vol spinasieblare. Die skoonwaswater wat aan die blare sit, is genoeg vloeistof. Sit die stoof op stadig aan en los die kontrepsie met die keppie om stadig te stoom en plat te raak.
Maak solank 'n lekker dik witsous. Ek hou daarvan om 'n huisie knoffel goed te voeter en saam met die botter te braai voor ek die meel bygooi. Net nie botteltjieknoffel nie. O wee. Haal die witsous van die stoof af en gooi bietjie room by as jy nie bang is vir jou bikini nie. Krummel ook fetakaas in, kap die pietersielie fyn en skeur die basilieblare. Hulle raak mos swart as 'n mens hulle met 'n mes sny. 'n Knypseltjie neutmuskaat, sommer flambojant baie swartpeper. Wag maar eers met die sout. As daar enige verlate velletjies ham, lepeltjiesvol fyn, gaar hoender, die laaste twee songedroogde tamaties, verwarde, ontpitte olywe(wat het my besiel?) of dalk gebraaide spek in die yskas skuil, gooi dit ook sommer by vir die spangees. Ons gaan daai tamaties se flessie nodig hê vir Pesto van die basilie wat begin uitbundig raak in die tuin. Teen hierdie tyd behoort die spinasie donker en verlep te wees. Gooi dit uit in 'n vergiettes en druk die ergste vloeistof uit met die agterkant van 'n lepel. Dis bliksemswarm. Keer die spinasiekoek uit op 'n plank en krap dit oop om nog af te koel.
Nou gooi jy 'n paar eiers by die witsouskonkoksie en klits om goed te meng. Maar sommer met 'n handballonklitser. Jy wil mos nou nie die feta in 'n smeer omskep nie.
Hierdie fase van aandete word gewoonlik geken deur die uwe wat onthou dat die oond al hoeka aangesit moes gewees het. 180°C. Gelukkig is hier niks wat kan platval as dit vir die oond moet wag nie.
Vat nou daai spinasie en druk dit in 'n bal en wurg die laaste groen water uit. Sit dan die bal op die kapbord en sny hom soos 'n brood. En sommer nog 'n paar snye kruis en dwars na goeddunke. Meng dit halfhartig met die witsousbesigheid. Proe vir sout. Smeer 'n mooi skotteltjie (hier kan ons ook nog speel met tyd vir die oond om warm te raak). Gooi die mengsel in die skotteltjie en druk dit in die (hopelik nou) warm oond. Dis reg wanneer jy slaai gemaak het, die borde op die stoeptafel gepak het en die gereg goudbruin en so half pofferig voorkom.
As jou man se lip hang oor hy net spinasie vir aandete kry, kon hy intussen 'n worsie op die kole bygedra het.
No comments:
Post a Comment