Sunday, 31 August 2014

Troos

Ons het die afgelope naweek die voorreg gehad om op 'n plaas aan die Wildekus te gaan bly, sommer net te sit en kyk na die see, wat woes was, en in die warm bed te lê met 'n boek, terwyl die winterkoue vir oulaas alles uithaal.

Saterdagoggend is ek met die stofpad Cintsa toe na 'n vriendin se verjaardagpartytjie.  Elke uitklim om 'n hek oop te maak, was 'n kans om my lyf te vul met die koue varsheid en kruiebossies se geur. Ek moes my hare oor vasmaak, want die wind het my knip losgewaai.  Terug in die bakkie kon ek voel hoe die koue teen my kopvel vasgevang is.

My oë het heeltyd fotos van die landskap geneem.  Tyd het teen stadige aksie beweeg.  'n Ry bome op die horison soos 'n kam waarvan die tande gebuig het.  'n Dammetjie met een enkele voël. Die lang grasse al langs die pad sou my hipnotiseer as ek nie weggekyk het nie. Die blink handbreedte op die hek se ketting waar jare se vasvat geval het om oop en toe te maak.  Die lug se pallet was nou wit wolke met sonlig geel en groen soos 'n te hardgekookte eier, dan 'n dreigende staalgrys.  Soms het die wolke weggeskuif en die blou onskuldig deurgeskyn.

En die grou see het woedend getier en gletsers skuim die lug ingespoeg.

My man het 'n pot boontjiesop gekook.  Met baie beesskenkels en groente en tyd.  Trooskos en sielskos.  Wat die volgende middag weer oopgewarm en tydens kaartspeletjies uit koffiebekers geslurp is.

Ons jaag ons lewens deur soos batterybeertjies. Goeters gebeur. Hartseer goeters en ontstellende goeters en goeters wat,  soos water wat in die see geloop het, nooit weer herroep kan word nie. En partykeer raak ons sommer net moeg; ons batterye raak pap.  Sulke tye is 'n mens erg dankbaar vir 'n yskas.  'n Spens.  'n Broodblik.










Wat is dit aan eet vir troos?  Wat daaraan help?  Is dit die hap - die sink van die tande in iets wat meegee tot bo- en onderkaak soos een toemaak?  Dis hoogs onwaarskynlik dat 'n mens 'n tand sal kraak op trooskos.  Is dit die salige smeer van smaak en tekstuur oor die tong en verhemelte?  Temperatuur? Warmte? (ek dink die middernagtelike Amerikaanse gewoonte van roomys-eet gebeur net in flieks) Of lê dit  by die sluk van 'n volgelaaide lepelvol liefdesgawe aan die maag?


Trooseters is goed ingelig oor al die -fiete en -sieme en -ieme wat vrygestel word wanneer ons eet.  Maar dis alles klinkende kastroldeksels in ons ore.  Ons soek slegs die diepe bevrediging.  Die baarmoeder waar daar niks verkeerd kan gaan nie, waar 'n mens die volmaakte terug-sêding het, waar almal lief is vir mekaar.  Waar jy al die antwoorde vir jou kinders het en waar jy in jouself glo.  Waar jy nooit ooit op die hamsterwiel net hardloop en hardloop en nie weet hoe om af te klim nie.  Vir 'n oomblik, ten minste.


Party mense voer aan dat ons 'n spul emosioneel onbevoegde ooreters is.  Ek dink dis onregverdig, alhoewel ek sal toegee dat daar al ekstreme gevalle was toe 'n marsipaanstafie met donker sjokolade haastig uit die winkelsak onttrek moes word op pad kar toe.  En teen die tyd wat die parkering betaal is, het die papier reeds tussen die kleingeld gelê.  Maar vir die ware kenner is daar 'n menigte faktore wat saamwerk om die troos volledig te maak.  Soos die ligging:  miskien 'n mooi uitsig, of dalk 'n skerf sonlig oor 'n plankvloer.  'n Stil, skemer, maar pragtige kamer.  En voor jou 'n mooi bord.  Dalk 'n gunstelinglepel - daardie een wat jou mond so intiem ken.  Ook nodig is tyd om jou kop en gedagtes bymekaar te kry.  Slegs dan kan jy regtig toelaat dat die kos jou troos en herkalibreer.


Dis soos die plaashuis waar ons die naweek was.  'n Opkom vir asem tydens besige weke, 'n ruskans langs die pad.  Ek het vir die eienaars hierdie paar sinne gelos

The dirt road leads to the sea,
so furious.
But here is quiet.
A respite.
A sigh of relief.

