Die Februariehitte vanjaar meng so met my emosies, hormone en energievlakke dat ek aan niks anders as Salvador Dali se horlosies kan dink nie. Ek kan nie eers behoorlik praat nie. Kliënte probeer tevergeefs 'n gesprek aanknoop. Ek uiter die een non sequitur na die ander. En hoe maak jy dit reg? Wat sê jy na jy 'n totaal buiteverbandelike tros woorde verby jou mond laat glip het? Die gesproke woord is een lewensaspek wat maar net nie tweede kanse gun nie.
Seker die dat ek so veilig voel te midde van die woorde wat uit my pen op 'n papier vloei of op die skerm voor my soos rye miere gestalte kry.
As tiener was ek behep met surrealisme. Terwyl die algemene helde van die tyd Magnum PI, MacGyver en Bobby Dewing was (wie onthou die aanstryk-middelblaaie van Huisgenoot?), het ek in Ray Bradbury 'n held gevind. Sy boek 'The Day it Rained Forever' was een van daai aanskakeloomblikke in my bestaan.
Besluit ek toe om sommer 'n bietjie pret met woorde te hê:
Die vrou op die bed maak tam haar oë oop. Die nag was onuithoudbaar warm en bedompig, soos al die ander nagte die afgelope week. Haar nagklere klou aan haar vas. Haar hare plak in taai slierte teen haar wange en nek. Haar arms en bene jeuk van die sweetspikkeltjies, bedekkend soos 'n nat kors. 'n Dowwe hoofpyn vou homself om haar skedel. Soos sy begin fokus in die skemer kamer, besef sy dat dinge nie pluis is nie.
Die kasdeure. Die KASDEURE!
Aanvanklik sien sy net die openinge bo die kasdeure waardeur die donker spelonk van die binnekant sigbaar is. Sy lig haarself op haar elmboog. Die kasdeure hang skeef. Ongelowig staar sy.... Die panele hang....soos drapeersels op die grond. Asof hulle in gordyne verander het. Kasdeurvoue lê gerol en geplooi op die vloer.
Verdwaas sit sy regop. Bewus van 'n ploep, ploepgeluid vanuit die vensters se rigting. Sy draai haar gesig na die vierkant lig agter die gordyne. Dit lyk asof daar water onder die gordyne uitloop. Reën dit? Sy stap venster toe en trek die gordyne stadig oop. Die glas riffel eienaardig voor haar oë, asof dit beweeg. 'n Vinnige asemteug van skrik. Ja, werklik, dit is so. Die glas is besig om soos ys te smelt. In fyn rivier-aartjies vloei dit oor die vensterbank tot op die vloer. Sy vryf haar vinger daardeur. 'n Lagie gesmelte glas blink op haar vel. Buite hang die tuinmuur en -hekkie soos 'n pap wasgoedlyn.
Sy draai om. Vang haar blik in die spieël. 'n Gil. Haar hand gryp teen haar bors. Die refleksie wat na haar staar is 'n mengelmoes van kleure en patrone. 'n Termiese beeld. Hand op die bors en al. Hoe lank sy na dié onwerklikheid staan en staar, is onbelangrik.
Sy dwaal in die gang af. Skilderye hang soos vadoeke aan hulle hake. Die kat kom uit die kombuis gehardloop. soos elke oggend, om sy kos te gebied (soos 'n kat dit doen). Die vrou leun lighoofdig teen die gangmuur. Die kat het ook 'n termiese beeld geword. Sy gepluimde stert die ene bloue en groene. Pers oë.
Soos 'n slaapwandelaar reik die vrou na die blik waarin die kat se kos gehou word. Die blik vervorm soos 'n plastiekbakkie met warm sop in 'n mikrogolf. Na moeite kry sy die deksel af en voer die kat.
'n Gelatenheid spoel meteens oor haar. 'n Mens kan aan enigiets gewoond raak.
