Saturday, 12 April 2014

Onvolmaakte Volmaaktheid

My man het 'n Cat Stevens CD in my kar vergeet.  Ek weet nie wat om daarmee te doen as ek dit uitgehaal het nie - die kassie lê in die huis en ek vergeet die heeltyd om dit kar toe te vat.  Nou luister ek maar na die perd (of kat, seker eerder).  Dit val my op hoe lelik die man se stem is, maar hoeveel uitdrukking, emosie en tekstuur hy daarmee aan sy liedjies gee. Hoe hy sy krakerige, praterige, nie baie nootvaste stem gebruik om die lieflikste melodieë en sielvolle lirieke lewe te gee.  Die mooiste gedeeltes van die liedjies is juis waar daar 'n vals noot hang.  Ek vang myself dat ek spesifiek luister vir die onvolmaakte elemente in die musiek, want dit is wat die skoonheid veroorsaak! Wat gaan nou aan?

'n Heel paar jaar gelede het ek in 'n tydskrif 'n foto gesien van Theresa Player, Gary se dogter, en in eie reg 'n uiters suksesvolle spysenier en restaurateur.  Sy het by haar dogtertjie gekniel en was besig om iets aan die se rokkie vas te maak.  Wat my opgeval het van die foto, was nie die dogtertjie se pragtige pienk rok nie en ook nie Theresa se glansende swart hare of haar ontwerperspakkie nie.  O nee.  Dit was haar tone wat  oor haar sandaal gehang het, omdat haar voet deur die sandaal se voorste band gegly het.   Ek was totaal gefassineer deur hierdie supergesofistikeerde vrou wie se tone oor haar skoen hang.  Dit het die foto vir my tot 'n onthouenswaardige pragstuk verhef.

Nog verder terug in my herinneringe is 'n armband van 'n vriendin van my ma.  Dit was een van daardie 'slawe-armbande' wat om die bo-arm pas.  'n Mooi, egte goue band, nie te breed dat dit lyk of sy 'n dansitem met 'n luiperd of luislang moes uitvoer nie. Net baie elegant.  En as laerskooldogtertjie reeds het ek besluit dis 'n stukkie juweliersware wat ek eendag moet hê.  Nou ja, op bykans 50 was dit my nog nie beskore om 'n goue een te besit nie.  As student had ek wel 'n koperarmring wat, ek dink, 'n onderdeel van 'n trekker was.  Die ding was so swaar dat ek hom net in die voormiddag kon dra.  Tydens middagete kon ek nie meer uithou nie, dan is hy afgestroop oor die elmboog.  So het hy seker maar op 'n kafeteriaskinkbord  beland.  Iemand moes dit aangesien het vir 'n nutteloosheid en saam met die hoenderbene in die drom gegooi het.  Of dalk - hoop nie so nie - maar dalk het een of ander bendelid dit in die hande gekry en is dit vandag 'n gedugde wapen.  Oeps.  Terug by die mooi, goue armband.  Alhoewel die dame 'n pragtige, slanke vrou was, het die armband 'n keep in haar arm gemaak sodat die vleis aan weerskante van die band effens gebult het.  Hoe dan anders?  Die band sou mos nooit bo kon bly as dit nie vassitplek gehad het nie?  En juis dit was die mooigeit van die armband.  Haar arm wat aan weerskante gebult het. 

Hulle sê die mees gesogte fotomodelle is diesulkes met oneweredige gelaatstrekke.  Binne perke natuurlik. Ander ding wat hulle sê, is dat ons so lekker in die natuur ontspan omdat daar nie reguit lyne en regtehoeke is nie.

Handgemaakte artikels en artisinale kos is hoogmode.  Hoe knoetser en skewer, hoe beter.  Ons stroom in ons massas na plaasmarkte en eet spek en eiers uit onpas blikborde en verbrand ons lippe met koffie uit blikbekers.  Seker maar 'n globale bewussyn wat net so sat is vir massaproduksie en (gee my krag, wat is dit?) perfeksie.

Ek lees nou al vir vier maande ernstig en toegewyd aan Zen and the Art of Motorcycle Maintenance van Robert M. Pirsig.  Die skryfstyl en inhoud is meestal bo my vuurmaakplek en ek moet so te sê elke paragraaf 'n paar keer lees voor daar iewers 'n rafel loskom waarmee ek sin kan begin maak.  Maar wat 'n wonderlike reis van selfaanvaarding en insig in die diversiteit van die mensdom.  Ons MOET verskillend wees!  Anders werk ons nie lekker nie.  Daai tjolstorie dat daar net een manier is en dit is die regte manier, dra geen water nie.  Die tegniese, deeglike, versigtiges is nodig.  Die vinnige, vreeslose, vergeetagtiges is nodig.  Die sagte, behoudende  middelmatiges is nodig.  Die kreatiewe, melankoliese dramatieses is nodig.  Saam vorm ons 'n geheel.

My mantra in die kombuis is 'Gaan ons meet of gaan ons kook?'.  My man s'n is 'Geniet elke goeie ete wat my vrou voortbring, want dit mag dalk nooit weer so proe nie en die volgende maaltyd kan straks oneetbaar wees, want sy meet nie'.  En tog prut ons tweetjies heerlik saam in ons kombuis.  Hy kook lieflike, goue konfyt en ek maak goue broodvlegsels en -knope.

Hier is 'n paar voorbeelde van die vrou wat nie meet nie se produkte en van die man wat meet se goue konfyt.






 



No comments:

Post a Comment