Ek bedink die Skandinawiese kookkuns vir 'n kookles wat ek wil aanbied. Daardie deel van die aarde wat ons voorsien het van die Vikings, Lego, ABBA, Ikea, Roxette, bek-oophangontwerp en gebak wat reguit deur jou slukderm skiet tot op jou heupe. O, en lieflike Havarti - die delikate, gewaste wrongelkaas. Ook dra die ouens daar die titel as die wêreld se kranigste koffieverbruikers.
Maar verder, wat weet ons hier in die Suide van die kos van doer bo-op die aardbol? Wel, ons ken Noorweegse salm in allerhande vorms wat 'n mens in klein porsies bedien, want jy betaal die eweknie van 'n pot gesigsvogroom aan 'n behoorlike moot. Die vis se pragtige pienk kleur is as gevolg van die skaaldiere wat die grootste deel van sy dieet uitmaak. Deesdae is die salm wat ons te koop kry, van kommersiële visplase afkomstig, en hulle kry so 'n teelepeltjie voedselkleursel in om op te maak vir die feit dat hulle nie meer krefies en krappies in die hande kry nie.
Ook bekend en heerlik is die Smorgasbord - allerhande visserighede en piekelgoeters en soutighede bedien op suur, donker rogbroodskyfies dunner as Legoblokkies. Sweedse Frikkadelle, heerlik gestowe in suurroom en dille, duik ook nou en dan op in 'n Winterspyskaart.
Maar verder... en laat ons nie slegvoel daaroor nie, want ons is nie die enigstes wat min van hulle kos weet nie. Danksy die lang, donker winters en die afgesonderdheid van die mense op die platteland, om nie te praat van die ouens wat langs die fjords woon nie, was dit vir eeue 'n spreekwoordelike geval van die een hand wat nie geweet het wat die ander hand doen nie. Resepte het in gemeenskappe gebly en is mondeling oorgedra aan volgende geslagte. 'n Mens is geneig om net die sofistikasie van die stede te sien, en jy vergeet dat die platteland in baie gevalle bewoon word deur afgesonderde, arm mense. Dit fassineer my keer op keer om te sien hoeveel kostradisies en geregte ontstaan het omdat mense maniere moes vind om die oorvloed van die Somer te bewaar en met min bestanddele so 'n groot en smaaklike verskeidenheid as moontlik moes probeer bedink.
Salm en ander vissoorte is 'n goeie voorbeeld. Van visdroog en vissout is daar min wat jy 'n Skandinawiër of Yslander nog kan leer. Hulle maak Torrfisk of Rakfisk, soortgelyk aan die gedroogte, gesoute kabeljou wat rondom die Mediterreense See geëet word. 'n Mens sien soms fotos van groot houtrame en die visse oopgespalk aan't uitdroog in die koue, sout wind. Gravad Lax, soos dit in Swede en Denemarke genoem word en Gravet Laks in Noorweë, vertaal as die makabere 'Grafsalm'. Jy pak 'n vars stuk pienk salm met 'n mengsel van sout, suiker en dille. Dan word hy vir 'n dag of drie in die yskas gekoester. Daarna loop koop jy vir jou 'n donker rogbroodjie, 'n bossie waterkers 'n potjie peperwortelroom. Nooi iemand se sê hulle moet wyn bring. Mevrou So en So van Skandinawië, met die onwaarskynlike konsonante in haar van en 'n klomp volksvreemde tekens op die klinkers, het aanvanklik haar Gravad Lax met die suiker-, sout-en dillemengsel gesmeer en dan vir 'n paar maande in die grond begrawe. Vandaar die dodelike naam. Nou, voor enigiemand naar word, onthou net dat daardie wêreld se grond kouer as ons vrieskaste is. G'n bakterië sal dit naby waag nie.
'n Yslandse reseppie bestaan wel wat dalk die meer sentitiewe gene onder ons sal laat sluk. Hákarl is haaivleis wat deur 'n spesifieke fermentasieproses gaan en dan vir vier tot vyf maande opgehang word. Hulle is gou om jou te vertel dit is 'n smaak waaraan mens maar gewoond moet raak en dat dit sterk na ammoniak ruik. Nee wat, liewer nog 'n Deense tertjie vir hierdie Boerenooi.
'n Ander bisarre kooksel wat ook volop in Oos-Europa is, is die sogenaamde 'aanhoudende bredie'. Hoe dit werk is as volg: In die begin van die Winter bring Pa 'n haas huistoe wat hy in die wip gevang het. In die pot op die vuurhert gaan hy, saam met 'n paar wortels en ander knolgroentes. Ons smul te heerlik. More gooi Ma 'n klompie droë bone in saam met die orige haasbredie en sommer 'n varkskenkeltjie ook. Oormore vervul 'n hoender sy lewensdoel in die pot, tesame met 'n ui en 'n handvol komyn, 'n paar aartappels en 'n beet of twee. Nou is ons bredie pienk. En so doet ons voort die hele Winter lank. Niemand baklei oor skottelgoed was nie, want ons was nie die pot nie. Ons gooi net elke dag by.
Ek maak klaar met 'n laaste interessante brokkie: In Finland eet jy op Donderdae ertjiesop en pannekoek. Maar nie pannekoek soos ons dit ken nie. Hulle het 'n spesiale ysterpannetjie en dis meer 'n opgepofte storie, amper soos 'n Yorkshirepudding. Hulle noem dit Pannu Kakku. Klink na iets wat iemand in my huishouding sal kan kwytraak as ek iets anders as propperse Suid-Afrikaanse pannekoek sou durf voorsit. Met stroop en suurlemoene en kaneelsuiker.
No comments:
Post a Comment