Ek en Manlief het 'n paar weke terug met sy motorfiets Riversdal toe gery. Nou voor ek die Vryheid van die Pad besing, is daar enkele aspekte rondom motorfietsry wat ek wil uitlig:
Jou helm druk jou wange teen jou sonbril vas dat jy soos die karakter Gormann uit destydse Redding Internasionaal lyk. En hy was 'n marionet.
Jy kan nie oorbelle dra nie. Hulle druk jou mateloos of hulle verloor soos jou ore oprol met die afhaal van die helm.
Stop jy vir koffie of koeldrank langs die pad, stap jy die restaurant in soos 'n meganiese beer met jou rypak - opgestopte knieë en skouers en al. Jy is lekker styf van die ry, so selfs sonder die pak beweeg jy al agterdogwekkend.
Jou hare. Nie 'n mooi storie nie. Plat en in die een of ander vreemde rigting ingesweet.
Jou neus droog die hele tyd uit en jeuk. Dan moet jy met jou dikgehandskoende vingers die helm se visier oplig en jou neus vryf. Daar is rubberveërtjies aan die handskoene (om kammakastig reëndruppels van die visier af te vee) en hulle kan jou neus bitterlik seer maak.
Jy kan nie vrypostig inpak nie. Daar's drie bokse wat aan die fiets vasgemaak kan word. Ek kry op die meeste twee en 'n half bokse vir persoonlike gebruik. En dan moet 'n mens nog onthou van die botteltjies konfyte en dinge wat jy langs die pad koop. Dis die spreekwoordelike logistiese nagmerrie.
In die somer spook jy jouself in 'n sweterige floute in om in die rypak te probeer inkom. Dis 'n kragtoer om in 34°C selfs net die geestelike oortuiging te bereik om te begin aantrek. Ek het hierdie slag gehuil teen die tyd wat ek by die stewels gekom het. Want hulle het gespes en grrrtsband wat die hele tyd skeef gryp. En jy kan nie lekker buk met die broek nie! Die heupe is so gepanser, dis onmoontlik om dieper as 45 grade by hulle verby te buig.
Maar mens! As jy eers jou sit gekry het (ook nie vir sommer net sit nie...), is dit 'n sensoriese, genotvolle reis wat jou te beurt val.
Dis wonderlik om so na aan die pad te ry. 'n Mens is soveel meer bewus van wat om jou aangaan. Temperatuurwisselings voel jy onmiddellik aan. 'n Natterige klofie of selfs 'n rotswand in die skadu op 'n bergpas laat die temperatuur maklik 'n paar grade binne oomblikke val.
En reuke. Dis 'n onbeskryflik heerlike geur-ervaring om tussen fynbos deur te ry. En denneplantasies. 'n Dooie dier of vuilgoedhoop ruik natuurlik nie lekker nie, maar bring nog dimensies, al is dit net tot 'n mens se stille gedagtegang en die alleenspraak daar binne-in jou kopdop.
My man ry tot voor in die koor by stilhou-en-rystoppe. Ja, tot net-net verby die stopteken. Gevolglik sit ek incognito langs die klein, regop waentjie met sy lang radiomas en bekyk en beluister die bedrywighede van die padwerkers van agter my konvekse venster.
Ons ry Langkloof deur huistoe. Net voor Joubertina stop ons by padwerke. Die waentjie hier langs my is bestrooi met leë tweeliterplastiekbottels. Om die trappie sit die maer, jong vrou wat ons uiteindelik moet deurlaat. Anderkant 'n ver berg stulp donker rookwolke deur die warm, vaalblou lug. Oorkant die pad stap nog 'n vrou. Sy is breedgeskouer en dis duidelik nie haar eerste dag langs die pad nie. 'n Dik trui is bo-oor haar oranje oorbaadjie om haar middel gebind. Sy dra 'n breërandhoed en sy hou 'n sigaret tussen haar duim en middelvinger vas. 'Ek wonner wa-it so brand' se die jonger vrou. 'Lyk issa by Haarlem' antwoord die ander. 'n Bakkie vol brandtoerusting kom van agter verby en vra vir die jonger vrou of hulle kan ry. Sy knik. Neem die radio en waarsku in die mooiste, suiwerste Afrikaans dat ''n noodvoertuig in die dienspad verbykom na die brand toe'.
