Kos en kleur kan nie sonder mekaar nie. Hoeveel slegte kosherinneringe uit baie se kindertyd is nie aan bleek, opgekookte etes nie? Wie eet nie kool nie, want hulle dink dis 'n grys hoop grusaamheid wat jou later ongemaklike winde laat opbring? Of is neuroties dat 'n mens nie 'n skaaptjop in die oond kan maak nie, want iemand, hoe hartseer, het 'n opgekrulde skoensool van 'n tjop met beige, drillerige vet bedien. Of kan nie hawermout vat nie, want daar was nooit 'n kronkel heuning oor nie? Wie eet eerder wegneemkos, want huiskos was wortels wat gekook is tot die kleur daarvan uitgeloog was en frikkadelle wat soos ou pantoffels lyk? Nee man, mense wat beige en grys kos maak, verdien vaal kombuise wat na pakkiegeursels ruik en panne met los handvatsels en kerriekleur deurskynende glasborde.
Dis nie om geen rede dat ons aangeraai word om groentes van verskillende kleure te eet vir onse gesondheid nie. En hoe dieper die kleur, hoe gesonder, blykbaar. Ek het geen oortuiging nodig nie. Eet eerste met die oë, dan met die reuksintuig - dis hoe dit vir my werk. En daarmee wil ek glad nie sê dat iedere bord soos 'n strandpartytjie moet lyk nie. 'n Mens kan die mooiste stemming bewerk met kleure wat rustig is en simpatiek teenoor mekaar is.
Groen is 'n lieflingkleur van my. Lig, soos in tzaziki, of helder soos aspersies wat blitsig geblansjeer is en dan in yswater verfris is. Of die diepgroen van spinasie soos dit linte loop deur 'n romerige fetapastei. Dis ook 'n wonderlike agtergrond vir helderrooi, pers en oranje. 'n Slaai kry onmiddellik statuur met 'n groen blaar. 'n Mentblaar op 'n drankie gee sprankel. Southappies spring van vreugde op 'n wingerd- or kappertjieblaar. Of balanseer hulle op jong koolblare wat wonderlike, driedimensionele agtergrond bied. Groenrissieblatjang wat 'n riel dans oor harissasop of groen pistasieneutklapperys, of 'n bak Somerse vye; 'n basilieblaar - groen het nie einde nie. In die restaurant Babel se fenominale resepteboek is baie van die geregte op intense woudgroen erdebakke afgeneem. Dit skep 'n ouwêreldse, geankerde gevoel wat so die stille groei van die tuin, wat die restaurant van produkte voorsien, eggo. En sommer vir die sports, 'n sêding wat ek iewers gelees het: 'Rooivleis is nie sleg vir jou nie....maar groen vleis darenteen....'. Wys jou maar net - alle kleure werk nie in alle applikasies nie
.
Blou is 'n onwaarskynlike kleur vir kos. Bloubessies is vir my meer pers as blou. Blou, eetbare blomme is volop: koringblommetjies, laventel en viooltjies, o, en blousalie. Hulle sê die karikatuur-agtige Toucanvoël se vleis is blou. Maar nee dankie. Bietjie barbaars vir my. Ek het wel 'n stel blou borde wat beste maatjies is met pienk kos soos salm en waatlemoen. Donkerblou is wonderlik dramaties met kos op.
En dan, die uitbundigheid van warm kleure! Rooi, geel, pienk, oranje, pers! Raak jou mond nie ook aan't water by die aanskoue van 'n blink pruim nie of 'n mandjie aarbeie nie? Of 'n sny waatlemoen of 'n diepgebakte skottel botterskorsie met olyfolie en bosbessies en effens geroosterde amandels... Of wat van 'n bak vol knobbelrige suurlemoene in 'n skerf winterson op 'n gepoleerde houttafel? En natuurlik ons eie rooi Peppadew - die soete, pikante ingelegte rissie wat so fluks op 'n pizza of 'n smulbordjie diens doen.
Praat ons oor blomme - is 'n klomp kappetjies in 'n slaai tog nie die joligste byvoegsel nie? Die Midde-Oostelinge had iets beet toe hulle die roos in kos begin tem het. 'n Bloedrooi roos, geur en al, op 'n diepe sjokoladekoek is eenvoudig koninklik.
En beet! Die natuur se eie voedselkleursel. Rooi Fluweelkoek is onaanvaarbaar sonder beet. Hummus raak 'n Bollywood-bydrae met die toevoeging van beet. Beet en Chorizo is dansmaats.
G'n koskryfsel is volmaak sonder verwysing na die wonderlike tamatie nie. Hierdie vrug wat hom soos 'n groente gedra. Hy kom van Mexico af, saam met die Spanjaarde toentertyd, en aanvanklik het die Europeërs hom as giftig beskou. Toe draai hulle handomkeer en beskou hom as 'n liefdesappel. En deesdae, om Mediterreense kos sonder 'n tamatie te bedink, is soos om 'n Saterdagaand sonder braaivleisgeure in die lug te bedink! Ons klomp hier in Afrika staan self nie terug nie - ons eet hom rou, gekook, gebraai, gerooster, ge-balsamiese asyn, gekaas en gevul met rys. Uit Amerika kry ons selfs idees om hom groen te eet. Die veelberese tamatie het jouwrintiewaar selfs die wegneemmark binnegedring. Daar loer byna altyd iewers 'n dik, skewe sny by 'n polistireenboksie uit. En deesdae kan jy tamaties koop wat nie soos tamaties lyk nie! Hulle lyk soos goudgeel mini-pere, soos baba gestreepte waatlemoene, of hulle is grasgroen, maar ryp. Jy kan mooi trossies koop en Caprese-kranse op jou tafel bou met Fior de Latte en basilieblare. Koop hulle gedroog. Of kook konfyt met hulle saam met rissies en bedien die dik, marmalade-agtige soetbrand op kaas.
En as alles gesê en gedaan is oor kleure, wie is die wenner? Ek sal nooit kan sê nie. Hoe kan mens kies? Elke kleur, elke skakering, elke nuanse waarmee die kaleidoskoop ons plesier....
Ek sê net dankie vir die voorreg om alles te kan sien. My kat ook.
No comments:
Post a Comment