Ek en Manlief het 'n paar weke terug met sy motorfiets Riversdal toe gery. Nou voor ek die Vryheid van die Pad besing, is daar enkele aspekte rondom motorfietsry wat ek wil uitlig:
Jou helm druk jou wange teen jou sonbril vas dat jy soos die karakter Gormann uit destydse Redding Internasionaal lyk. En hy was 'n marionet.
Jy kan nie oorbelle dra nie. Hulle druk jou mateloos of hulle verloor soos jou ore oprol met die afhaal van die helm.
Stop jy vir koffie of koeldrank langs die pad, stap jy die restaurant in soos 'n meganiese beer met jou rypak - opgestopte knieë en skouers en al. Jy is lekker styf van die ry, so selfs sonder die pak beweeg jy al agterdogwekkend.
Jou hare. Nie 'n mooi storie nie. Plat en in die een of ander vreemde rigting ingesweet.
Jou neus droog die hele tyd uit en jeuk. Dan moet jy met jou dikgehandskoende vingers die helm se visier oplig en jou neus vryf. Daar is rubberveërtjies aan die handskoene (om kammakastig reëndruppels van die visier af te vee) en hulle kan jou neus bitterlik seer maak.
Jy kan nie vrypostig inpak nie. Daar's drie bokse wat aan die fiets vasgemaak kan word. Ek kry op die meeste twee en 'n half bokse vir persoonlike gebruik. En dan moet 'n mens nog onthou van die botteltjies konfyte en dinge wat jy langs die pad koop. Dis die spreekwoordelike logistiese nagmerrie.
In die somer spook jy jouself in 'n sweterige floute in om in die rypak te probeer inkom. Dis 'n kragtoer om in 34°C selfs net die geestelike oortuiging te bereik om te begin aantrek. Ek het hierdie slag gehuil teen die tyd wat ek by die stewels gekom het. Want hulle het gespes en grrrtsband wat die hele tyd skeef gryp. En jy kan nie lekker buk met die broek nie! Die heupe is so gepanser, dis onmoontlik om dieper as 45 grade by hulle verby te buig.
Maar mens! As jy eers jou sit gekry het (ook nie vir sommer net sit nie...), is dit 'n sensoriese, genotvolle reis wat jou te beurt val.
Dis wonderlik om so na aan die pad te ry. 'n Mens is soveel meer bewus van wat om jou aangaan. Temperatuurwisselings voel jy onmiddellik aan. 'n Natterige klofie of selfs 'n rotswand in die skadu op 'n bergpas laat die temperatuur maklik 'n paar grade binne oomblikke val.
En reuke. Dis 'n onbeskryflik heerlike geur-ervaring om tussen fynbos deur te ry. En denneplantasies. 'n Dooie dier of vuilgoedhoop ruik natuurlik nie lekker nie, maar bring nog dimensies, al is dit net tot 'n mens se stille gedagtegang en die alleenspraak daar binne-in jou kopdop.
My man ry tot voor in die koor by stilhou-en-rystoppe. Ja, tot net-net verby die stopteken. Gevolglik sit ek incognito langs die klein, regop waentjie met sy lang radiomas en bekyk en beluister die bedrywighede van die padwerkers van agter my konvekse venster.
Ons ry Langkloof deur huistoe. Net voor Joubertina stop ons by padwerke. Die waentjie hier langs my is bestrooi met leë tweeliterplastiekbottels. Om die trappie sit die maer, jong vrou wat ons uiteindelik moet deurlaat. Anderkant 'n ver berg stulp donker rookwolke deur die warm, vaalblou lug. Oorkant die pad stap nog 'n vrou. Sy is breedgeskouer en dis duidelik nie haar eerste dag langs die pad nie. 'n Dik trui is bo-oor haar oranje oorbaadjie om haar middel gebind. Sy dra 'n breërandhoed en sy hou 'n sigaret tussen haar duim en middelvinger vas. 'Ek wonner wa-it so brand' se die jonger vrou. 'Lyk issa by Haarlem' antwoord die ander. 'n Bakkie vol brandtoerusting kom van agter verby en vra vir die jonger vrou of hulle kan ry. Sy knik. Neem die radio en waarsku in die mooiste, suiwerste Afrikaans dat ''n noodvoertuig in die dienspad verbykom na die brand toe'.
