Saturday, 11 January 2014

Manierlik of Onmanierlik. Dit, is die vraag.

Staan ek toe Saterdagoggend op met 'n swartgalligheid en 'n skuins bevoeterdheid.  Of dalk 'n swart eend, soos Breytenbach.

Ek hou sommer nog in my bed intro-, retro- en enige ander inspeksie na die oorsprong van die lae gemoedstoestand.  Die vier wenners van die inspeksie is:  die leë nes wat ek en Manlief vanjaar aandurf, die rojale porsies van die afgelope vakansie wat my dye nou effens hammerig laat voorkom en derdens, en dit hou verband met Oorsaak No 2, gisteraand se Eend met Rabarber- en Salievulsel, Polenta, Komkommerkruid met Room en Vars Tuingroente, ook sommer gestowe met Eendvet, wat.  Dit het ek nou van 'n bevlieging op 'n Vrydagaand om my geliefde ou Engelse kruieboeke uit te haal en daaruit te kook. Laaste oorsprong van die terneergedruktheid is my ontsettende seer spiere as gevolg van die eerste gymbesoek na genoemde rojale vakansie, 'n Groot Faktor. Gooi saam met hierdie Oorsake 'n skeut hormone, en jy het 'n wenner vir 'n lang gesig. Ek loop krakerig, kruppel en bebliksemd badkamer toe.

Handel toe maar soos 'n halfmasvlag my Saterdagspysenieringbestelling af en vra die Ysterman-aan't-Oefen om dit vir my af te lewer op pad na sy seeswem.  Hy't sy vrou een kyk gegee en besef hy het nie 'n keuse nie.  Of nog kasdeure gaan uit hulle skarniere kraak.  Teen hierdie tyd het ek al omtrent die hele boks All Bran op die vloer uitgemors.  Die honde het gedink dis Krismis van vooraf.  Foeitog, ook maar met min tevrede.

Met die krat bestellings op pad en die kombuis min of meer skoon, besluit ek 'n glas yskoue witwyn en iets te ete, saam met 'n bietjie son en 'n boek, gaan die bui verlig. En sommer twee spierverslappers, my maggies, genoeg gely is genoeg.

Behaaglik maak ek my tuis langs die swembad (die brakke dink natuurlik ek het die handdoek vir hulle oopgegooi).  My boek is 'n lieflike beskrywing van 'n klomp Suid-Afrikaners wat eiendom in Frankryk gekoop het, met die mooiste fotos en resepte wat my opnuut weer met 'n eetlus stem, hamdye of te not. Daar is verskeie spel-, taal- en tikfoute in die boek, maar dis 'n vriendin s'n, so ek kan nie soos normaalweg my rooi pen gaan haal en begin korregeer nie.

Ek wonder of ek moet toelaat dat die foute my genot in die boek moet beïnvloed.  Begin sommer wonder oor wanneer 'n mens moet aandring op reg of weg, en wanneer moet 'n mens net laat gaan en iets waardeer vir wat dit is. Is jy te puntenerig, boet jy baie vryheid.  Is jy te traak-my-nie-agtig, raak dinge 'n getjommel.

Ek bevind my vroeër die week in 'n gesprek oor maniere.  Spesifiek maniere wanneer iemand vir jou kom kuier.  My vriendin sê, wanneer goeie vriende kom kuier, is dit mos nie nodig om hulle by die kar/voordeur te gaan groet nie.  Hulle ken jou huis en weet mos hulle is welkom.  Ons stap weer altyd uit en gaan sê naand, en gaan groet ook weer by die kar.   En aan skottelgoed raak ek nie voor die gaste nie alreeds veilig tuis en in hulle beddens is nie.  (Om eerlik te wees, sal die bordegoeters in sommige gevalle eers die volgende middag beurt kry).   Daar's vir my iets aan om my gaste met die luukse van aansit en wegry te bederf.  Hulle moet nie eers dink aan logistiek nie.

'n Ding wat my wel onmanierlik vies maak, is wanneer gaste erg laat is.  Wat is dit met ons?  Ons kom al hoe later by plekke aan!  Die gasvrou se lipstiffie is later afgebyt en die voorgereg lê verskrompeld tussen verlepte blaartjies. Die aanwesige helfte van die gaste het al die wyn wat saam met die Verskrompeling gedrink moes word, verorber, en nou moet daar aan die Hoofgereg se wyn gepeuter word.  Seker die dat allerhande groen en pienk vingerhoedgrote sopies in plastieknagmaalglasies deesdae kopuitsteek.  Met name soos Skok, Suur en Lippe.  Te afgryslik vir 'n gedagte, laat staan woorde.

Voel my soos ek ouer word, raak ek meer verdraagsaam teenoor seker dinge, maar minder teenoor ander.  Onverdraagsaam omdat ek half voel my tydsgenote moes darem seker nou al Maniere 123 onder die knie kon kry.  Verdraagsaam omdat dit nie regtig saakmaak nie.  Dis 'n vreemde plek om jouself te bevind.

My mymering kry einde.  Dis tog net lekker om te sien jou gasheer en -vrou het moeite gedoen.  Tafel gedek, jou verwag.  Al sien julle mekaar drie keer 'n week.  En dis lekker om die volgende oggend 'n boodskap te kry dat jou gaste lekker gekuier het.  Dankie kos maar 'n paar sekondes.





Hier is die gewraakte eend.  En die veelbesproke groente, die komkommerkruid en 'n rustige foto van my tafel wat ek baie grênd laat lyk het met die nuwe manipulasiegoeters wat ek op my foon afgelaai het.

No comments:

Post a Comment