Ek het permanent met 'n naarte rondgeloop. Ek kon amper niks doen nie. Goeters wat altyd tweede natuur vir my was, het nou onbegonne take geraak. My persoonlikheid het verander. Ek kon nie tussen mense wees nie. Hoeveel keer het ek nie in my kar gery, heeltemal in die verkeerde rigting, en nie geweet hoe ek daar gekom het nie. Musiek het my ontstel. Ek kon nie eet nie, ek kon nie kook nie. Daar was geen ontsnapping nie. Die hartseer in my lyf het my soos 'n stil gif oorheers. Die ontnugtering was 'n swaar mantel wat ek nie kon afskud nie. Ure, selfs dae, het sonder keer wegdreineer terwyl ek met grou oë voor my sit en uitstaar het. Besluite wat geneem moes word, het my soos borrels bly ontwyk. En naderhand was ek so moeg, ek het enige antwoord gegee, net om die vraag te laat weggaan.
Nou, danksy die genadigheid van verbygegane tyd, het ek traksie herwin. Een van die tegnieke om weer by kop-oplig uit te kom, is bewustheid. 'n Belewing van die oomblik, die moment. Jouself die luukse van 'n flerts tyd gun om iets te ruik. 'n Vorm raak te sien. Klank. Wind teen jou wang te voel. Daardie volmaaktheid te ervaar wanneer jou liggaamstemperatuur net reg voel - nie te koud nie, nie te warm nie. Die satynpatina van 'n geliefde houttafel. Kleure.
Van alle kleure is skemer my gunsteling. Dit stem my rustig.
Ons het eenkeer 'n ou huis bewoon terwyl ons hom probeer herstel en mooimaak het. Die een kamer het nou, lang vensters gehad en 'n vloer van breë planke. Dit was 'n groot vertrek vol stilte. Ek het gordyne uit my matriekafskeidrok gemaak ('n mosterdgeel Sari, baie jare gelede gekoop by 'n Game in Durban). Dit het die vertrek altyd soos namiddag laat lyk - die vloer was sepia, die mure dofsaffraan en die skadus die kleur van 'n bergpoel. Ek het dikwels alleen in die vertrek gaan staan en asemhaal. Dit het my gevoel ek kan meer lug inkry, so al of my rug ekstra kon uitsit om my longe meer plek te gee.
Vriende het 'n strandhuis waarheen ons dikwels uitgenooi word. Alhoewel die uitsig oor die see jou asem telkemale wegslaan, is die stil wenteltrap in 'n suil na die westekant my gunsteling. Hier kan jy sit en die dag se laaste hitte ervaar, terwyl die laatmiddag se goud in koper, dan in brons, en uiteindelik, in steenkool verander.
Maar voor dinge te dof en stil klink, wil ek byvoeg dat klassieke kleurkombinasies my ook roer. Dink aan blou en wit: 'n Griekse blokkiestafeldoek of dofblou toile de joey aan't storievertel op 'n romerige wit lap. Donkerblou en wit strepe op 'n t-hemp wat van seevaarte en seiljagte droom. Of 'n Chinese wilgerpatroon, rankend om 'n teekoppie.
Rooi en wit, vrolik soos dit voorkom, het soms 'n ietwat meer sinistêre agtergrond. Die guitige rooi en wit spiraalpatroon buite 'n barbier se winkel, byvoorbeeld:
Gedurende die middeleeue (en nog 'n goeie wyle daarna), het barbiere nie net jou kapsel, baard en snor versorg nie. Hulle het ook tande getrek, luise verwyder en bloedlating beoefen. Laasgenoemde was 'n algemene praktyk om 'n verskeidenheid olikhede te behandel. Maar die kompetisie was straf en ek vermoed die suksesse nie te veel nie, dus moes barbiere ook bemark. Kliënte/pasiënte wat gesond geword het, se bloed is 'n bakke buite die winkels tentoongestel. (Ander wêreld daai - ek lees nou-die-dag van die antieke praktyk om wasgoed te was in publieke trôe vol uriene waartoe almal wat kon, bygedra het. Dankie tog vir OMO!).
Ewenwel - terug by die barbiere. Mense het begin kla oor die stank van die bakke bloed en daar is genadiglik daarmee weggedoen. 'n Paal, wat die stang gesimboliseer het waaraan pasiënte moes vashou sodat hulle are kon bult, is buite die winkels aangebring. En gou was dit 'n baie handige kontrepsie om die verbande wat gewas en gedroog moes word, aan op te hang! Die wind het die stukke lap om die pale gewaai. En daarmee dan die inspirasie vir die rooi en wit paal.
Die Rooikruis se embleem het ook 'n mooi storie. 'n Switser, ene Henry Dunant het in 1859 in die Italiaanse dorpie Solferino beland en met afgryse gesien hoeveel soldate aan hulle wonde beswyk het tydens die Tweede Italiaanse Onafhanklikheidsoorlog. Terug in Genéve het hy 'n boek begin skryf oor sy ervarings. En, soos dit gaan wanneer die tyd reg is vir 'n ding, het sy pleitdooie op vrugbare grond geval, en is die Rooikruis-Organisasie in die lewe geroep. Die soeke na 'n embleem het 'n bietjie kopkrap gevat, want die organisasie moes ten alle koste neutraal in enige oorlog bly. Slim het hulle toe besluit om die reeds neutrale Switserse vlag se kleure om te swaai - en siedaar! Maar dinge het nie daar gebly nie....die Ottomaanse Ryk was nie lekker oor die kruis nie. Hulle het gevoel dit sou Moslemlede van die organisasie afsit. 'n Rooi Turkse sekelmaan-embleem op wit agtergrond het toe langs die Rooikruis begin hang. En toe? Nee jong. Toe is dit het einde nog niet. In 2005 moes die grootgeeste nog 'n vlag uitdink vir diegene wat van nóg kruis, nóg sekelmaan hou. Vlag nommer 3 is gebore: Die Rooi Kristal.
'n Diamantvormige rooi blok op die wit. Mense en hul dinge.....
Ek kan nou nog voortgaan en borduur oor my liefde vir groen - so baie skakerings van hierdie kleur! Maar ko'ns los dit vir 'n ander dag.
En die titel van hierdie storie? Samuel Colerige se Ancient Mariner het mos gepraat van die oggend wat 'n hartseerder, maar wyser man wakker maak. Ek dink wysheid triomfeer genadiglik oor die hartseer. En wysheid, so kosbaar as wat dit is, is gratis - jy moet dit net soek!
No comments:
Post a Comment