'n Ent verder stop ons weer by 'n so 'n waentjie. Hierdie keer 'n seningrige mannetjie. Na sy aanvanklike ontsteltenis omdat ons sommer indruk voor almal en nogal voor sy stopteken ook, ignoreer hy ons. Die stroom karre wat anderkant deurgelaat is, begin verbykom. Die radio kraak dat die laaste voertuig 'n blou lorrie is. 'n Groot swart vierwielwa kom verby en daarna is dit stil. Ons maer mannetjie spring op die radio en vra weer hoe het die laaste voertuig gelyk. Blou lorrie. 'Ma die laaste was 'n swart fôrbaai!' Hy loop pad toe en begin op sy vingers onthou. Sy kop knik elke keer as hy nog 'n vinger aftel. Na 'n duidelike innerlike debat, neem hy die besluit. Ry maar.
En so ry ons. Dis vrekwarm en die veldbrand se rook praat in ons nostrils.
By Joubertina stop ons en koop water. Ook 'n groot fles groenvyekonfyt. Ons gooi ons water van 'n vorige stop oor die potplante buite die kafee. Te min te laat, maar darem.
Draai op draai tot net voor Kareedouw. Sela. Hier gaan ons oornag. Skaaphond groet ons by die hoofhuis.
Ons slaap in 'n spierwit gerestoureerde huisie met dik mure. Dis koel en donker binne en ons klam, warm voete plak teen die koue kleivloere. Buite is 'n meulklip onder 'n kraan gesit vir 'n voëlbad. Ek trek my swembroek aan en gaan sit kruisbeen binne-in die klipbadjie en draai die kraan oop sodat die koue water oor my skouer vloei. Later die aand sit ons in die donker onder miljoene sterre en luister na die beeste en bespiegel wat die of daai ver liggie is.
Eintlik het 'n mens so min nodig om tevrede te wees.
Krummels op my Kapblok
Tuesday, 11 April 2017
Sunday, 5 March 2017
Die Tanniebrigade
Ons stap elke Vrydagoggend vanaf Ina se huis en eet daarna krummelpap, gemaak van geel mieliemeel, met Bovril en gerasperde cheddarkaas. En ons drink koffie. Onderweë die afstand wat ons loop, word daar natuurlik gekwetter en geswerjoel soos wat net 'n spul vrouens kan doet. Ons stap tot by Bonzabaai se riviermond; adem die skoonheid van oggend en rivier en sand en branders in, luidkeels, en dan verander die konfigurasie en jy stap verder met 'n nuwe drietal vrouens en die praat hou nie op nie.
Ons noem onsselwers die 'Stap-en-Papgroep', en dis wat ons doen, want waar het jy nou al gehoor van 'n Gemobiliseerde Eenheid wat sonder kos kan marsjeer? Oor pap en koffie word liefdadigheidskaartjies verkoop, resepte en nuwe boeke en flieks resenseer, menopouse se keel toegeknoop en onderskeie krose se hoogte- en laagtepunte bejuig of bejammer. Die groep bestaan al 'n goeie drie dekades en is een van daardie wonderlike instellings wat net aanhou en aanhou, maak nie saak wat nie. Dis 'n ondersteuningsnetwerk, digter en sterkter as 'n tennisheining. 'n Vangnet in tye van nood en selfs dood.
Vrydag noem Wendy dat sy van 'n boer weet wat waatlemoene gesaai het en op die ou end minder as 'n kwart van die prys aangebied is as wat die winkelmanne hom aanvanklik beloof het. Ons bestel summier waatlemoene dat die pitte spat. Want ons is deel van groepe mense, en ons kan netwerk.
