Tuesday, 15 April 2014

Om den Brode

Hier is vandag nog een van my pa se pennevrugte - 

As dit oor brood handel, dink ek dadelik aan ontbyt, want dis die maaltyd waar hoofsaaklik brood en affiliale van brood soos byvoorbeeld pap geëet word.
Iemand het eenkeer gesê ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag en gee liewer jou aandete vir jou vyand. Daarom wil ek eers iets oor hierdie belangrike maaltyd sê. Gedurende die nag is jou kouapparate, jou tande, gesluit. Vir die eerste maaltyd in die oggend word hulle weer ontsluit om te begin byt en daar het ons ons woord ontbyt. Met breakfast verbreek die Engelsman die vastyd van die nag terwyl die Duitser `n vroeë stukkie geniet met sy Frühstück.
Toe ek as kind in Namakwaland grootgeword het, het ons nie een van bogenoemde drie woorde gebruik nie. Nee, ons het gesê ons eet agtuur of ons het die werkwoord gebruik, ons gaan agtuur. Jy sal seker nie weet dat dit die woord is wat die ou Wes-Franke eeue gelede vir ontbyt gebruik het nie.
Miskien het ons tog op die plaas eers so rondom agtuur ontbyt geëet, want nadat jy opgestaan het, drink jy net koffie en  moes die koeie eers gemelk en die bokke en skape uit die kraal gejaag en gestelstoot word. (Gejaag word in die rigting waar jy wil hê hulle die dag moet gaan wei).
Wag, kom ons gaan agtuur nou maar. Ons trek weg met die Engelse se cereals. In die jaar 496 v.C. het daar `n verskriklike droogte op die Italiaanse platteland geheers. Ten einde raad het die priesters die orakel geraadpleeg oor wat hulle moes doen dat dit kan kom reën. Die antwoord was dat hulle `n nuwe godin moes aanneem en dat hulle onmiddellik offerandes aan haar moes bring. So het Ceres dan die beskermer van die oes geword. Die priesters van haar tempel het ook sommer die graanmark beheer. Om `n goeie oes te verseker, is die eerste graan wat afgesny is aan haar geoffer. Die Latynse woord cerialis beteken ”van Ceres” en dit het ons die woord cerials gegee.
Twee ou bekendes is Post Toasties en Kelloggs Corn Flakes. In die negentiende eeu het `n vlaag van vegetarianisme deur Amerika getrek. In Michigan het `n sekere dame van die Adventiste-kerk in 1866 haar Western Health Reform Institute opgerig vir mense met vetprobleme, hoë bloeddruk, ens. As bestuurder het sy ene dr. John Harvey Kellogg in diens geneem. Hy het dadelik verskillende soorte graankos begin maak. Een van sy pasiënte was Charles W. Post, wat later Postum en Grape Nuts sou uitvind. Kellogg het sy graanvlokkie uitgevind vir `n pasiënt wat haar vals tande gebreek het op `n kors klipharde eierbrood!
Soms geniet ons vir ontbyt daardie lekker Franse broodjie, die croissant, wat “sekelmaan
beteken. Dit laat dink `n mens dadelik aan die Turkse sekelmaanembleem wat op hul vlag pryk. In 1863 het die Turke Wene beleër. Die Weense bakkers het toe glo as teken van hulle minagting vir die Turkse vlag die ontbytbroodjies met daardie vorm begin bak.
`n Ander oorlewering wil dit hê dat die bakkers in die oggend vroeg iets onder die stadsmure gehoor het. Hulle het alarm gemaak en die Turke betrap waar hulle besig was om `n tonnel onder die stadsmure deur te grawe. Om hierdie heldedaad van hulle te gedenk, het hulle die broodjies gebak. Of dit so is, weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat `n bakker vroeg moet opstaan om te kyk of die suurdeeg gerys het.
As die suurdeeg nie gerys het, is jou beplanning ietwat van koers gegooi en moet noodmaatreëls getref word soos die Bybelse “ongesuurde brood” om brood vir ontbyt op die tafel te hê. Hierdie “ongesuurde brood” is natuurlik roosterkoeke wat sommer vorentoe smaak. Ai, en om nie eens van vetkoek te praat nie!
Toe ek op skool was, het ons omtrent al die werk in die koshuis self gedoen. So was daar ook die bakkers. Hulle produkte het gewissel van goed tot uiters swak. Miskien het suurdeeg wat nie goed gerys het `n rol gespeel by die mislukkings. Hoe dit ook al sy, die brood in die koshuis het sy naam wel gekry na aanleiding van die swak produkte. Weens sy elastisiteit as jy dit kou soos wanneer jy `n motor se koppelaar intrap, is die brood clutch genoem.