Saturday, 19 July 2014

Malse kleure

Ek dag ek kom iets oor van oorstelptnis toe ek nou die dag vulsel vir 'n suurlemoentert uit 'n pienk plastiekbak gooi en die son tref die hele besigheid van agter.  Ruk net daar die kamera uit en kliek en kliek tot die arme ongebakte tert op die ou end 'n vel oor die oppervlak ontwikkel het.  So is die lewe van 'n aandag-afleibare.... Maar ek is nie spyt nie.  Dit was 'n oomblik vir staan en verwonder.
Kos en kleur kan nie sonder mekaar nie.  Hoeveel slegte kosherinneringe uit baie se kindertyd is nie aan bleek, opgekookte etes nie?  Wie eet nie kool nie, want hulle dink dis 'n grys hoop grusaamheid wat jou later ongemaklike winde laat opbring?  Of is neuroties dat 'n mens nie 'n skaaptjop in die oond kan maak nie, want iemand, hoe hartseer, het 'n opgekrulde skoensool van 'n tjop met beige, drillerige vet bedien.  Of kan nie hawermout vat nie, want daar was nooit 'n kronkel heuning oor nie?  Wie eet eerder wegneemkos, want huiskos was wortels wat gekook is tot die kleur daarvan uitgeloog was en  frikkadelle wat soos ou pantoffels lyk?  Nee man, mense wat beige en grys kos maak, verdien vaal kombuise wat na  pakkiegeursels ruik en panne met los handvatsels en kerriekleur deurskynende glasborde.

Dis nie om geen rede dat ons aangeraai word om groentes van verskillende kleure te eet vir onse gesondheid nie.  En hoe dieper die kleur, hoe gesonder, blykbaar.  Ek het geen oortuiging nodig nie.  Eet eerste met die oë, dan met die reuksintuig - dis hoe dit vir my werk.  En daarmee wil ek glad nie sê dat iedere bord soos 'n strandpartytjie moet lyk nie.  'n Mens kan die mooiste stemming bewerk met kleure wat rustig is en simpatiek teenoor mekaar is.



Groen is 'n lieflingkleur van my.  Lig, soos in tzaziki, of helder soos aspersies wat blitsig geblansjeer is en dan in yswater verfris is.  Of die diepgroen van spinasie soos dit linte loop deur 'n romerige fetapastei.  Dis ook 'n wonderlike agtergrond vir helderrooi, pers en oranje.  'n Slaai kry onmiddellik statuur met 'n groen blaar. 'n Mentblaar op 'n drankie gee sprankel.  Southappies spring van vreugde op 'n wingerd- or kappertjieblaar.  Of balanseer hulle op jong koolblare wat wonderlike, driedimensionele agtergrond bied.  Groenrissieblatjang wat 'n riel dans oor  harissasop of groen pistasieneutklapperys, of 'n bak Somerse vye; 'n basilieblaar - groen het nie einde nie. In die restaurant Babel se fenominale resepteboek is baie van die geregte op intense woudgroen erdebakke afgeneem.  Dit skep 'n ouwêreldse, geankerde gevoel wat so die stille groei van die tuin, wat die restaurant van produkte voorsien, eggo.  En sommer vir die sports, 'n sêding wat ek iewers gelees het:  'Rooivleis is nie sleg vir jou nie....maar groen vleis darenteen....'.  Wys jou maar net - alle kleure werk nie in alle applikasies nie
.










Blou is 'n onwaarskynlike kleur vir kos.  Bloubessies is vir my meer pers as blou.  Blou, eetbare blomme is volop:  koringblommetjies, laventel en viooltjies, o, en blousalie.  Hulle sê die karikatuur-agtige Toucanvoël se vleis is blou.  Maar nee dankie.  Bietjie barbaars vir my. Ek het wel 'n stel blou borde wat beste maatjies is met pienk kos soos salm en waatlemoen.  Donkerblou is wonderlik dramaties met kos op.