Ek dink toe by myselwers aan die Tannies van hierdie land van ons. Dis nou die deel van die samelewing wat gaan boeke oortrek by die skool en die Juffrou se verjaardag organiseer en die Lentedagstap se waterpunte beman. Die klomp wat met stasiewa en kombi opdaag om die bloedjies na die museumuitstappie of krieketwedstryd toe te neem. Ja, hulle wat tee bedien by die ouetehuis se Kersfunksie. Wat geskenksakkies vir die Kinderhuis bymekaarmaak. Wat so en so wat nie meer kan bestuur nie, gaan haal, om by so en so se verjaardagpartytjie te wees. Hulle wat 'n sjokolade of sepie met 'n kaartjie gaan aflaai, net omdat hulle aan so en so gedink het.
Ons ken almal die preek van die Prinse en Priesters. Die Prinse moet genoeg geld maak om die Priesters te befonds sodat hulle die volk van priesterskap kan bedien.
Ek dink daar's 'n derde kontingent en ek is so jammer ek het nie meer opgelet na Plato se Republiek op universiteit nie..... ek kan nie onthou of hy van die deel melding maak nie. En ek het die vet weet nie die energie om hom hou te lees nie! Ek praat van die Tanniebrigade. Hulle het nie geld nodig nie. Hulle gee net. Tyd. Empatie. Liefde. Mededeelsaamheid, Geselsies. Sommiges gedy. Sommiges brand uit, en omdat die stelsel hulle nie erken nie, word hulle agtergelaat en hulle raak introverte en sinies.
En soos wat ek nou hier sit en tik, sien ek 'n rooi lig flits - die Tanniebrigade is aan't uitsterf! Ons lewens het so verander, ons werk lang ure en is uitgemens en het skaars tyd om aandete te maak, laat staan tee te bedien! Matriekafskeide gebruik nou spyseniers (en ek is dankbaar, synde een!). Van oral word professionele hulp ingewin waar vrywilligers minder en minder beskikbaar raak. Dis jammer! 'n Verlies. En die grootste verlies is ons eie. Daardie geleentheid om nuwe vriendskappe te smelt. Die bevrediging van iets te beteken het vir jou medemens. En boonop jou eie ondersteuningsnetwerk te bou.
Gister ontmoet ek 'n vrou, besige kleinseuntjie saam met haar, wat vir my honderde koeksisters en melktertjies vir 'n funksie kan bak (hoekom wil mense dit koeksusters spel?!). Ewenwel, so met ons gelsels saam, besef ek die hele buurt se kinders sak smiddaens na skool op haar huis toe, sy is die familie se kleremaakster/-regmaakster en sy't my kom ontmoet so tussen taxi-ry vir kleinkinders en hulle vriende. Nou so 'n vrou, nê, is 'n Generaal in die Tannieleërmag. Klaar.
Ag, en dan klop my hart ook warm vir diegene wat in hulle beroepe lewens aanraak. Dalk het die konfigurasie net weer verander. John Donne, in sy 'Meditation XV11', sê as een man doodgaan, beteken dit nie dat die hoofstuk uit die boek geskeur word nie. Die geskrif kry slegs in 'n beter vertaling. Geen mens is 'n eiland nie. Dus. Dinge het verander. Daar's gewis minder tannies beskikbaar om die gemeenskap met tee en kombis te bedien. Maar laat ons die Amp Der Tannies aanhou eer. En nie bang wees om so nou en dan 'n Tannie te wees nie. Want ons is nie eilande nie en eendag is eendag.....dan gaan 'n Tannie soos 'n reddingsvaartuig op die horison vir ons verskyn. En ons gaan haar waaragtig waardeer.
En mag sy ook eendag 'n Tannie hê om haar te help. Bakpoeierblik. 'n Blikkie in 'n blikkie in 'n blikkie. Ons is nie eilande nie.
Stap ek gisteroggend deur my tuin en sien hoe 'n kapperplant 'n Tannie van 'n chillieplant gekry het om haar te ondersteun.

Sunday, 19 February 2017
Soos die ou Seeman gesê het
My asem het 'n anderhalfjaar gelede opgeraak. Ek het my woema, my fut, my drome, die vuur in my hart verloor. Uit die bloute, heeltemal onverwags, het twee slegte dinge binne 'n week van mekaar met my gebeur.