'n Ent verder stop ons weer by 'n so 'n waentjie. Hierdie keer 'n seningrige mannetjie. Na sy aanvanklike ontsteltenis omdat ons sommer indruk voor almal en nogal voor sy stopteken ook, ignoreer hy ons. Die stroom karre wat anderkant deurgelaat is, begin verbykom. Die radio kraak dat die laaste voertuig 'n blou lorrie is. 'n Groot swart vierwielwa kom verby en daarna is dit stil. Ons maer mannetjie spring op die radio en vra weer hoe het die laaste voertuig gelyk. Blou lorrie. 'Ma die laaste was 'n swart fôrbaai!' Hy loop pad toe en begin op sy vingers onthou. Sy kop knik elke keer as hy nog 'n vinger aftel. Na 'n duidelike innerlike debat, neem hy die besluit. Ry maar.
En so ry ons. Dis vrekwarm en die veldbrand se rook praat in ons nostrils.
By Joubertina stop ons en koop water. Ook 'n groot fles groenvyekonfyt. Ons gooi ons water van 'n vorige stop oor die potplante buite die kafee. Te min te laat, maar darem.
Draai op draai tot net voor Kareedouw. Sela. Hier gaan ons oornag. Skaaphond groet ons by die hoofhuis.
Ons slaap in 'n spierwit gerestoureerde huisie met dik mure. Dis koel en donker binne en ons klam, warm voete plak teen die koue kleivloere. Buite is 'n meulklip onder 'n kraan gesit vir 'n voëlbad. Ek trek my swembroek aan en gaan sit kruisbeen binne-in die klipbadjie en draai die kraan oop sodat die koue water oor my skouer vloei. Later die aand sit ons in die donker onder miljoene sterre en luister na die beeste en bespiegel wat die of daai ver liggie is.
Eintlik het 'n mens so min nodig om tevrede te wees.
Tuesday, 11 April 2017
Sunday, 5 March 2017
Die Tanniebrigade
Ons stap elke Vrydagoggend vanaf Ina se huis en eet daarna krummelpap, gemaak van geel mieliemeel, met Bovril en gerasperde cheddarkaas. En ons drink koffie. Onderweë die afstand wat ons loop, word daar natuurlik gekwetter en geswerjoel soos wat net 'n spul vrouens kan doet. Ons stap tot by Bonzabaai se riviermond; adem die skoonheid van oggend en rivier en sand en branders in, luidkeels, en dan verander die konfigurasie en jy stap verder met 'n nuwe drietal vrouens en die praat hou nie op nie.
Ons noem onsselwers die 'Stap-en-Papgroep', en dis wat ons doen, want waar het jy nou al gehoor van 'n Gemobiliseerde Eenheid wat sonder kos kan marsjeer? Oor pap en koffie word liefdadigheidskaartjies verkoop, resepte en nuwe boeke en flieks resenseer, menopouse se keel toegeknoop en onderskeie krose se hoogte- en laagtepunte bejuig of bejammer. Die groep bestaan al 'n goeie drie dekades en is een van daardie wonderlike instellings wat net aanhou en aanhou, maak nie saak wat nie. Dis 'n ondersteuningsnetwerk, digter en sterkter as 'n tennisheining. 'n Vangnet in tye van nood en selfs dood.
Vrydag noem Wendy dat sy van 'n boer weet wat waatlemoene gesaai het en op die ou end minder as 'n kwart van die prys aangebied is as wat die winkelmanne hom aanvanklik beloof het. Ons bestel summier waatlemoene dat die pitte spat. Want ons is deel van groepe mense, en ons kan netwerk.
Ek dink toe by myselwers aan die Tannies van hierdie land van ons. Dis nou die deel van die samelewing wat gaan boeke oortrek by die skool en die Juffrou se verjaardag organiseer en die Lentedagstap se waterpunte beman. Die klomp wat met stasiewa en kombi opdaag om die bloedjies na die museumuitstappie of krieketwedstryd toe te neem. Ja, hulle wat tee bedien by die ouetehuis se Kersfunksie. Wat geskenksakkies vir die Kinderhuis bymekaarmaak. Wat so en so wat nie meer kan bestuur nie, gaan haal, om by so en so se verjaardagpartytjie te wees. Hulle wat 'n sjokolade of sepie met 'n kaartjie gaan aflaai, net omdat hulle aan so en so gedink het.
Ons ken almal die preek van die Prinse en Priesters. Die Prinse moet genoeg geld maak om die Priesters te befonds sodat hulle die volk van priesterskap kan bedien.
Ek dink daar's 'n derde kontingent en ek is so jammer ek het nie meer opgelet na Plato se Republiek op universiteit nie..... ek kan nie onthou of hy van die deel melding maak nie. En ek het die vet weet nie die energie om hom hou te lees nie! Ek praat van die Tanniebrigade. Hulle het nie geld nodig nie. Hulle gee net. Tyd. Empatie. Liefde. Mededeelsaamheid, Geselsies. Sommiges gedy. Sommiges brand uit, en omdat die stelsel hulle nie erken nie, word hulle agtergelaat en hulle raak introverte en sinies.