Sy steek haar reënbooghand uit na die ketel vir koffie. Die ketel se handvatsel trek soos 'n stuk warm kougom in 'n lang lus.
Fluit, fluit my storie is uit. Sommer 'n bietjie verbeeldingsgimnastiek/-gomlastiek. As gevolg van die hitte.
En volgens Dali was die inspirasie vir sy smeltende horlosies nie Einstein se Relatiwiteitsteorie nie, maar 'n Camembert wat in die son vergeet is en begin smelt het. Nou weet ons almal dit sommer ook.
Saturday, 22 February 2014
Wednesday, 5 February 2014
Die blou berg moet ek oor....o, die blou berg moet ek oor....
Ons vat ons jongste Kaap toe om te gaan studeer. Die
hartseer lê soos 'n klip in my gees. Die onafwendbaarheid van die lewe
wat sy gang moet neem. Ek lek aan 'n eksistensiële krisis soos 'n hond
aan 'n seerplek.
Klim ons in die kar. My kind lyk skielik so broos. En opgewonde. Langs haar op die agterste
sitplek is 'n perdesaal, 'n saksofoon en haar eie bed se twee kussings.
Die waentjie se pens hang van beddegoed, huisraad, voorraad vir elke
gebeurtelikheid waaraan die neurotiese ma kon dink: Vetkolle op klere.
Keelseer. Ons het 'n bietjie baklei tydens die inpakkery, want sy
wou die Santoku inpak. My kind weet nie hoe om kos te maak sonder 'n
behoorlike mes nie.
By Port Alfred kry ek 'n geniale plan. Ons gaan hierdie
bittersoet reis aanpak met die sterkste medikasie aan die mensdom bekend:
sjokolade. Die toer word sonder enige teëstribbeling tot
sjokoladebruintjie-proe verklaar. En nou wil ek ook net sê dat
'sjokoladebruintjie' 'n besimpelde woord is. Skuus, maar so graag as wat
ek hierdie blog suiwer Afrikaans wil hou, gaan 'choc brownie' maar hier moet
doen. Netnou dink iemand straks ons praat van 'n hawermout- en
bruinsuikeraffêretjie.
Die eend op my skouer (ek het mos ‘n aaneenlopende gesprek met
Breytenbach se swart eend) kwaakfluister dat die tabberts wat ingepak is vir
die naweek alreeds op hulle limiete oor my dye span. Enige verdere onnodigheid per mond mag
moontlik behoorlike longfunksie belemmer.
Ek klap daai eend dat hy op die medisynesak in die waentjie
land. Dis nie nou die tyd vir ligtelike
praatjies nie. Ons moet die grofgeskut
ontplooi.
Root 72 in Port Alfred se brownie kom in 'n kardoessakkie.
Dis hemels. Dis 'n dikketjie, maar nie 'n blok nie. Daar's
min meel in, baie neute en skerwe sjokolade wat as skatte in die blokkie opduik
soos ekstra ekstra ekstras. En omdat dit (lyk my) omtrent net botter,
sjokolade, eiers en neute bevat, is dit bros, maar nie koekierig nie. Dit
smelt in die mond. Ons voel algar onmiddellik beter.
Kenton-on-Sea in met onse trek. Hou in gedagte
dat ons 'n dubbelbed en -matras bo-op die waentjie vasgebind het. Afgerond met twee
waterski's waarvan ons die stewels in die Kaap wil laat herstel. Die hele boksemdaais is met 'n ontsettende lang blou en wit nylontou toegeweef. Crema in
Kenton bedien 'n brownie van Lindtsjokolade. En nie baie ander byvoegsels wat die aandag van hierdie luukse kan aftrek nie. Die verkoopsdame maak 'n karamelsjoksousie vir ons warm in 'n blink
kastrolletjie. G'n nikse mikrogolf hier nie. Die blokkie word
verpak in 'n polistireenbakkie met die sousie in sy eie bakkie en 'n blobsie
créme fraiche. Ons dra dit kar toe in 'n plastieksakkie wat soos
gevriesde lichi lyk en saggies kraak. Eet met ons vingers. Die
créme fraiche is aanvanklik 'n effense skok, maar dan raak dit nodig. Die
blokkie is ryk. Baie ryk. Dis soos diepdigte fondant. En, soos
elke opreggeteelde poedingeter weet, bevat fondant 'n ekstra voordeel: Jy
kan dit 'n halfuur later nog van jou tande aflek. Hierdie brownie is so.
