Ek geniet vroe'more in die tuin. Die luuksheid van die stilte en die frisheid van elke plomp blaar na die verleppende hitte van die vorige dag verkwik my siel. Laat my telkens besef dat die Here se genade elke dag nuut is.
So bewandel ek my tuintjie nou een oggend en word opeens van my vrede beroof toe ek sien wat my tuinman aangevang het. 'n Ou plestiek mopsteel (nog met sy ophangogie aan) in die grond gedruk om 'n tamatierank te stut. Vasgemaak met 'n stukkie baaltou wat hy ek weet nie waar uitgegrawe het nie. Dit lyk toe vir my verskriklik kommin. Tot ek besef ek hou eintlik daarvan. Die eerlikheid van 'n ding gebruik omdat hy beskikbaar is en nie meer 'n ander doel het nie, staan my toe daardie tyd van die oggend erg aan. Soveel so dat ek die kamera gaan haal.
'n Paar dae later beland ons by 'n restaurant wat 'n seekosaand aanbied. Maar nie die verwagte buffet (of soos sommige mense sê, baffei) nie. Daardie uitpakbesigheid van overdaad (en pienk krapstafies wat soos uitveërs tussen alles ingedruk word) en wat na die eerste twee opskeppe lyk of 'n kar met perde daaroor gery het. O nee. Elke tafel kry sy eie skottel. En een skottel op 'n slag, met net een of twee soorte kos daarin. Mooi skottels. Hulle kon amper leeg ook by die tafel aankom, ons sou hulle nog steeds kon waardeer.
Die eerste pragtige bak was vol mossels, gepak soos 'n koper en swart krisant met flertse oranje. En onderin die bak 'n sawwe sousie met stukkies knoffel, so gestoof dat jy hulle met jou tong teen jou verhemelte kon smeer. Toe kom daar dik snye korserige soetsuurdeegbrood om die sousie mee op te vee. Ons kyk in stilte na mekaar en sê dankie. Eet met ons hande. O, die eenvoud. Geen intellektuele gimnastiek nodig om die en daai uit te ken nie. Net die opregtheid van kos uit die natuur se spens waaraan min gepeuter is. Intussen verknog ons ons aan die ou silwer servetringe, vryf die sagte, deurleefde linneservette teen ons wange en laat toe dat die perlemoenglans van die wyn in die mooi glase in ons oë weerspieël.
Die res van die fees het bestaan uit knarserige, vars garnale en geroosterde vis. Suurlemoenskywe, tuisgemaakte Tartaarsous, dik soos plaasroom. 'n Aartappelgebak met olywe en 'n eenvoudige, growwe slaai. Ons het daar uitgestap met vrede en genoegdoening in ons harte. Niemand se are het onder transvette gekreun nie. Ons gemoedere en ons mae was tevrede, sonder oordoen en ongemak. Ons sintuie was gevoed. Mooi kos, mooi tafel.
My gedagtegang is nou vir 'n rukkie al bedrywig met eenvoud en per implikasie, eerlikheid, versus tierlantyne en groot gaan en oorboord gaan en nie stop voordat elke openinkie gevul is met iets nie. Hetsy kos of klere of watter materiële dinge ookal mense se neusvleuels aan die beweeg sit nie. En moet my nie verkeerd verstaan nie. Die uwe nie een vir vervelig en vaal nie. Sy dooi oor 'n mooi patroon en lyk soms soos 'n paradysvoël van die kleure gedos. En 'n Bollywoodfliek tiek al die boksies vir my.
Ook moet ek ten sterkste (en hier trap ek tone, ek weet) erken dat die eenvoud van 'n Bring-en-Braai my negatief stem. Dit kan mos nie werk nie. Jy bring hoender en ek bring wors en Sus en So bring fillet en skaaptjops. Nou moet die arme gasheer probeer om alles gelyk en op dieselfde kole te probeer gaar en eetbaar (gee my krag) kry. En as daar onmanierlike gaste is, verruil hulle stilletjies hulle vleis met jou hoendersosatie en jy eindig met 'n skoenvel van 'n skaaptjop op jou bord. Kyk, ek verstaan dat daar vuur moet wees. My eie man sal vuur maak, al is dit om die oorskietsop mee op te warm. Maar gee dan liewer vir elkeen 'n dis om te bring en koop maar self al die vleis. Of vra een om wors te bring en twee ander om tjops te bring. Los die Bring-en-Braaistorie vir Kerk-, Klub- en Skoolfunksies. En daar braai jy liefs jou eie tjops. Of is dit nou erg onsensitief van my en boonop onekonomies ook?