En soos wat ek nou hier sit en tik, sien ek 'n rooi lig flits - die Tanniebrigade is aan't uitsterf! Ons lewens het so verander, ons werk lang ure en is uitgemens en het skaars tyd om aandete te maak, laat staan tee te bedien! Matriekafskeide gebruik nou spyseniers (en ek is dankbaar, synde een!). Van oral word professionele hulp ingewin waar vrywilligers minder en minder beskikbaar raak. Dis jammer! 'n Verlies. En die grootste verlies is ons eie. Daardie geleentheid om nuwe vriendskappe te smelt. Die bevrediging van iets te beteken het vir jou medemens. En boonop jou eie ondersteuningsnetwerk te bou.
Gister ontmoet ek 'n vrou, besige kleinseuntjie saam met haar, wat vir my honderde koeksisters en melktertjies vir 'n funksie kan bak (hoekom wil mense dit koeksusters spel?!). Ewenwel, so met ons gelsels saam, besef ek die hele buurt se kinders sak smiddaens na skool op haar huis toe, sy is die familie se kleremaakster/-regmaakster en sy't my kom ontmoet so tussen taxi-ry vir kleinkinders en hulle vriende. Nou so 'n vrou, nê, is 'n Generaal in die Tannieleërmag. Klaar.
Ag, en dan klop my hart ook warm vir diegene wat in hulle beroepe lewens aanraak. Dalk het die konfigurasie net weer verander. John Donne, in sy 'Meditation XV11', sê as een man doodgaan, beteken dit nie dat die hoofstuk uit die boek geskeur word nie. Die geskrif kry slegs in 'n beter vertaling. Geen mens is 'n eiland nie. Dus. Dinge het verander. Daar's gewis minder tannies beskikbaar om die gemeenskap met tee en kombis te bedien. Maar laat ons die Amp Der Tannies aanhou eer. En nie bang wees om so nou en dan 'n Tannie te wees nie. Want ons is nie eilande nie en eendag is eendag.....dan gaan 'n Tannie soos 'n reddingsvaartuig op die horison vir ons verskyn. En ons gaan haar waaragtig waardeer.
En mag sy ook eendag 'n Tannie hê om haar te help. Bakpoeierblik. 'n Blikkie in 'n blikkie in 'n blikkie. Ons is nie eilande nie.
Stap ek gisteroggend deur my tuin en sien hoe 'n kapperplant 'n Tannie van 'n chillieplant gekry het om haar te ondersteun.

Sunday, 19 February 2017
Soos die ou Seeman gesê het
My asem het 'n anderhalfjaar gelede opgeraak. Ek het my woema, my fut, my drome, die vuur in my hart verloor. Uit die bloute, heeltemal onverwags, het twee slegte dinge binne 'n week van mekaar met my gebeur.
Ek het permanent met 'n naarte rondgeloop. Ek kon amper niks doen nie. Goeters wat altyd tweede natuur vir my was, het nou onbegonne take geraak. My persoonlikheid het verander. Ek kon nie tussen mense wees nie. Hoeveel keer het ek nie in my kar gery, heeltemal in die verkeerde rigting, en nie geweet hoe ek daar gekom het nie. Musiek het my ontstel. Ek kon nie eet nie, ek kon nie kook nie. Daar was geen ontsnapping nie. Die hartseer in my lyf het my soos 'n stil gif oorheers. Die ontnugtering was 'n swaar mantel wat ek nie kon afskud nie. Ure, selfs dae, het sonder keer wegdreineer terwyl ek met grou oë voor my sit en uitstaar het. Besluite wat geneem moes word, het my soos borrels bly ontwyk. En naderhand was ek so moeg, ek het enige antwoord gegee, net om die vraag te laat weggaan.
Nou, danksy die genadigheid van verbygegane tyd, het ek traksie herwin. Een van die tegnieke om weer by kop-oplig uit te kom, is bewustheid. 'n Belewing van die oomblik, die moment. Jouself die luukse van 'n flerts tyd gun om iets te ruik. 'n Vorm raak te sien. Klank. Wind teen jou wang te voel. Daardie volmaaktheid te ervaar wanneer jou liggaamstemperatuur net reg voel - nie te koud nie, nie te warm nie. Die satynpatina van 'n geliefde houttafel. Kleure.
Van alle kleure is skemer my gunsteling. Dit stem my rustig.