Ek het permanent met 'n naarte rondgeloop. Ek kon amper niks doen nie. Goeters wat altyd tweede natuur vir my was, het nou onbegonne take geraak. My persoonlikheid het verander. Ek kon nie tussen mense wees nie. Hoeveel keer het ek nie in my kar gery, heeltemal in die verkeerde rigting, en nie geweet hoe ek daar gekom het nie. Musiek het my ontstel. Ek kon nie eet nie, ek kon nie kook nie. Daar was geen ontsnapping nie. Die hartseer in my lyf het my soos 'n stil gif oorheers. Die ontnugtering was 'n swaar mantel wat ek nie kon afskud nie. Ure, selfs dae, het sonder keer wegdreineer terwyl ek met grou oë voor my sit en uitstaar het. Besluite wat geneem moes word, het my soos borrels bly ontwyk. En naderhand was ek so moeg, ek het enige antwoord gegee, net om die vraag te laat weggaan.
Nou, danksy die genadigheid van verbygegane tyd, het ek traksie herwin. Een van die tegnieke om weer by kop-oplig uit te kom, is bewustheid. 'n Belewing van die oomblik, die moment. Jouself die luukse van 'n flerts tyd gun om iets te ruik. 'n Vorm raak te sien. Klank. Wind teen jou wang te voel. Daardie volmaaktheid te ervaar wanneer jou liggaamstemperatuur net reg voel - nie te koud nie, nie te warm nie. Die satynpatina van 'n geliefde houttafel. Kleure.
Van alle kleure is skemer my gunsteling. Dit stem my rustig.
Ons het eenkeer 'n ou huis bewoon terwyl ons hom probeer herstel en mooimaak het. Die een kamer het nou, lang vensters gehad en 'n vloer van breë planke. Dit was 'n groot vertrek vol stilte. Ek het gordyne uit my matriekafskeidrok gemaak ('n mosterdgeel Sari, baie jare gelede gekoop by 'n Game in Durban). Dit het die vertrek altyd soos namiddag laat lyk - die vloer was sepia, die mure dofsaffraan en die skadus die kleur van 'n bergpoel. Ek het dikwels alleen in die vertrek gaan staan en asemhaal. Dit het my gevoel ek kan meer lug inkry, so al of my rug ekstra kon uitsit om my longe meer plek te gee.
Vriende het 'n strandhuis waarheen ons dikwels uitgenooi word. Alhoewel die uitsig oor die see jou asem telkemale wegslaan, is die stil wenteltrap in 'n suil na die westekant my gunsteling. Hier kan jy sit en die dag se laaste hitte ervaar, terwyl die laatmiddag se goud in koper, dan in brons, en uiteindelik, in steenkool verander.
Maar voor dinge te dof en stil klink, wil ek byvoeg dat klassieke kleurkombinasies my ook roer. Dink aan blou en wit: 'n Griekse blokkiestafeldoek of dofblou toile de joey aan't storievertel op 'n romerige wit lap. Donkerblou en wit strepe op 'n t-hemp wat van seevaarte en seiljagte droom. Of 'n Chinese wilgerpatroon, rankend om 'n teekoppie.
Rooi en wit, vrolik soos dit voorkom, het soms 'n ietwat meer sinistêre agtergrond. Die guitige rooi en wit spiraalpatroon buite 'n barbier se winkel, byvoorbeeld:
Gedurende die middeleeue (en nog 'n goeie wyle daarna), het barbiere nie net jou kapsel, baard en snor versorg nie. Hulle het ook tande getrek, luise verwyder en bloedlating beoefen. Laasgenoemde was 'n algemene praktyk om 'n verskeidenheid olikhede te behandel. Maar die kompetisie was straf en ek vermoed die suksesse nie te veel nie, dus moes barbiere ook bemark. Kliënte/pasiënte wat gesond geword het, se bloed is 'n bakke buite die winkels tentoongestel. (Ander wêreld daai - ek lees nou-die-dag van die antieke praktyk om wasgoed te was in publieke trôe vol uriene waartoe almal wat kon, bygedra het. Dankie tog vir OMO!).
