Saterdagoggend is ek met die stofpad Cintsa toe na 'n vriendin se verjaardagpartytjie. Elke uitklim om 'n hek oop te maak, was 'n kans om my lyf te vul met die koue varsheid en kruiebossies se geur. Ek moes my hare oor vasmaak, want die wind het my knip losgewaai. Terug in die bakkie kon ek voel hoe die koue teen my kopvel vasgevang is.
My oë het heeltyd fotos van die landskap geneem. Tyd het teen stadige aksie beweeg. 'n Ry bome op die horison soos 'n kam waarvan die tande gebuig het. 'n Dammetjie met een enkele voël. Die lang grasse al langs die pad sou my hipnotiseer as ek nie weggekyk het nie. Die blink handbreedte op die hek se ketting waar jare se vasvat geval het om oop en toe te maak. Die lug se pallet was nou wit wolke met sonlig geel en groen soos 'n te hardgekookte eier, dan 'n dreigende staalgrys. Soms het die wolke weggeskuif en die blou onskuldig deurgeskyn.
En die grou see het woedend getier en gletsers skuim die lug ingespoeg.
My man het 'n pot boontjiesop gekook. Met baie beesskenkels en groente en tyd. Trooskos en sielskos. Wat die volgende middag weer oopgewarm en tydens kaartspeletjies uit koffiebekers geslurp is.
Ons jaag ons lewens deur soos batterybeertjies. Goeters gebeur. Hartseer goeters en ontstellende goeters en goeters wat, soos water wat in die see geloop het, nooit weer herroep kan word nie. En partykeer raak ons sommer net moeg; ons batterye raak pap. Sulke tye is 'n mens erg dankbaar vir 'n yskas. 'n Spens. 'n Broodblik.
Wat is dit aan eet vir troos? Wat daaraan help? Is dit die hap - die sink van die tande in iets wat meegee tot bo- en onderkaak soos een toemaak? Dis hoogs onwaarskynlik dat 'n mens 'n tand sal kraak op trooskos. Is dit die salige smeer van smaak en tekstuur oor die tong en verhemelte? Temperatuur? Warmte? (ek dink die middernagtelike Amerikaanse gewoonte van roomys-eet gebeur net in flieks) Of lê dit by die sluk van 'n volgelaaide lepelvol liefdesgawe aan die maag?
Trooseters is goed ingelig oor al die -fiete en -sieme en -ieme wat vrygestel word wanneer ons eet. Maar dis alles klinkende kastroldeksels in ons ore. Ons soek slegs die diepe bevrediging. Die baarmoeder waar daar niks verkeerd kan gaan nie, waar 'n mens die volmaakte terug-sêding het, waar almal lief is vir mekaar. Waar jy al die antwoorde vir jou kinders het en waar jy in jouself glo. Waar jy nooit ooit op die hamsterwiel net hardloop en hardloop en nie weet hoe om af te klim nie. Vir 'n oomblik, ten minste.
Party mense voer aan dat ons 'n spul emosioneel onbevoegde ooreters is. Ek dink dis onregverdig, alhoewel ek sal toegee dat daar al ekstreme gevalle was toe 'n marsipaanstafie met donker sjokolade haastig uit die winkelsak onttrek moes word op pad kar toe. En teen die tyd wat die parkering betaal is, het die papier reeds tussen die kleingeld gelê. Maar vir die ware kenner is daar 'n menigte faktore wat saamwerk om die troos volledig te maak. Soos die ligging: miskien 'n mooi uitsig, of dalk 'n skerf sonlig oor 'n plankvloer. 'n Stil, skemer, maar pragtige kamer. En voor jou 'n mooi bord. Dalk 'n gunstelinglepel - daardie een wat jou mond so intiem ken. Ook nodig is tyd om jou kop en gedagtes bymekaar te kry. Slegs dan kan jy regtig toelaat dat die kos jou troos en herkalibreer.
Dis soos die plaashuis waar ons die naweek was. 'n Opkom vir asem tydens besige weke, 'n ruskans langs die pad. Ek het vir die eienaars hierdie paar sinne gelos
The dirt road leads to the sea,
so furious.
But here is quiet.
A respite.
A sigh of relief.
No comments:
Post a Comment