Laat ek my dan liewers by my gedagtegang bepaal. Of sommer net sê ek wil in die nuwe jaar eerliker, eenvoudiger en minder gekompliseerd leef. Smaak my jy hoef dan minder verskonings te soek. Minder komplikasies. Handel 'n saak af soos hy opduik en sit hom agter jou. Sien die mooi in dinge en mense. En put daaruit krag en vreugde.
Natuurlik maklik om met vakansie te wees en in 'n nat swembroek te sit met 'n pienk skyf waatlemoen en sulke dinge kwyt te raak. Maar die hoop beskaam nie en probeer gaan ek probeer. Hier's 'n paar van die eenvoudige dinge waarmee ek my kamera die afgelope tyd bemoei het.
Sunday, 29 December 2013
Tuesday, 17 December 2013
Gee hulle Kreef!
Ek lees 'n artikel oor hoekom arm mense hulle geld op luukshede en statussimbole spandeer. Die skryfster is 'n Afri-Amerikaner wat vertel hoe haar ma, met 'n enkele deftige uitrusting, gereeld die inwoners van hulle buurt verteenwoordig het wanneer dit maatskaplike sake behels het. Waar die ander mense ure en selfs dae moes toustaan met hulle ou verweerde kleertjies, het sy voorkeur gekry oor haar bruin pakkie, stewels en pêreloorbelle.
Dis natuurlik 'n mooi storie. Elders loop kinders met gate in hulle tande en val huise inmekaar, maar daar word geld spandeer op die nuutste handelsmerkklere en -skoene.
Ek kan ook nogal 'n eier lê oor die prys wat in die Naam van Eet betaal word. En ek bedoel nie die globale sug wat hierdie tyd van die jaar opgaan oor wat vleis en aartappels nou kos nie. Ek bedoel die uitgawe, beide in geldwaarde en onse arme planeet, op die mees uitspattigste eetgoed. Nie om honger te stil nie, maar omdat dit daar is/raar is/bisarre is. Voorbeeld: 'n Steurvis word oopgesny tussen ouderdom 20 en 100 (ja, regtig!) om kaviaar te kry. Dis nie 'n kwessie van eiers oes nie - die visse word doodgemaak. En laat ons maar die hele foie gras-kwessie nie verder holrug ry nie. Hoeveel van ons diere- en planteryk is al uitgewis en vernietig deur die jare? Want daar word derduisende betaal vir 'n klein stukkie rariteit.
Uitermatige uitspattigheid op die tafel is niks nuut nie. Ek het 'n 15de-eeuse resep vir die voorbereiding van swaan. 'n Ortolaan is 'n piepklein voëltjie - onwettig om te jag, te koop of te eet - maar die klandestiene etery van die outjies vind al vir eeue plaas. En heel barbaars die voorbereiding: Hulle word in 'n donker hokkie gehou, met baie graankorrels. Omdat hulle nie agterkom of dit dag of nag is nie, eet hulle die hele tyd en swel op. Dan word hulle in konjak verdrink. 'n Mens (sic) eet dit tradisioneel onder 'n servet, om die skaamte van die daad weg te steek. Sies man!
Ons Westerlinge vind die hond-etery van sommige Oosterlinge afstootlik. Slangeet ook. Dan kan ek darem ook nie perd-eet bedink nie. 'n Paddaboudjie sal ek wel verorber en as kind het ek sprinkaan gaargemaak en genuttig.
Maar genoeg van die barbarismes! Alles is relatief. In Mozambiek eet jy garnale tot jy nie meer kan nie, en ook kasjoeneute. Want dis volop. In Thailand koop jy 'n kokosneut wat behendig dop-af gekap is, druk 'n strooitjie in en stap strand-af met die geweldige, eksotiese konka in jou hande. En so met die stap, loer jy by 'n mark in en koop sommer vier soorte rys, want dis volop. In Suid-Afrika bak jy beskuit met karringmelk, maar in Europa moet jy ander plan maak. In Mexiko kan jy 'n dis maak van 6 verskillende soorte chillies. Hoe luuks is DIT nie! Die verskil is net dat dit jou nie 'n hele genus kos nie, want dis volop.
Nog 'n interessante eienskap van dierbre Homo Sapiens is dat ons mos daarvan hou om luuksheid in tye van min te simuleer. Ek verstaan dit goed. Wie hou nie daarvan om by 'n kosmark uit te stap met sampioene so groot soos pierings en 'n handjievol olyfknewels en een of ander tannie van wie-weet-waar se plaasbotter nie? Dat dit vier keer meer gekos het as Checkers se plestiekbakkie sampioene, word nie genoem nie, maar sal in die daaropvolgende week sy tol wel eis. Tuis braai jy die swamme en dien hulle op in jou swierigste bakke, met lapservette, en verbeel jou jy sit iewers landelik (terwyl jy die gekraakte sement op jou stoep ignoreer vanaf jou supermarkplastiekstoel).