Ewenwel - terug by die barbiere. Mense het begin kla oor die stank van die bakke bloed en daar is genadiglik daarmee weggedoen. 'n Paal, wat die stang gesimboliseer het waaraan pasiënte moes vashou sodat hulle are kon bult, is buite die winkels aangebring. En gou was dit 'n baie handige kontrepsie om die verbande wat gewas en gedroog moes word, aan op te hang! Die wind het die stukke lap om die pale gewaai. En daarmee dan die inspirasie vir die rooi en wit paal.
Die Rooikruis se embleem het ook 'n mooi storie. 'n Switser, ene Henry Dunant het in 1859 in die Italiaanse dorpie Solferino beland en met afgryse gesien hoeveel soldate aan hulle wonde beswyk het tydens die Tweede Italiaanse Onafhanklikheidsoorlog. Terug in Genéve het hy 'n boek begin skryf oor sy ervarings. En, soos dit gaan wanneer die tyd reg is vir 'n ding, het sy pleitdooie op vrugbare grond geval, en is die Rooikruis-Organisasie in die lewe geroep. Die soeke na 'n embleem het 'n bietjie kopkrap gevat, want die organisasie moes ten alle koste neutraal in enige oorlog bly. Slim het hulle toe besluit om die reeds neutrale Switserse vlag se kleure om te swaai - en siedaar! Maar dinge het nie daar gebly nie....die Ottomaanse Ryk was nie lekker oor die kruis nie. Hulle het gevoel dit sou Moslemlede van die organisasie afsit. 'n Rooi Turkse sekelmaan-embleem op wit agtergrond het toe langs die Rooikruis begin hang. En toe? Nee jong. Toe is dit het einde nog niet. In 2005 moes die grootgeeste nog 'n vlag uitdink vir diegene wat van nóg kruis, nóg sekelmaan hou. Vlag nommer 3 is gebore: Die Rooi Kristal.
'n Diamantvormige rooi blok op die wit. Mense en hul dinge.....
Ek kan nou nog voortgaan en borduur oor my liefde vir groen - so baie skakerings van hierdie kleur! Maar ko'ns los dit vir 'n ander dag.
En die titel van hierdie storie? Samuel Colerige se Ancient Mariner het mos gepraat van die oggend wat 'n hartseerder, maar wyser man wakker maak. Ek dink wysheid triomfeer genadiglik oor die hartseer. En wysheid, so kosbaar as wat dit is, is gratis - jy moet dit net soek!

Thursday, 9 July 2015
As teenvoeter van die Oostewind
My pa stuur my vandag hierdie gediggie wat hy geskryf het as teenvoeter vir die warm, droë Oostewind wat veral Namakwalanders en Weskussers ken. Daardie een wat 'n mens mos heel koorsig en befoeterd laat voel.
BLOMJAARVERLANGE
`n
By zoem eentonig
om `n blom in die tuin
en my gedagtes kry koers
na Kruispad se duin,
waar wituintjie en gousblom
pronk teen mekaar;
ja, ou Namakwaland
is weer `n blomtuin vanjaar.
om `n blom in die tuin
en my gedagtes kry koers
na Kruispad se duin,
waar wituintjie en gousblom
pronk teen mekaar;
ja, ou Namakwaland
is weer `n blomtuin vanjaar.
Die
palet is gelaai
met kleure so mooi.
Daar’s hongerblom se pers,
gansogies geel,
kanniedood se rooi
en sporries wit en blou...
Van Rondekop tot Blankenberg
het Moeder Natuur
haar kunswerk oopgevou.
met kleure so mooi.
Daar’s hongerblom se pers,
gansogies geel,
kanniedood se rooi
en sporries wit en blou...
Van Rondekop tot Blankenberg
het Moeder Natuur
haar kunswerk oopgevou.
Sunday, 14 June 2015
Krummels na die reën
Ons had 'n paar weke terug groot reën en ook drie van die ses dae winter wat Oos-Londen jaarliks beleef. Dit was heerlik. Maar net so heerlik was die eerste sonskyndag na al die storms - veral omdat dit 'n naweeksdag was.
