Tuesday, 11 April 2017

Tweewiel Riversdal toe

Ek en Manlief het 'n paar weke terug met sy motorfiets Riversdal toe gery.  Nou voor ek die Vryheid van die Pad besing, is daar enkele aspekte rondom motorfietsry wat ek wil uitlig:
Jou helm druk jou wange teen jou sonbril vas dat jy soos die karakter Gormann uit destydse Redding Internasionaal lyk.  En hy was 'n marionet.
Jy kan nie oorbelle dra nie.  Hulle druk jou mateloos of hulle verloor soos jou ore oprol met die afhaal van die helm.
Stop jy vir koffie of koeldrank langs die pad, stap jy die restaurant in soos 'n meganiese beer met jou rypak - opgestopte knieë en skouers en al.  Jy is lekker styf van die ry, so selfs sonder die pak beweeg jy al agterdogwekkend.
Jou hare.  Nie 'n mooi storie nie.  Plat en in die een of ander vreemde rigting ingesweet.
Jou neus droog die hele tyd uit en jeuk.  Dan moet jy met jou dikgehandskoende vingers die helm se visier oplig en jou neus vryf.  Daar is rubberveërtjies aan die handskoene (om kammakastig reëndruppels van die visier af te vee) en hulle kan jou neus bitterlik seer maak.
Jy kan nie vrypostig inpak nie.  Daar's drie bokse wat aan die fiets vasgemaak kan word.  Ek kry op die meeste twee en 'n half bokse vir persoonlike gebruik.  En dan moet 'n mens nog onthou van die botteltjies konfyte en dinge wat jy langs die pad koop.  Dis die spreekwoordelike logistiese nagmerrie.
In die somer spook jy jouself in 'n sweterige floute in om in die rypak te probeer inkom.  Dis 'n kragtoer om in 34°C selfs net die geestelike oortuiging te bereik om te begin aantrek.  Ek het hierdie slag gehuil teen die tyd wat ek by die stewels gekom het.  Want hulle het gespes en grrrtsband wat die hele tyd skeef gryp.  En jy kan nie lekker buk met die broek nie! Die heupe is so gepanser, dis onmoontlik om dieper as 45 grade by hulle verby te buig.

Maar mens!  As jy eers jou sit gekry het (ook nie vir sommer net sit nie...), is dit 'n sensoriese, genotvolle reis wat jou te beurt val.

Dis wonderlik om so na aan die pad te ry.  'n Mens is soveel meer bewus van wat om jou aangaan. Temperatuurwisselings voel jy onmiddellik aan.  'n Natterige klofie of selfs 'n rotswand in die skadu op 'n bergpas laat die temperatuur maklik 'n paar grade binne oomblikke val.
En reuke.  Dis 'n onbeskryflik heerlike geur-ervaring om tussen fynbos deur te ry.  En denneplantasies.  'n Dooie dier of vuilgoedhoop ruik natuurlik nie lekker nie, maar bring nog dimensies, al is dit net tot 'n mens se stille gedagtegang en die alleenspraak daar binne-in jou kopdop.
My man ry tot voor in die koor by stilhou-en-rystoppe.  Ja, tot net-net verby die stopteken.  Gevolglik sit ek incognito langs die klein, regop waentjie met sy lang radiomas en bekyk en beluister die bedrywighede van die padwerkers van agter my konvekse venster.
Ons ry Langkloof deur huistoe.  Net voor Joubertina stop ons by padwerke.  Die waentjie hier langs my is bestrooi met leë tweeliterplastiekbottels.  Om die trappie sit die maer, jong vrou wat ons uiteindelik moet deurlaat.  Anderkant 'n ver berg stulp donker rookwolke deur die warm, vaalblou lug.  Oorkant die pad stap nog 'n vrou.  Sy is breedgeskouer en dis duidelik nie haar eerste dag langs die pad nie.  'n Dik trui is bo-oor haar oranje oorbaadjie om haar middel gebind.  Sy dra 'n breërandhoed en sy hou 'n sigaret tussen haar duim en middelvinger vas.  'Ek wonner wa-it so brand' se die jonger vrou.  'Lyk issa by Haarlem' antwoord die ander.  'n Bakkie vol brandtoerusting kom van agter verby en vra vir die jonger vrou of hulle kan ry.  Sy knik.  Neem die radio en waarsku in die mooiste, suiwerste Afrikaans dat ''n noodvoertuig in die dienspad verbykom na die brand toe'.
'n Ent verder stop ons weer by 'n so 'n waentjie.  Hierdie keer 'n seningrige mannetjie.  Na sy aanvanklike ontsteltenis omdat ons sommer indruk voor almal en nogal voor sy stopteken ook, ignoreer hy ons.  Die stroom karre wat anderkant deurgelaat is, begin verbykom.  Die radio kraak dat die laaste voertuig 'n blou lorrie is.  'n Groot swart vierwielwa kom verby en daarna is dit stil.  Ons maer mannetjie spring op die radio en vra weer hoe het die laaste voertuig gelyk.  Blou lorrie.  'Ma die laaste was 'n swart fôrbaai!' Hy loop pad toe en begin op sy vingers onthou.  Sy kop knik elke keer as hy nog 'n vinger aftel.  Na 'n duidelike innerlike debat, neem hy die besluit.  Ry maar.
En so ry ons.  Dis vrekwarm en die veldbrand se rook praat in ons nostrils.
By Joubertina stop ons en koop water.  Ook 'n groot fles groenvyekonfyt.  Ons gooi ons water van 'n vorige stop oor die potplante buite die kafee.  Te min te laat, maar darem.
Draai op draai tot net voor Kareedouw.  Sela.  Hier gaan ons oornag.  Skaaphond groet ons by die hoofhuis.
Ons slaap in 'n spierwit gerestoureerde huisie met dik mure.  Dis koel en donker binne en ons klam, warm voete plak teen die koue kleivloere.  Buite is 'n meulklip onder 'n kraan gesit vir 'n voëlbad.  Ek trek my swembroek aan en gaan sit kruisbeen binne-in die klipbadjie en draai die kraan oop sodat die koue water oor my skouer vloei.  Later die aand sit ons in die donker onder miljoene sterre en luister na die beeste en bespiegel wat die of daai ver liggie is.

Eintlik het 'n mens so min nodig om tevrede te wees.