Ons stap elke Vrydagoggend vanaf Ina se huis en eet daarna krummelpap, gemaak van geel mieliemeel, met Bovril en gerasperde cheddarkaas. En ons drink koffie. Onderweë die afstand wat ons loop, word daar natuurlik gekwetter en geswerjoel soos wat net 'n spul vrouens kan doet. Ons stap tot by Bonzabaai se riviermond; adem die skoonheid van oggend en rivier en sand en branders in, luidkeels, en dan verander die konfigurasie en jy stap verder met 'n nuwe drietal vrouens en die praat hou nie op nie.
Ons noem onsselwers die 'Stap-en-Papgroep', en dis wat ons doen, want waar het jy nou al gehoor van 'n Gemobiliseerde Eenheid wat sonder kos kan marsjeer? Oor pap en koffie word liefdadigheidskaartjies verkoop, resepte en nuwe boeke en flieks resenseer, menopouse se keel toegeknoop en onderskeie krose se hoogte- en laagtepunte bejuig of bejammer. Die groep bestaan al 'n goeie drie dekades en is een van daardie wonderlike instellings wat net aanhou en aanhou, maak nie saak wat nie. Dis 'n ondersteuningsnetwerk, digter en sterkter as 'n tennisheining. 'n Vangnet in tye van nood en selfs dood.
Vrydag noem Wendy dat sy van 'n boer weet wat waatlemoene gesaai het en op die ou end minder as 'n kwart van die prys aangebied is as wat die winkelmanne hom aanvanklik beloof het. Ons bestel summier waatlemoene dat die pitte spat. Want ons is deel van groepe mense, en ons kan netwerk.
Ek dink toe by myselwers aan die Tannies van hierdie land van ons. Dis nou die deel van die samelewing wat gaan boeke oortrek by die skool en die Juffrou se verjaardag organiseer en die Lentedagstap se waterpunte beman. Die klomp wat met stasiewa en kombi opdaag om die bloedjies na die museumuitstappie of krieketwedstryd toe te neem. Ja, hulle wat tee bedien by die ouetehuis se Kersfunksie. Wat geskenksakkies vir die Kinderhuis bymekaarmaak. Wat so en so wat nie meer kan bestuur nie, gaan haal, om by so en so se verjaardagpartytjie te wees. Hulle wat 'n sjokolade of sepie met 'n kaartjie gaan aflaai, net omdat hulle aan so en so gedink het.
Ons ken almal die preek van die Prinse en Priesters. Die Prinse moet genoeg geld maak om die Priesters te befonds sodat hulle die volk van priesterskap kan bedien.
Ek dink daar's 'n derde kontingent en ek is so jammer ek het nie meer opgelet na Plato se Republiek op universiteit nie..... ek kan nie onthou of hy van die deel melding maak nie. En ek het die vet weet nie die energie om hom hou te lees nie! Ek praat van die Tanniebrigade. Hulle het nie geld nodig nie. Hulle gee net. Tyd. Empatie. Liefde. Mededeelsaamheid, Geselsies. Sommiges gedy. Sommiges brand uit, en omdat die stelsel hulle nie erken nie, word hulle agtergelaat en hulle raak introverte en sinies.
En soos wat ek nou hier sit en tik, sien ek 'n rooi lig flits - die Tanniebrigade is aan't uitsterf! Ons lewens het so verander, ons werk lang ure en is uitgemens en het skaars tyd om aandete te maak, laat staan tee te bedien! Matriekafskeide gebruik nou spyseniers (en ek is dankbaar, synde een!). Van oral word professionele hulp ingewin waar vrywilligers minder en minder beskikbaar raak. Dis jammer! 'n Verlies. En die grootste verlies is ons eie. Daardie geleentheid om nuwe vriendskappe te smelt. Die bevrediging van iets te beteken het vir jou medemens. En boonop jou eie ondersteuningsnetwerk te bou.
Gister ontmoet ek 'n vrou, besige kleinseuntjie saam met haar, wat vir my honderde koeksisters en melktertjies vir 'n funksie kan bak (hoekom wil mense dit koeksusters spel?!). Ewenwel, so met ons gelsels saam, besef ek die hele buurt se kinders sak smiddaens na skool op haar huis toe, sy is die familie se kleremaakster/-regmaakster en sy't my kom ontmoet so tussen taxi-ry vir kleinkinders en hulle vriende. Nou so 'n vrou, nê, is 'n Generaal in die Tannieleërmag. Klaar.
Ag, en dan klop my hart ook warm vir diegene wat in hulle beroepe lewens aanraak. Dalk het die konfigurasie net weer verander. John Donne, in sy 'Meditation XV11', sê as een man doodgaan, beteken dit nie dat die hoofstuk uit die boek geskeur word nie. Die geskrif kry slegs in 'n beter vertaling. Geen mens is 'n eiland nie. Dus. Dinge het verander. Daar's gewis minder tannies beskikbaar om die gemeenskap met tee en kombis te bedien. Maar laat ons die Amp Der Tannies aanhou eer. En nie bang wees om so nou en dan 'n Tannie te wees nie. Want ons is nie eilande nie en eendag is eendag.....dan gaan 'n Tannie soos 'n reddingsvaartuig op die horison vir ons verskyn. En ons gaan haar waaragtig waardeer.
En mag sy ook eendag 'n Tannie hê om haar te help. Bakpoeierblik. 'n Blikkie in 'n blikkie in 'n blikkie. Ons is nie eilande nie.
Stap ek gisteroggend deur my tuin en sien hoe 'n kapperplant 'n Tannie van 'n chillieplant gekry het om haar te ondersteun.
No comments:
Post a Comment