My Pa het altyd vir my vertel Haastige Hond verbrand sy mond. En die Dramatannie van laerskool het aan die einde van die jaar vir my 'n plakaat gegee waarop gestaan het: 'Please grant me patience, but hurry'.
Ek is, en was nog altyd 'n ongeduldige mens. My rekenaar moet gereeld geformatteer word, want ek dubbelkliek en trippelkliek by tye soos 'n waansinnige vrou van pure stres en ongeduld. Maar, soos ek in 'n vorige blog genoem het, aanvaar ek myself mos deesdae, danksy Zen and the Art of Motorcycle Maintenance wat ek nou amper klaargelees het - die intensiewe lesery staan nou al na vyf maande se kant toe. So nou glimlag ek net nederig as ek die rekenaar aan die knaap met die ry ringe in sy wenkbrou oorhandig, want ek weet ek gaan ten minste 'n week van vinnige rekenaar hê voor ek die ding weer verstop met my befoeterde voorvinger.
'n Ander saak is die keer toe ek oogdokter toe moes jaag omdat ek met 'n oorentoesiastiese tandeborselry die borsel in die oog gekry het, en nie betyds kon briek nie. Ons moes ook vir 'n paar sessies terapie betaal waarop my man my gestuur het: Ek het in die gewoonte verval om takies uit te dink vir die gesin tydens advertensiebreke van ons gunsteling TV-program. Bevele is links en regs uitgeroep en wee die een wat nie opgevlieg het en sy of haar opgelegte taak gaan uitrig het nie. Deesdae kyk ek maar nie meer TV nie...dis te frustrerend. Of ek laai die koffietafel met doengoetertjies vir myself sodat ek tog net nie ledig sit nie.
Seker nie toeval dat ek, na verskeie probeerslae met verskeie werke, in die spysenieringsbedryf beland het nie. Al sit ek met brandletsels, messnitte, terapiesessies, slaappille in die bedkassie, is dit tog, blyk dit, 'n goeie beroep vir 'n opgewende veer soos ek. Daar's onmiddellike bevrediging (of ramp). Daar's rook en vlamme en stoom en kletterende kastrolle. Daar's oondpanne so groot soos blombeddings wat rondgedra kan word om van oortollige energie ontslae te raak. 'n Mens kan hardloop tussen die stowe en die yskaste. 'n Mens kan vir jou 'n paar bont tekkies koop wat eerder pas by een van daai outjies op MTV wat die hele dag en nag met 'n sonbril loop en Wagter se ketting om sy nek dra. 'n Mens kan torings in jou kar bou met bakke en borde kos en dan kyk hoe vinnig jy daarmee by kliënte kan kom. 'n Mens kan planne maak wanneer 'n kliënt vir jou op nommer 99 laat weet daar is nou 10 ekstra gaste. 'n Mens kan ook ekstra stres in jou dag inwerk as 'n verskaffer die verkeerde goed aflewer en jy moet dit NOU gaargemaak het. Of as die krag onaangekondig afgaan. 'n Groot gunsteling.
'n Mens kan ook vir jou die vernuftigste tydspaarplanne bedink. Een van my mees effektiewe planne is om oopmond te stort. Op die manier kry ek al 'n glas water in sonder dat ek hoef stil te gestaan het om te tap. En dis gou, dan's jy gewoond aan warm water drink. Die beste, vinnigste ete is 'n wig oorskietpizza of 'n koue aartappel tussen die tande geklem op pad kar toe. Daar sal wel 'n paar rooi robotte wees waartydens jy rustig kan kou en sluk. Gesigroom moet nie te duur wees nie, want jy moet 'n goeie blobs daarvan kan vat, tussen die palms smeer, gesig smeer, en dan moet daar genoeg vir hande en elmboë oorbly. Meng 'n lyfskrop van laventelolie of wat ookal en seesout en was daarmee in die stort. Dis sommer was en lyfbevogtiging alles-in-een.
Ter afsluiting. 'n Tipiese prentjie van my na 'n wilde spyseniering sal wees waar ek kruisbeen op die kombuisvloer sit, beker tee langs my, aan't eet uit 'n kastrol met 'n teelepel of 'n opskeplepel of wat ookal naby was. Taai van sweet en stoom. Ten minste een nuwe spataar bygepop. Voete wat pols. Skouersenings kort duskant my haarlyn. En hier kom die bieg: Ek was nie heeltemal eerlik oor nie meer TV kyk nie. Ons neem die programme op sodat daar geen advertensies wys wat my kan tempteer nie. En na 'n 18-uur dag of drie, is daar min dinge so salig as horisontaal op die bank onder die TV-kombers. Al die dag se sweet en drama afgestort. Maak nie saak wat wys nie. Maak nie saak of niemand enigiets doen nie. Eintlik kyk ek nie. Ek lê net. En van sit of staan, bly lê die lekkerste. Veral as jou voete klop.
No comments:
Post a Comment