Wednesday, 7 January 2015

Soms loop ons skeef, maar ons doen wat ons kan

Staan ek teen die voos einde van verlede jaar agter 'n vrou in die winkel waar ons koekbakvoorraad koop.  Haar enkels steek geswel onder 'n dienlike kuitbroek van denim uit.  Haar voete drapeer hulselwers soos uitgerysde deeg bo-oor haar insteekskoene se hakke.  Haar lyf getuig van jare se suiker en goedkoop margarien.  Hare in 'n knoets met 'n knip waarop 'n geel en pienk lapblom rondflapper.  Sy koop jellielekkers en pienk koekkleursel.  Vasberade vat sy haar inkopies en klim in 'n klein bakkie reg voor die winkel se ingang.  Die bakkie se deur moet sy twee keer slaan voor hy behoorlik toe is.

En ek kry ek haar diep uit my hart jammer en sommer myself en die res van die mensdom ook. Ons arme drommels.  Ons werk hierdie lywe van ons in hulle peetjie in, loop soms krom en slinger partykeer rond van gedaan wees, maar ons gaan aan.  Want ons moet.  Of so dink ons.

Ek klim in my kar met my aankope en sug.  Maak gereed vir die episode melankolie wat nou volg. Dis nie sleg nie en dis nie lekker nie.  Dit vat net 'n bietjie tyd.

En nou het die jaar gedraai en ons maak gereed vir nuwe dinge - moed geskep en asem geskep.  Ons sit ons herinneringe op Facebook en op ons rekenaars:  Kinders en grootouers om die Kerstafel.

 Chinese Lanterns wat soos seepbelle die Nuwejaarsnag insweef.  Glimlagte tussen souterige, nat haarslierte.
Pienk skywe waatlemoen.  Braaivleis.  Plat borde vol slaai.  Lamspastei in die swartpot. Gemmerkoekies en Oros.




Ons onthou die heerlike boeke wat ons vir ure op reëndae lê en lees het. Ons vergeet van die nat handdoeke wat die tent volgehang het op daardie einste reëndae.   Kaartpeletjies tot laat in die nag onder die sterre.  Lag uit jou maag (dit lewer vreeslike lelike fotos, maar die pret gaan die ego te bowe).  Ons dink hoe geseënd ons gevoel het om met ons hele span kinders by 'n restaurant in te stap en 'n lang tafel met baie stoele te beset.  Hoe ryk was ons nie om die klomp, kwetterend en laggend, om ons te sien pizza met hulle hande eet en stukke afskeur vir mekaar on te proe.

Ons herinner mekaar aan die kreatiewe disse waarmee elkeen van die kroos, volgens aard mee vorendag gekom het.  Van beetsap met gemmer terwyl die water van ons vroegoggendski van ons afdrup tot  vetkoek en groenvye terwyl die reën oor ons tent neerstuif.  Ons eet uit plastiek en porselein.  Vlekvrye staal en keramiek en hout.  Daar is rojale kaasborde.  Lamsboude wat die jongmanne soos prinse verorber het.  Olywe en knoffel en dadels.  Drie soorte sout en truffelpasta.  Skaapvleis wat die Vegane onder ons tart.  Swart linguine en quinoa.  'n Koek van neute en sade en 'n piesang- en kasjoeneutroomys vir Kersfeespoeding.  Vars vis met tiemie, en skorsies gevul met songedroogde tamaties, bokkaas en 'n wonderlike produk uit die Klein Karoo - olyfkaviaar.  Dit is krummels olyf, uie en kruie, sout en so lekker dat jy 'n opgehoopte lepel uit die blikkie moet skep en skelm in jou mond druk voor iemand sien. En dan kamstig baie spaarsamig nog 'n lepeltjievol sprinkel oor 'n slaai of groente vir sewe.






En plots is alles verby.  Kinders vertrek na hulle eie lewens wat hulle besig is om meer en meer te betree.  Ons besighede begin ons lewens weer infiltreer met e-posse wat die Kers- en vakansieaanbiedinge en gemorspos stadig maar beslis begin vervang.

Ek en Manlief gaan stap op die strand met die plan om traksie vir die jaar te kry.  Die sand is besaai met klippe.  'n Mens kan nie waag om op te kyk nie, jy moet die hele tyd uitkyk vir die toonstampers en hier en daar 'n pampoentjie wat nog met sy pers stekels tussen die growwe klippe lê.

En ek dink by myself:  Partykeer moet 'n mens net voor jou kyk en oppas vir die klippers.  Dis nou maar so.  Daar kom weer tye vir sonsopkoms en -ondergang bewonder en die kom en gaan van die branders te bepeins.  En dan waardeer jy dit soveel te meer.


No comments:

Post a Comment