En dan, die uitbundigheid van warm kleure!  Rooi, geel, pienk, oranje, pers!  Raak jou mond nie ook aan't water by die aanskoue van 'n blink pruim nie of 'n mandjie aarbeie nie? Of 'n sny waatlemoen of 'n diepgebakte skottel botterskorsie met olyfolie en bosbessies en effens geroosterde amandels... Of wat van 'n bak vol knobbelrige suurlemoene in 'n skerf winterson op 'n gepoleerde houttafel? En natuurlik ons eie rooi Peppadew - die soete, pikante ingelegte rissie wat so fluks op 'n pizza of 'n smulbordjie diens doen.
Praat ons oor blomme - is 'n klomp kappetjies in 'n slaai tog nie die joligste byvoegsel nie?  Die Midde-Oostelinge had iets beet toe hulle die roos in kos begin tem het.  'n Bloedrooi roos, geur en al, op 'n diepe sjokoladekoek is eenvoudig koninklik.
En beet! Die natuur se eie voedselkleursel.  Rooi Fluweelkoek is onaanvaarbaar sonder beet.  Hummus raak 'n Bollywood-bydrae met die toevoeging van beet. Beet en Chorizo is dansmaats.
G'n koskryfsel is volmaak sonder verwysing na die wonderlike tamatie nie.  Hierdie vrug wat hom soos 'n groente gedra.  Hy kom van Mexico af, saam met die Spanjaarde toentertyd, en aanvanklik het die Europeërs hom as giftig beskou.  Toe draai hulle handomkeer en beskou hom as 'n liefdesappel.  En deesdae, om Mediterreense kos sonder 'n tamatie te bedink, is soos om 'n Saterdagaand sonder braaivleisgeure in die lug te bedink!  Ons klomp hier in Afrika staan self nie terug nie - ons eet hom rou, gekook, gebraai, gerooster, ge-balsamiese asyn, gekaas en gevul met rys. Uit Amerika kry ons selfs idees om hom groen te eet.   Die veelberese tamatie het jouwrintiewaar selfs die wegneemmark binnegedring.  Daar loer byna altyd iewers 'n dik, skewe sny by 'n polistireenboksie uit.  En deesdae kan jy tamaties koop wat nie soos tamaties lyk nie!  Hulle lyk soos goudgeel mini-pere, soos baba gestreepte waatlemoene, of hulle is grasgroen, maar ryp.  Jy kan mooi trossies koop en Caprese-kranse op jou tafel bou met Fior de Latte en basilieblare.  Koop hulle gedroog.  Of kook konfyt met hulle saam met rissies en bedien die dik, marmalade-agtige soetbrand op kaas.






















En as alles gesê en gedaan is oor kleure, wie is die wenner?  Ek sal nooit kan sê nie.  Hoe kan mens kies? Elke kleur, elke skakering, elke nuanse waarmee die kaleidoskoop ons plesier....
Ek sê net dankie vir die voorreg om alles te kan sien.  My kat ook.




Sunday, 8 June 2014

Oor Vis en Lang, Donker-- Winters

Ek bedink die Skandinawiese kookkuns vir 'n kookles wat ek wil aanbied.  Daardie deel van die aarde wat ons voorsien het van die Vikings, Lego, ABBA, Ikea, Roxette, bek-oophangontwerp en gebak wat reguit deur jou slukderm skiet tot op jou heupe.  O, en lieflike Havarti - die delikate, gewaste wrongelkaas.  Ook dra die ouens daar die titel as die wêreld se kranigste koffieverbruikers.

Maar verder, wat weet ons hier in die Suide van die kos van doer bo-op die aardbol?  Wel, ons ken Noorweegse salm in allerhande vorms wat 'n mens in klein porsies bedien, want jy betaal die eweknie van 'n pot gesigsvogroom aan 'n behoorlike moot.  Die vis se pragtige pienk kleur is as gevolg van die skaaldiere wat die grootste deel van sy dieet uitmaak. Deesdae is die salm wat ons te koop kry, van kommersiële visplase afkomstig, en hulle kry so 'n teelepeltjie voedselkleursel in om op te maak vir die feit dat hulle nie meer krefies en krappies in die hande kry nie.

Ook bekend en heerlik is die Smorgasbord - allerhande visserighede en piekelgoeters en soutighede bedien op suur, donker rogbroodskyfies dunner as Legoblokkies.  Sweedse Frikkadelle, heerlik gestowe in suurroom en dille, duik ook nou en dan op in 'n Winterspyskaart.