Gedurende die depressiejare het 'n vindingryke restaurateur in New Orleans oesters, wat volop was en so half alledaags, gebruik om Franse slakke, wat haas onbekombaar was, te vervang. Hy het 'n allamintige ryk sous van botter en groengoed en bietjie byt prakseer en oor die skulpe gesmeer. Toe gerooster met broodkrummels. En toe, nê, speel hy sy troefkaart. Hy noem dit Oesters Rockefeller. Na die rykste man van van daardie tyd se Amerika. Onmiddellike sukses. Sy kliënte het geëet en geëet. En vergeet van die sleg van die depressie. Vir een ete was hulle op gelyke voet met miljoenêrs.
Ek had 'n paar oesters in my vrieskas. En Sondagmiddag het na 'n goeie geleentheid geklink om ou Rockefeller se naamgenoot te probeer. Klomp pietersielie met botter, Tabasco, Vermoet in my masjien gebrrr. Toe oor die oesters gesmeer, mildelik met broodkrummels gegooi en onder die rooster gedruk. Ons het dit geëet met pikante vurkies uit die 70s wat my ma my gegee het.

Sunday, 8 December 2013
Die Heilige Graal
Toe ek ongeveer tien was, het ek leer broodbak. Met een woord gespel, beslis. Soos fietsry of boomklim of gekskeer. 'n Vaardigheid, met ander woorde. Wat deel van jou samestelling raak en jy nooit afleer nie.
Brooddeeg is waarskynlik die mees gewillige, mees vergewende medium waarmee 'n mens kan werk. Hou dit relatief warm (soos wat dit lekker is vir 'n mens) en moet dit nie ontstel nie. Gee dit tyd om besluite te neem. Investeer daarin. Wees eerlik. Goeie, steengemaalde meel en sout en water. Dalk olie en 'n bietjie suiker. En tyd. Om 'n behoorlike brood te bak, is soos om in die middel van die dag te gaan kyk na 'n goeie fliek. Jy weet jy gaan soos 'n mal ding moet jaag as jy daar uitstap om die verlore tyd in te haal, maar daardie verlore ure is om 'n bisarre rede goed vir jou. Ek noem dit die Graalfaktor.....
Die genoegdoening van hande in die deeg inwerk, knie tot jou kneukels skoon raak en die deeg soos 'n elastiese bal bymekaarkom, het nie 'n gelyke wat jy kan koop nie. Die potensiaal wat in jou kniekom lê na die alchemie van meel en water en daardie intrinsieke waarde van iets wat met die hande gemaak is, en oor eeue nooit verander het nie. En dis maar die begin.
Van hier af werk die towerkrag net sterker en betrek dit al hoe meer sintuie. Gee jy die kniekommetjie die nodige hitte en humiditeit en stilte, beloon hy jou met 'n boeppens van 'n inhoud. Knie die baldadigheid af en gee jou verbeelding vlerke. Rol dit, pan dit in. Sprei dit oop en druk groot gate met jou vingers daarin, wat jy met die lieflikste olie en kruie vul. Vleg dit. Maak dit soet met heuning en droëvrugte. Marsepein. Knie kaas in. Biltong of kaiings. Brandgoed of olywe, of dalk neute. Rondom Paasfees druk jy rooi gekleurde eiers in 'n broodkrans. Smeer dit met eiergeel. Gooi sade oor. Verf dit met melk. Rol dit in semolina. Speel. Knip dit met 'n skêr om soos n koringgerf te lyk.
Dan neem jy die uitgedyde lieflikheid oond toe. Of vuur toe. Of kokende olie in. En wag. Die geur van brood wat bak is mos byna tasbaar. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat gril daarvoor nie. Die Heilige Graal. Dis universeel en eerlik en die simbool van voeding en geborgenheid. Met jou daaglikse brood onder die arm kan jy 'n goeie entjie vorder.

Die Westerse wêreld oor word brood vereer as nommer een kos. In Griekeland word 'n troubrood vir jou huwelik gebak - 'n krans vol versierings. Dan hang jy hom teen jou muur op. Daar is brode wat al dekades en dekades teen mense se mure hang. Hoe mooi om brood die simbool van jou huwelik te maak. Ek kon in elk geval nog nooit die sin verstaan van saam sout opeet nie.