Ons snak na onse asems toe ons die Rooigety in Port Elizabeth
sien. Soos bloed lê die baai langs ons. Dis neerdrukkend. Ons
benodig sjokolade. Ons parkeer ons trek met moeite voor VovoTelo. Hulle
bruintjie is meer koekerig, nogal 'n dik blokkie en die neute is 'n bietjie
sag. Maar: Dit word saamgestuur in
'n boksie met hulle oulike stempel. En verpakking tel punte in my boekie. Ek dink hierdie brownie sal in 'n lieflike biscotti omskep kan word.
Die Watsonias blom somber oranje langs die dubbelpad buite PE.
Ons luister na Queen. Friends will be friends....My kind lê op haar
kussings bo-oor haar saal en staar na die kar se dak. Ek kyk by die venster uit. Die veld is groen na al die reën wat ‘n ruk
terug geval het. Tyd vliet onverpoosd
verby. Verby.
By Sao Goncalo's duskant Plett koop ons weer ‘n brownie. Die grootste een tot
dusver. Ek sou dit dalk meer as ‘n sjokoladekoek
beskryf. ‘n Laag roomkaas is in die
beslag ingebak en loop soos ‘n rotsneerlaag deur die koek. Sjokoladeganache rojaal bo-oor gesmeer. Ons kry hom in ‘n polistireenbakkie.
Ons halt vir die nag by Ouma op Stilbaai. Nee dankie vir soetgoed saam met die
koffie.
La Bella net buite Riversdal se brownie die volgende oggend kom saam met
instruksies: maak hom ‘n bietjie
warm. Baie billik geprys ook. Ons druk hom so flussies in ander Ouma en
Oupa se oond. Baie interessante een
hierdie: Daar’s kaneel in en hy is heerlik
swaar en klam en tjok en blok vol neute.
Dus voel mens so ‘n bietjie asof jy vrugtekoek eet.
Die reis duur voort. Ons
lag vir twee plaashonde agterop ‘n bakkie net buite Heidelberg. Die een blaf die hele tyd en irriteer
duidelik die ander een. Tot laasgenoemde
afhaak en die blaffer ‘n byt aan die oor gee.
Oral langs die pad oefen fietsryers.
Dis mos een van die dae die Argus.
Peregrine Plaasstal in die Houwhoekpas se brownie kom weer in ‘n
kardoesie en is donker en luuks en lekker bitter. Ek bespiegel of hulle dalk suikerstroop oorgooi wanneer die pan uit die oond kom. Hulle toilette is ook baie mooi met vars
Krismisrose.
Dan verskyn Valsbaai. My
hart. My keel. Dit voel of my hele wese wil omdraai en
teruggaan. Waarheen teruggaan weet ek
eintlik nie. Ons ry saam met die
Saterdagverkeer Stellenbosch binne. ‘n
Nuwe lewensfase breek vir ons almal aan.
Ter nagedagte en ter afsluiting:
Ons laaste proe so met die stil en ingedagte terugry vind ons by
Tredici, Swellendam. ‘n Mooie plek. En ‘n soete, vertroostende, blokkie
smelt-in-die-mond. Soos ons heel eerste
brownie in Port Alfred, is hierdie een vol goeie sjokolade, met min meel en
baie neute. En versiersuiker soos sneeu
bo-oor gesif. En daarby in ‘n netjiese
wit boksie. Soos ‘n kleinood. Goeie hartmedisyne.
Subscribe to:
Posts (Atom)