Maar verder... en laat ons nie slegvoel daaroor nie, want ons is nie die enigstes wat min van hulle kos weet nie. Danksy die lang, donker winters en die afgesonderdheid van die mense op die platteland, om nie te praat van die ouens wat langs die fjords woon nie, was dit vir eeue 'n spreekwoordelike geval van die een hand wat nie geweet het wat die ander hand doen nie.  Resepte het in gemeenskappe gebly en is mondeling oorgedra aan volgende geslagte.  'n Mens is geneig om net die sofistikasie van die stede te sien, en jy vergeet dat die platteland in baie gevalle bewoon word deur afgesonderde, arm mense.  Dit fassineer my keer op keer om te sien hoeveel kostradisies en geregte ontstaan het omdat mense maniere moes vind om die oorvloed van die Somer  te bewaar en met min bestanddele so 'n groot en smaaklike verskeidenheid as moontlik moes probeer bedink.

Salm en ander vissoorte is 'n goeie voorbeeld.  Van visdroog en vissout is daar min wat jy 'n Skandinawiër of Yslander nog kan leer.  Hulle maak Torrfisk of Rakfisk, soortgelyk aan die gedroogte, gesoute kabeljou wat rondom die Mediterreense See geëet word.  'n Mens sien soms fotos van groot houtrame en die visse oopgespalk aan't uitdroog in die koue, sout wind.  Gravad Lax, soos dit in Swede en Denemarke genoem word en Gravet Laks in Noorweë, vertaal as die makabere 'Grafsalm'.  Jy pak 'n vars stuk pienk salm met 'n mengsel van sout, suiker en dille.  Dan word hy vir 'n dag of drie in die yskas gekoester.  Daarna loop koop jy vir jou 'n donker rogbroodjie, 'n bossie waterkers 'n potjie peperwortelroom. Nooi iemand se sê hulle moet wyn bring.  Mevrou So en So van Skandinawië, met die onwaarskynlike konsonante in haar van en 'n klomp volksvreemde tekens op die klinkers, het aanvanklik haar Gravad Lax met die suiker-, sout-en dillemengsel gesmeer en dan vir 'n paar maande in die grond begrawe.  Vandaar die dodelike naam.  Nou, voor enigiemand naar word, onthou net dat daardie wêreld se grond kouer as ons vrieskaste is.  G'n bakterië sal dit naby waag nie.

'n Yslandse reseppie bestaan wel wat dalk die meer sentitiewe gene onder ons sal laat sluk.  Hákarl is haaivleis wat deur 'n spesifieke fermentasieproses gaan en dan vir vier tot vyf maande opgehang word.  Hulle is gou om jou te vertel dit is 'n smaak waaraan mens maar gewoond moet raak en dat dit sterk na ammoniak ruik.  Nee wat, liewer nog 'n Deense tertjie vir hierdie Boerenooi.

'n Ander bisarre kooksel wat ook volop in Oos-Europa is, is die sogenaamde 'aanhoudende bredie'.  Hoe dit werk is as volg:  In die begin van die Winter bring Pa 'n haas huistoe wat hy in die wip gevang het.  In die pot op die vuurhert gaan hy, saam met 'n paar wortels en ander knolgroentes. Ons smul te heerlik.  More gooi Ma 'n klompie droë bone in saam met die orige haasbredie en sommer 'n varkskenkeltjie ook. Oormore vervul 'n hoender sy lewensdoel in die pot, tesame met 'n ui en 'n handvol komyn, 'n paar aartappels en 'n beet of twee.  Nou is ons bredie pienk.  En so doet ons voort die hele Winter lank.  Niemand baklei oor skottelgoed was nie, want ons was nie die pot nie.  Ons gooi net elke dag by.

Ek maak klaar met 'n laaste interessante brokkie:  In Finland eet jy op Donderdae ertjiesop en pannekoek.  Maar nie pannekoek soos ons dit ken nie.  Hulle het 'n spesiale ysterpannetjie en dis meer 'n opgepofte storie, amper soos 'n Yorkshirepudding.  Hulle noem dit Pannu Kakku.  Klink na iets wat iemand in my huishouding sal kan kwytraak as ek iets anders as propperse Suid-Afrikaanse pannekoek sou durf voorsit.  Met stroop en suurlemoene en kaneelsuiker.

Wednesday, 30 April 2014

Haastige Hond verbrand sy mond

My Pa het altyd vir my vertel Haastige Hond verbrand sy mond.  En die Dramatannie van laerskool het aan die einde van die jaar vir my 'n plakaat gegee waarop gestaan het:  'Please grant me patience, but hurry'.