Ou brood word in Arabiese lande gerooster en in slaai gebruik om Fattoush te maak. Ons maak broodpoeding of Franse roosterbrood van gister se brood. Die Franse verpulp brood saam met chillies om Rouille te maak. Dis 'n sous wat lieflik saam met mossels proe.
En wie onthou die hartverskeurende episode uit die tekenprent Heidi, toe sy die sagte broodjies uit die rykmanshuis in haar kas gebêre het vir haar blinde oumatjie in die berge, net om agter te kom dat hulle kliphard geword het?
Sondagaande vul die geur van roosterbrood hierdie huis. Met Marmite of Konfyt en Kaas. Daarby 'n beker rooibostee. Onwrikbare tradisie.
Brood. Gekoop of self gebak. Dis kos. Manna. Voorsiening.
Maar
sê my, kan jy braaibroodjies maak?
Sunday, 24 November 2013
Groengoed
Daar is min Somersdinge so lekker vir my as om laatmiddag, wanneer dit lyk asof daar poeier in die lug is en die dag se rem stadig aangedraai word, na my groentetuintjie te loop. Ek gaan sit in 'n ordentlike hurkposisie a la Boesmanvroutjie en begin pluk vir die aand se kastrol. Dit is die tyd wanneer my kop besef daar is 'n ander dimensie van Tyd wat teen 'n oerritme beweeg. Ons mis dit vir die grootste deel van ons lewens. Iemand het eenkeer vir my gesê 'n mens ontspan so lekker in die natuur omdat jou oog geen regtehoeke of selfs reguit lyne optel nie. Ek wonder of dieselfde bloudruk nie oral in die natuur se tyd en vorms voorkom nie.
Sit ek die sproeier aan hier oor my groengoed, oorweldig die geure. Basilie voor in die koor. Die trrrr van die druppels op die dagwarm blare en die dankbaarheid waarmee hulle netnou weer gaan oppof, stem my rustig. Laat my die sweet en hare van die afgelope dag in perspektief sien. Besef dat more nog 'n dag is en dat die Here se genade elke dag nuut is. En my verbeelding kry so 'n bietjie rondhardlooptyd soos 'n hond wat strand toe gevat word.
Maar helaas. Maak nie saak hoeveel ek my verbeel ek is 'n Vlaamse dame uit 'n vervloë era wat in die tuin loop met 'n kappie en tuisgeweefde lang rok nie - aandete moet op die tafel!
Ek pluk dus 'n armvol spinasie, die groeipunte van verskeie basilieplante (dit help dat hulle nie te gou blom nie en die plant bly nie net 'n dun slingeltjie nie). Ook 'n vuisvol platblaarpietersielie en 'n sprietui of twee. Ek los van die sprietuie om te blom. Hulle maak die pragtigste tossels en dan kan ek ook sê my tuin het 'tekstuur'! Gie gie.
Kombuiswaarts met my gerwe en begin stook aan die hert.
Ek doen maar die moeite om die blare goed te was. 'n Mens hoor darem alte dikwels van goeters wat kom eiers lê in jou brein. Persoonlik dink ek dis al die polistireen en plestiek waarin ons groengoed verpak word.
Vanaand wil ek fyn wees, dus sny ek die stele van die spinasie uit die blare. Dan stapel ek die spinasie in 'n kastrol en balanseer die delsel bo-op. Lyk bietjie soos van ons regeringsdames by 'n boomplantdag of een of ander gerfspitgeleentheid. Met 'n verspotte keppie wat bo-op 'n pruik vashou vir dood en lewe.
O ja. Kastrol vol spinasieblare. Die skoonwaswater wat aan die blare sit, is genoeg vloeistof. Sit die stoof op stadig aan en los die kontrepsie met die keppie om stadig te stoom en plat te raak.
Maak solank 'n lekker dik witsous. Ek hou daarvan om 'n huisie knoffel goed te voeter en saam met die botter te braai voor ek die meel bygooi. Net nie botteltjieknoffel nie. O wee. Haal die witsous van die stoof af en gooi bietjie room by as jy nie bang is vir jou bikini nie. Krummel ook fetakaas in, kap die pietersielie fyn en skeur die basilieblare. Hulle raak mos swart as 'n mens hulle met 'n mes sny. 'n Knypseltjie neutmuskaat, sommer flambojant baie swartpeper. Wag maar eers met die sout. As daar enige verlate velletjies ham, lepeltjiesvol fyn, gaar hoender, die laaste twee songedroogde tamaties, verwarde, ontpitte olywe(wat het my besiel?) of dalk gebraaide spek in die yskas skuil, gooi dit ook sommer by vir die spangees. Ons gaan daai tamaties se flessie nodig hê vir Pesto van die basilie wat begin uitbundig raak in die tuin. Teen hierdie tyd behoort die spinasie donker en verlep te wees. Gooi dit uit in 'n vergiettes en druk die ergste vloeistof uit met die agterkant van 'n lepel. Dis bliksemswarm. Keer die spinasiekoek uit op 'n plank en krap dit oop om nog af te koel.