Ek wikkel toe my voete in my hardloopskoene en hef 'n stywe, krakerige draffie aan. Strepies water lek skuinsdwars oor die pad uit stutmure en keerwalle. 'n Oliereënboog biggel in 'n sinkgat in die middel van die teerstraat wat ek oorsteek. Iemand het dit reggekry om 'n lemoenskil heel te hou gedurende die skilproses. Dit lê soos 'n oranje protea presies in die middel van 'n rooi parkeerstreep voor 'n skool. 'n Entjie verder lê 'n spierwit hoenderbeentjie ook op die rooi streep.
Die sypaadjies voor sekere skole hardloop lekkerder as ander sypaadjies. Hulle is nuut geplavei. Ons het ons kinders lief. Hulle moet nie struikel op pad skooltoe nie.
Ek mik see se kant toe. Oos-Londenners maak graag 'n draai by die see na storms om te sien hoe die magtige waters die strand verander het.
Op die rotse voor die sandstrand sit 'n groepie ouer branderplankryers en kyk na die see. Elkeen versonke in sy eie gedagtes. In stilte sit hulle daar. Ek dink nostalgies aan die dae toe ek my seun na skool gaan oplaai het en dan op sy versoek see-om moes ry sodat hy kon sien of die branders rybaar is. Daar het ons dan parkeer en hy het, soos hulle nou, vir vyf minute woordeloos gesit en kyk na die water. Gedurende daardie vyf minute was daar nie gesprek te voere nie. Net gekonsentreer op die volgende stel branders. Dan kon ons weer ry - óf vinnig huistoe, eet en weer met natpak en plank terugbesorg by die see (in geval van gunstige toestande), óf maar net huistoe met Ma wat op allerhande maniere probeer motiveer dat huiswerk vinnig afgehandel kon word (in geval van ongunstige toestande).
'n Paar jonger brandermanne trek braaf hulle natpakke aan agter klein swart bakkies met blink wieldoppe en plakkers met branders en verwysings na Jeffreys agterop die flappies. Hulle stap met hulle planke onder die blad, natpakke se skouers teruggevou oor die heupe, ritssluitertoue swaaiend soos muissterte deur die sand. Agter die ou manne gaan staan hulle. Weer eens die stil staar na die water. 'n Werklik dappere of twee is reeds besig om in die bruin en beige bonsende kolke te stoei met hulle branderplanke wat telkemale soos orkas uit die water skiet. Hulle word ingevou deur die chaos van room en sjokoladebeslag. Soos borrels op 'n koffiemelkskommel. Kaneel- en mochafrille.
Langs die brandermanne sit twee mans en 'n vrou en gesels. Die vrou trek haar pashmina styf om haar - die sonnetjie mag wel skyn, maar die aarde behou nog die afgelope paar dae se koue.
Kruis en dwars oor die strand hardloop gelukkige honde, baldadig en met wye glimlagte aan't ontslae raak van hulle kajuitkoors. Ons hier is lief vir die see.
Ek begin my terugdraf huistoe.
Verby die restaurant tussen die bome en messegoed wat klink tussen stemme. Ontbyters wat hulle behaaglik aan die stil, helder sonnigheid van die dag verknog.
Langs die opdraend blom 'n Plumbago bleek, maar oordadig. Strelizias staan fier en vlammend blinkgewas. 'n Pekan, afgeëts teen die blou lug, takke swart en neutomhulsels wat vrug afgegooi, maar bly sit het, soos dik blomblare ook swart.
En ek dink by myself soos Louis Armstrong, wat 'n wonderlike wêreld.
Na reën, son.

Wednesday, 7 January 2015
Soms loop ons skeef, maar ons doen wat ons kan
Staan ek teen die voos einde van verlede jaar agter 'n vrou in die winkel waar ons koekbakvoorraad koop. Haar enkels steek geswel onder 'n dienlike kuitbroek van denim uit. Haar voete drapeer hulselwers soos uitgerysde deeg bo-oor haar insteekskoene se hakke. Haar lyf getuig van jare se suiker en goedkoop margarien. Hare in 'n knoets met 'n knip waarop 'n geel en pienk lapblom rondflapper. Sy koop jellielekkers en pienk koekkleursel. Vasberade vat sy haar inkopies en klim in 'n klein bakkie reg voor die winkel se ingang. Die bakkie se deur moet sy twee keer slaan voor hy behoorlik toe is.
