Ons had 'n paar weke terug groot reën en ook drie van die ses dae winter wat Oos-Londen jaarliks beleef. Dit was heerlik. Maar net so heerlik was die eerste sonskyndag na al die storms - veral omdat dit 'n naweeksdag was.
Ek wikkel toe my voete in my hardloopskoene en hef 'n stywe, krakerige draffie aan. Strepies water lek skuinsdwars oor die pad uit stutmure en keerwalle. 'n Oliereënboog biggel in 'n sinkgat in die middel van die teerstraat wat ek oorsteek. Iemand het dit reggekry om 'n lemoenskil heel te hou gedurende die skilproses. Dit lê soos 'n oranje protea presies in die middel van 'n rooi parkeerstreep voor 'n skool. 'n Entjie verder lê 'n spierwit hoenderbeentjie ook op die rooi streep.
Die sypaadjies voor sekere skole hardloop lekkerder as ander sypaadjies. Hulle is nuut geplavei. Ons het ons kinders lief. Hulle moet nie struikel op pad skooltoe nie.
Ek mik see se kant toe. Oos-Londenners maak graag 'n draai by die see na storms om te sien hoe die magtige waters die strand verander het.
Op die rotse voor die sandstrand sit 'n groepie ouer branderplankryers en kyk na die see. Elkeen versonke in sy eie gedagtes. In stilte sit hulle daar. Ek dink nostalgies aan die dae toe ek my seun na skool gaan oplaai het en dan op sy versoek see-om moes ry sodat hy kon sien of die branders rybaar is. Daar het ons dan parkeer en hy het, soos hulle nou, vir vyf minute woordeloos gesit en kyk na die water. Gedurende daardie vyf minute was daar nie gesprek te voere nie. Net gekonsentreer op die volgende stel branders. Dan kon ons weer ry - óf vinnig huistoe, eet en weer met natpak en plank terugbesorg by die see (in geval van gunstige toestande), óf maar net huistoe met Ma wat op allerhande maniere probeer motiveer dat huiswerk vinnig afgehandel kon word (in geval van ongunstige toestande).
'n Paar jonger brandermanne trek braaf hulle natpakke aan agter klein swart bakkies met blink wieldoppe en plakkers met branders en verwysings na Jeffreys agterop die flappies. Hulle stap met hulle planke onder die blad, natpakke se skouers teruggevou oor die heupe, ritssluitertoue swaaiend soos muissterte deur die sand. Agter die ou manne gaan staan hulle. Weer eens die stil staar na die water. 'n Werklik dappere of twee is reeds besig om in die bruin en beige bonsende kolke te stoei met hulle branderplanke wat telkemale soos orkas uit die water skiet. Hulle word ingevou deur die chaos van room en sjokoladebeslag. Soos borrels op 'n koffiemelkskommel. Kaneel- en mochafrille.
Langs die brandermanne sit twee mans en 'n vrou en gesels. Die vrou trek haar pashmina styf om haar - die sonnetjie mag wel skyn, maar die aarde behou nog die afgelope paar dae se koue.
Kruis en dwars oor die strand hardloop gelukkige honde, baldadig en met wye glimlagte aan't ontslae raak van hulle kajuitkoors. Ons hier is lief vir die see.
Ek begin my terugdraf huistoe.
Verby die restaurant tussen die bome en messegoed wat klink tussen stemme. Ontbyters wat hulle behaaglik aan die stil, helder sonnigheid van die dag verknog.
Langs die opdraend blom 'n Plumbago bleek, maar oordadig. Strelizias staan fier en vlammend blinkgewas. 'n Pekan, afgeëts teen die blou lug, takke swart en neutomhulsels wat vrug afgegooi, maar bly sit het, soos dik blomblare ook swart.
En ek dink by myself soos Louis Armstrong, wat 'n wonderlike wêreld.
Na reën, son.