`n Broodstorie sal nie volledig wees as daar nie ook van beskuit gepraat word nie. Die woord is mooi  beskrywend wat dit is, want be- (bi-) beteken mos “twee” en –skuit kom van Frans cuire wat “om te kook” beteken. Wel, eintlik bak en nie kook nie, maar dit word definitief twee keer in die oond gesteek.
Om te besef hoe belangrik brood is, hoef `n mens maar net te kyk na die baie woorde met brood wat na armoede of rykdom verwys. As gesê word dat jy brooddronk is, beteken dit dat jy versadig is van brood en geen gebrek ken nie en dus kan bekostig om baldadig en uitgelate te wees. Maar as die Duitsers sê jy moet die broodmandjie hoër hang, beteken dit dat tye moeilik is en dat jy suiniger moet lewe.
Waar rykes diegene is wat figuurlik brooddronk kan wees, is dit egter arm en verhongerde mense wat letterlik brooddronk was. Teen die jaar 1000 n.C. het Juliemaand in Engeland bekend gestaan as die Hongermaand, want dan was die jaar se oes nog nie ingesamel en die skure was so te sê leeg. Die rykes kon wel kos bekostig, maar die armes het broodsgebrek gely. Daar was natuurlik nog nie spuitstowwe om peste in die graan te bekamp nie en dikwels was die graan met brand (skimmel) besmet. Die verhongerde armes moes maar vir hulle brood van hierdie graan gebruik, min wetende dat die besmette rogbrood die dwelmstof LSD (lysergic acid), die bekende kultusdwelm van die 1960’s bevat het.
Hulle het ook poppiesaad, hennep (Indiese dagga) en drabok (`n onkruid in graan) gedroog en gemaal en `n brownie wat bekend gestaan het as ”crazy bread” gebak.  Alhoewel hulle honger gely het, het die armes se “brood” hulle darem in staat gestel om in `n eksotiese en kunsmatige paradys te kom.
Voor my op die ontbyttafel is kitspap en braaibrood en die eters lê heerlik daaraan weg, min wetende dat die produk op die tafel met harde werk voorafgegaan is. Vandag miskien minder met moderne masjiene, maar in my jongdae is daar baie sweet weggegooi om brood op tafel te hê.
Met nostalgie dink ek terug hoe ek as touleiertjie op witgerypte oggende op en af met die akkers langs voor die ploegspan gestap het. As ek na die merke op my linker pinkie kyk waar ek my in November/Desember toe dit oestyd was met die sekel raakgesny het, voel ek weer saam met GA Watermeyer as hy in sy gedig “Oestyd” sê:
Dagbreek buig die koringstoel
en skud sy koel dou op die kluit;
sonop sing die sekels soet
met raspende geluid.
Van skemerrooi tot skemeraand
flikker die sekels op die land;
pyntaai word my rug gelooi,
ek gryp met ratser hand.
Of Boerneef wat die trapdag vir my in herinnering roep:
Dis die stalpêre en die veldspêre
dis die roodbruin reun en die merrie meddie bles
hulle trap hom fyn hulle draf hom kaf
want dis trapdag vandag ennie wind waai wes
As jou rug dit oorleef het by die koringsny, word hy nou weer gefolter as julle die trapsel met die gaffels omkeer.
Ek maak weer die meulstene “skerp” deur die klein groefies op die stene dieper met die bilhamer te kap. My ma het geglo dat slegs meel wat deur `n perdemeul gemaal is vir insuurmeel sal deug, want die stoommeule maal te vinnig en “verbrand” die meel.
Ja, van die vroegste tye af het die meul om die koring te maal `n belangrike rol gespeel. Dink maar aan vanne soos Mulder, Müller en Miller wat heenwys na die beoefenaars van hierdie belangrike beroep om koring te maal. Gedurende die Middeleeue toe die feodale stelsel nog in swang was, moes die lyfeienes slegs die landheer se meul in ruil vir hulle handearbeid gebruik. Hierdie meul (Frans banal) was vir hulle dié voorwerp wat vir hulle die beste hulle haat vir hierdie gebruike van  onderdrukking versinnebeeld het. Derhalwe die oorsprong van die woord “banaliteit” (gemeenplaas, afgesaagdheid, alledaagsheid) wat ons vandag nog gebruik.
Vroeër is die gatskuur soms gebruik as daar dringend meel benodig is. Hierdie meultjie bestaan uit twee op mekaargeplaaste (skyfvormige) klippe waarvan die boonste aan `n pennetjie met die hand in die rondte gedraai word, terwyl die koring met die ander hand tussen die klippe ingevoer word.

Sonder twyfel plaas ek brood in die nommer een posisie as dit by kosvoorkeure kom. Seker ook daarom dat dit in die modelgebed van ons Heer die enigste kossoort is wat genoem word as ons elke dag moet bid:” Gee ons elke dag ons daaglikse brood.” 



No comments:

Post a Comment