En ek kry ek haar diep uit my hart jammer en sommer myself en die res van die mensdom ook. Ons arme drommels. Ons werk hierdie lywe van ons in hulle peetjie in, loop soms krom en slinger partykeer rond van gedaan wees, maar ons gaan aan. Want ons moet. Of so dink ons.
Ek klim in my kar met my aankope en sug. Maak gereed vir die episode melankolie wat nou volg. Dis nie sleg nie en dis nie lekker nie. Dit vat net 'n bietjie tyd.
En nou het die jaar gedraai en ons maak gereed vir nuwe dinge - moed geskep en asem geskep. Ons sit ons herinneringe op Facebook en op ons rekenaars: Kinders en grootouers om die Kerstafel.
Chinese Lanterns wat soos seepbelle die Nuwejaarsnag insweef. Glimlagte tussen souterige, nat haarslierte.
Pienk skywe waatlemoen. Braaivleis. Plat borde vol slaai. Lamspastei in die swartpot. Gemmerkoekies en Oros.
Ons onthou die heerlike boeke wat ons vir ure op reëndae lê en lees het. Ons vergeet van die nat handdoeke wat die tent volgehang het op daardie einste reëndae. Kaartpeletjies tot laat in die nag onder die sterre. Lag uit jou maag (dit lewer vreeslike lelike fotos, maar die pret gaan die ego te bowe). Ons dink hoe geseënd ons gevoel het om met ons hele span kinders by 'n restaurant in te stap en 'n lang tafel met baie stoele te beset. Hoe ryk was ons nie om die klomp, kwetterend en laggend, om ons te sien pizza met hulle hande eet en stukke afskeur vir mekaar on te proe.
Ons herinner mekaar aan die kreatiewe disse waarmee elkeen van die kroos, volgens aard mee vorendag gekom het. Van beetsap met gemmer terwyl die water van ons vroegoggendski van ons afdrup tot vetkoek en groenvye terwyl die reën oor ons tent neerstuif. Ons eet uit plastiek en porselein. Vlekvrye staal en keramiek en hout. Daar is rojale kaasborde. Lamsboude wat die jongmanne soos prinse verorber het. Olywe en knoffel en dadels. Drie soorte sout en truffelpasta. Skaapvleis wat die Vegane onder ons tart. Swart linguine en quinoa. 'n Koek van neute en sade en 'n piesang- en kasjoeneutroomys vir Kersfeespoeding. Vars vis met tiemie, en skorsies gevul met songedroogde tamaties, bokkaas en 'n wonderlike produk uit die Klein Karoo - olyfkaviaar. Dit is krummels olyf, uie en kruie, sout en so lekker dat jy 'n opgehoopte lepel uit die blikkie moet skep en skelm in jou mond druk voor iemand sien. En dan kamstig baie spaarsamig nog 'n lepeltjievol sprinkel oor 'n slaai of groente vir sewe.
En plots is alles verby. Kinders vertrek na hulle eie lewens wat hulle besig is om meer en meer te betree. Ons besighede begin ons lewens weer infiltreer met e-posse wat die Kers- en vakansieaanbiedinge en gemorspos stadig maar beslis begin vervang.
Ek en Manlief gaan stap op die strand met die plan om traksie vir die jaar te kry. Die sand is besaai met klippe. 'n Mens kan nie waag om op te kyk nie, jy moet die hele tyd uitkyk vir die toonstampers en hier en daar 'n pampoentjie wat nog met sy pers stekels tussen die growwe klippe lê.
En ek dink by myself: Partykeer moet 'n mens net voor jou kyk en oppas vir die klippers. Dis nou maar so. Daar kom weer tye vir sonsopkoms en -ondergang bewonder en die kom en gaan van die branders te bepeins. En dan waardeer jy dit soveel te meer.

Sunday, 31 August 2014
Troos
Ons het die afgelope naweek die voorreg gehad om op 'n plaas aan die Wildekus te gaan bly, sommer net te sit en kyk na die see, wat woes was, en in die warm bed te lê met 'n boek, terwyl die winterkoue vir oulaas alles uithaal.