Ons het eenkeer 'n ou huis bewoon terwyl ons hom probeer herstel en mooimaak het. Die een kamer het nou, lang vensters gehad en 'n vloer van breë planke. Dit was 'n groot vertrek vol stilte. Ek het gordyne uit my matriekafskeidrok gemaak ('n mosterdgeel Sari, baie jare gelede gekoop by 'n Game in Durban). Dit het die vertrek altyd soos namiddag laat lyk - die vloer was sepia, die mure dofsaffraan en die skadus die kleur van 'n bergpoel. Ek het dikwels alleen in die vertrek gaan staan en asemhaal. Dit het my gevoel ek kan meer lug inkry, so al of my rug ekstra kon uitsit om my longe meer plek te gee.
Vriende het 'n strandhuis waarheen ons dikwels uitgenooi word. Alhoewel die uitsig oor die see jou asem telkemale wegslaan, is die stil wenteltrap in 'n suil na die westekant my gunsteling. Hier kan jy sit en die dag se laaste hitte ervaar, terwyl die laatmiddag se goud in koper, dan in brons, en uiteindelik, in steenkool verander.
Maar voor dinge te dof en stil klink, wil ek byvoeg dat klassieke kleurkombinasies my ook roer. Dink aan blou en wit: 'n Griekse blokkiestafeldoek of dofblou toile de joey aan't storievertel op 'n romerige wit lap. Donkerblou en wit strepe op 'n t-hemp wat van seevaarte en seiljagte droom. Of 'n Chinese wilgerpatroon, rankend om 'n teekoppie.
Rooi en wit, vrolik soos dit voorkom, het soms 'n ietwat meer sinistêre agtergrond. Die guitige rooi en wit spiraalpatroon buite 'n barbier se winkel, byvoorbeeld:
Gedurende die middeleeue (en nog 'n goeie wyle daarna), het barbiere nie net jou kapsel, baard en snor versorg nie. Hulle het ook tande getrek, luise verwyder en bloedlating beoefen. Laasgenoemde was 'n algemene praktyk om 'n verskeidenheid olikhede te behandel. Maar die kompetisie was straf en ek vermoed die suksesse nie te veel nie, dus moes barbiere ook bemark. Kliënte/pasiënte wat gesond geword het, se bloed is 'n bakke buite die winkels tentoongestel. (Ander wêreld daai - ek lees nou-die-dag van die antieke praktyk om wasgoed te was in publieke trôe vol uriene waartoe almal wat kon, bygedra het. Dankie tog vir OMO!).
Ewenwel - terug by die barbiere. Mense het begin kla oor die stank van die bakke bloed en daar is genadiglik daarmee weggedoen. 'n Paal, wat die stang gesimboliseer het waaraan pasiënte moes vashou sodat hulle are kon bult, is buite die winkels aangebring. En gou was dit 'n baie handige kontrepsie om die verbande wat gewas en gedroog moes word, aan op te hang! Die wind het die stukke lap om die pale gewaai. En daarmee dan die inspirasie vir die rooi en wit paal.
Die Rooikruis se embleem het ook 'n mooi storie. 'n Switser, ene Henry Dunant het in 1859 in die Italiaanse dorpie Solferino beland en met afgryse gesien hoeveel soldate aan hulle wonde beswyk het tydens die Tweede Italiaanse Onafhanklikheidsoorlog. Terug in Genéve het hy 'n boek begin skryf oor sy ervarings. En, soos dit gaan wanneer die tyd reg is vir 'n ding, het sy pleitdooie op vrugbare grond geval, en is die Rooikruis-Organisasie in die lewe geroep. Die soeke na 'n embleem het 'n bietjie kopkrap gevat, want die organisasie moes ten alle koste neutraal in enige oorlog bly. Slim het hulle toe besluit om die reeds neutrale Switserse vlag se kleure om te swaai - en siedaar! Maar dinge het nie daar gebly nie....die Ottomaanse Ryk was nie lekker oor die kruis nie. Hulle het gevoel dit sou Moslemlede van die organisasie afsit. 'n Rooi Turkse sekelmaan-embleem op wit agtergrond het toe langs die Rooikruis begin hang. En toe? Nee jong. Toe is dit het einde nog niet. In 2005 moes die grootgeeste nog 'n vlag uitdink vir diegene wat van nóg kruis, nóg sekelmaan hou. Vlag nommer 3 is gebore: Die Rooi Kristal.
'n Diamantvormige rooi blok op die wit. Mense en hul dinge.....
Ek kan nou nog voortgaan en borduur oor my liefde vir groen - so baie skakerings van hierdie kleur! Maar ko'ns los dit vir 'n ander dag.
En die titel van hierdie storie? Samuel Colerige se Ancient Mariner het mos gepraat van die oggend wat 'n hartseerder, maar wyser man wakker maak. Ek dink wysheid triomfeer genadiglik oor die hartseer. En wysheid, so kosbaar as wat dit is, is gratis - jy moet dit net soek!

Subscribe to:
Posts (Atom)