Nou gooi jy 'n paar eiers by die witsouskonkoksie en klits om goed te meng. Maar sommer met 'n handballonklitser. Jy wil mos nou nie die feta in 'n smeer omskep nie.
Hierdie fase van aandete word gewoonlik geken deur die uwe wat onthou dat die oond al hoeka aangesit moes gewees het. 180°C. Gelukkig is hier niks wat kan platval as dit vir die oond moet wag nie.
Vat nou daai spinasie en druk dit in 'n bal en wurg die laaste groen water uit. Sit dan die bal op die kapbord en sny hom soos 'n brood. En sommer nog 'n paar snye kruis en dwars na goeddunke. Meng dit halfhartig met die witsousbesigheid. Proe vir sout. Smeer 'n mooi skotteltjie (hier kan ons ook nog speel met tyd vir die oond om warm te raak). Gooi die mengsel in die skotteltjie en druk dit in die (hopelik nou) warm oond. Dis reg wanneer jy slaai gemaak het, die borde op die stoeptafel gepak het en die gereg goudbruin en so half pofferig voorkom.
As jou man se lip hang oor hy net spinasie vir aandete kry, kon hy intussen 'n worsie op die kole bygedra het.
Monday, 11 November 2013
Tiffinblikke
Al gehoor van n tiffinblik? Dis eintlik n stelletjie blikke wat mooi opmekaar pas en met 'n staalraamwerk aanmekaar geklamp word.
En dit is die wonderlikste manier om 'n piekniek te vervoer. Tydens 'n onlangse vakansie in Thailand, het die hotel vir ons n piekniek in hierdie houertjies gepak. Kan jou nie my ekstase beskryf toe ons die vier staaltorings begin uitmekaarhaal en die mees eksotiese disse daarin ontdek nie! Ek't summier vir my een by 'n mark gaan aanskaf.
Wanneer jy eendag kans het, lees Madhur Jaffrey se pragtige memoirs 'Climbing the Mango Trees'. Daarin beskryf sy hoe hulle wallas, hulle gesin se bodes, vir hulle pouses elkeen n tiffin skooltoe gebring het met 'n volledige, gekookte ete, vuurwarm van die stoof af. My arme kinders. Hoe kan 'n grondboonbotterbroodjie nou hiermee kersvashou? Nou ja, ek had geen bode en ook geen tiffin.
Ons gebruik nou onse Tiffin uit Thailand. Joubert vat sy kos daarin konstruksieperseel toe. Elke aand word die vier bakkies gewas en onderstebo op die afdroograk gereed gelê om more weer die daaglikse brood te neem.
Daar is maar 'n sekere romanse aan 'n staalkosblik. Of dit nou 'n tiffin is, of 'n koekblik of 'n teeblik of 'n plat, vierkantige sjokoladeblik met 'n foto van 'n kasteel of 'n Engelse Bobby op.
Dit voel mos net of die inhoud kosbaarder is as iets in 'n helderkleurige plestiekblik.
Sunday, 10 November 2013
Bloubessies
Dis amper alweer bloubessieseisoen! Blykbaar oor twee weke. Ek kom toevallig vanoggend af op 'n artikel oor die outjies - hulle hou jou jonk! En hulle beveg allerhande peste in jou lyf. Daar is selfs n gesigskrop - 2 koppies bruinsuiker, 2 eetlepels bloubessies, 3 eetlepels suurlemoensap. Moenie, moenie, moet seblief nie gebottelde sap gebruik nie. Ewenwel. Dan brrr jy die spul met jou menger tot 'n puree. En skrop. Ek wonder of mens se gesig nie straks pers kan word nie....
Dalk kan mens dit sommer met n lepel eet, en eerder die heilsaamheid per mond inneem.
Hier is Vrydag se kaaskoek, gemaak van 3 houers roomkaas, kondensmelk en die laaste van verlede seisoen se bloubessie-oes wat soos Heilige Graal in die vrieskas gehou is. Laat weet as iemand die resep soek. Jy kan maklik 12 mense van poeding voorsien met hom.
Subscribe to:
Posts (Atom)