Ek is, en was nog altyd 'n ongeduldige mens.  My rekenaar moet gereeld geformatteer word, want ek dubbelkliek en trippelkliek by tye soos 'n waansinnige vrou van pure stres en ongeduld.  Maar, soos ek in 'n vorige blog genoem het, aanvaar ek myself mos deesdae, danksy Zen and the Art of Motorcycle Maintenance wat ek nou amper klaargelees het - die intensiewe lesery staan nou al na vyf maande se kant toe.  So nou glimlag ek net nederig as ek die rekenaar aan die knaap met die ry ringe in sy wenkbrou oorhandig, want ek weet ek gaan ten minste 'n week van vinnige rekenaar hê voor ek die ding weer verstop met my befoeterde voorvinger.

'n Ander saak is die keer toe ek oogdokter toe moes jaag omdat ek met 'n oorentoesiastiese tandeborselry die borsel in die oog gekry het, en nie betyds kon briek nie.  Ons moes ook vir 'n paar sessies terapie betaal waarop my man my gestuur het:  Ek het in die gewoonte verval om takies uit te dink vir die gesin tydens advertensiebreke van ons gunsteling TV-program.  Bevele is links en regs uitgeroep en wee die een wat nie opgevlieg het en sy of haar opgelegte taak gaan uitrig het nie.  Deesdae kyk ek maar nie meer TV nie...dis te frustrerend.  Of ek laai die koffietafel met doengoetertjies vir myself sodat ek tog net nie ledig sit nie.

Seker nie toeval dat ek, na verskeie probeerslae met verskeie werke, in die spysenieringsbedryf beland het nie.  Al sit ek met brandletsels, messnitte, terapiesessies, slaappille in die bedkassie, is dit tog, blyk dit, 'n goeie beroep vir 'n opgewende veer soos ek.  Daar's onmiddellike bevrediging (of ramp).  Daar's rook en vlamme en stoom en kletterende kastrolle.  Daar's oondpanne so groot soos blombeddings wat rondgedra kan word om van oortollige energie ontslae te raak.  'n Mens kan hardloop tussen die stowe en die yskaste.  'n Mens kan vir jou 'n paar bont tekkies koop wat eerder pas by een van daai outjies op MTV wat die hele dag en nag met 'n sonbril loop en Wagter se ketting om sy nek dra.  'n Mens kan torings in jou kar bou met bakke en borde kos en dan kyk hoe vinnig jy daarmee by kliënte kan kom.  'n Mens kan planne maak wanneer 'n kliënt vir jou op nommer 99 laat weet daar is nou 10 ekstra gaste.  'n Mens kan ook ekstra stres in jou dag inwerk as 'n verskaffer die verkeerde goed aflewer en jy moet dit NOU gaargemaak het.  Of as die krag onaangekondig afgaan.  'n Groot gunsteling.

'n Mens kan ook vir jou die vernuftigste tydspaarplanne bedink.  Een van my mees effektiewe planne is om oopmond te stort.  Op die manier kry ek al 'n glas water in sonder dat ek hoef stil te gestaan het om te tap. En dis gou, dan's jy gewoond aan warm water drink.  Die beste, vinnigste ete is 'n wig oorskietpizza of 'n koue aartappel tussen die tande geklem op pad kar toe.  Daar sal wel 'n paar rooi robotte wees waartydens jy rustig kan kou en sluk.  Gesigroom moet nie te duur wees nie, want jy moet 'n goeie blobs daarvan kan vat, tussen die palms smeer, gesig smeer, en dan moet daar genoeg vir hande en elmboë oorbly.  Meng 'n lyfskrop van laventelolie of wat ookal en seesout en was daarmee in die stort.  Dis sommer was en lyfbevogtiging alles-in-een.

Ter afsluiting.  'n Tipiese prentjie van my na 'n wilde spyseniering sal wees waar ek kruisbeen op die kombuisvloer sit, beker tee langs my, aan't eet uit 'n kastrol met 'n teelepel of 'n opskeplepel of wat ookal naby was.  Taai van sweet en stoom.  Ten minste een nuwe spataar bygepop.  Voete wat pols. Skouersenings kort duskant my haarlyn. En hier kom die bieg:  Ek was nie heeltemal eerlik oor nie meer TV kyk nie.  Ons neem die programme op sodat daar geen advertensies wys wat my kan tempteer nie.  En na 'n 18-uur dag of drie, is daar min dinge so salig as horisontaal op die bank onder die TV-kombers.  Al die dag se sweet en drama afgestort.  Maak nie saak wat wys nie.  Maak nie saak of niemand enigiets doen nie.  Eintlik kyk ek nie.  Ek lê net.  En van sit of staan, bly lê die lekkerste.  Veral as jou voete klop.