Saterdagoggend is ek met die stofpad Cintsa toe na 'n vriendin se verjaardagpartytjie. Elke uitklim om 'n hek oop te maak, was 'n kans om my lyf te vul met die koue varsheid en kruiebossies se geur. Ek moes my hare oor vasmaak, want die wind het my knip losgewaai. Terug in die bakkie kon ek voel hoe die koue teen my kopvel vasgevang is.
My oë het heeltyd fotos van die landskap geneem. Tyd het teen stadige aksie beweeg. 'n Ry bome op die horison soos 'n kam waarvan die tande gebuig het. 'n Dammetjie met een enkele voël. Die lang grasse al langs die pad sou my hipnotiseer as ek nie weggekyk het nie. Die blink handbreedte op die hek se ketting waar jare se vasvat geval het om oop en toe te maak. Die lug se pallet was nou wit wolke met sonlig geel en groen soos 'n te hardgekookte eier, dan 'n dreigende staalgrys. Soms het die wolke weggeskuif en die blou onskuldig deurgeskyn.
En die grou see het woedend getier en gletsers skuim die lug ingespoeg.
My man het 'n pot boontjiesop gekook. Met baie beesskenkels en groente en tyd. Trooskos en sielskos. Wat die volgende middag weer oopgewarm en tydens kaartspeletjies uit koffiebekers geslurp is.
Ons jaag ons lewens deur soos batterybeertjies. Goeters gebeur. Hartseer goeters en ontstellende goeters en goeters wat, soos water wat in die see geloop het, nooit weer herroep kan word nie. En partykeer raak ons sommer net moeg; ons batterye raak pap. Sulke tye is 'n mens erg dankbaar vir 'n yskas. 'n Spens. 'n Broodblik.
Wat is dit aan eet vir troos? Wat daaraan help? Is dit die hap - die sink van die tande in iets wat meegee tot bo- en onderkaak soos een toemaak? Dis hoogs onwaarskynlik dat 'n mens 'n tand sal kraak op trooskos. Is dit die salige smeer van smaak en tekstuur oor die tong en verhemelte? Temperatuur? Warmte? (ek dink die middernagtelike Amerikaanse gewoonte van roomys-eet gebeur net in flieks) Of lê dit by die sluk van 'n volgelaaide lepelvol liefdesgawe aan die maag?
Trooseters is goed ingelig oor al die -fiete en -sieme en -ieme wat vrygestel word wanneer ons eet. Maar dis alles klinkende kastroldeksels in ons ore. Ons soek slegs die diepe bevrediging. Die baarmoeder waar daar niks verkeerd kan gaan nie, waar 'n mens die volmaakte terug-sêding het, waar almal lief is vir mekaar. Waar jy al die antwoorde vir jou kinders het en waar jy in jouself glo. Waar jy nooit ooit op die hamsterwiel net hardloop en hardloop en nie weet hoe om af te klim nie. Vir 'n oomblik, ten minste.
Party mense voer aan dat ons 'n spul emosioneel onbevoegde ooreters is. Ek dink dis onregverdig, alhoewel ek sal toegee dat daar al ekstreme gevalle was toe 'n marsipaanstafie met donker sjokolade haastig uit die winkelsak onttrek moes word op pad kar toe. En teen die tyd wat die parkering betaal is, het die papier reeds tussen die kleingeld gelê. Maar vir die ware kenner is daar 'n menigte faktore wat saamwerk om die troos volledig te maak. Soos die ligging: miskien 'n mooi uitsig, of dalk 'n skerf sonlig oor 'n plankvloer. 'n Stil, skemer, maar pragtige kamer. En voor jou 'n mooi bord. Dalk 'n gunstelinglepel - daardie een wat jou mond so intiem ken. Ook nodig is tyd om jou kop en gedagtes bymekaar te kry. Slegs dan kan jy regtig toelaat dat die kos jou troos en herkalibreer.
Dis soos die plaashuis waar ons die naweek was. 'n Opkom vir asem tydens besige weke, 'n ruskans langs die pad. Ek het vir die eienaars hierdie paar sinne gelos
The dirt road leads to the sea,
so furious.
But here is quiet.
A respite.
A sigh of relief.

Subscribe to:
Posts (Atom)